Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Baljaar in die Bokkeveld

Jacques Marais en sy gesin was lanklaas in die geweste van die Bokkeveld, en het daarom nie gehuiwer om ’n gasteplaas buite Ceres te gaan besoek nie.

Die kampeerplekke van die Petervale-gasteplaas buite Ceres is reg op die rand van ’n yslike plaasdam, en dit is perfek vir langasemswem of roei in een van die plaas se kano’s. Foto’s: JACQUES MARAIS

Dié wegsteekstreek strek ongeveer vanaf die Wynlande tot teenaan die Cederberge. Daar is ’n paar dorpe om te gaan besoek as jy daardie kant toe mik.

Ceres, reg in die middel van die sagtevrugte-landboustreek, is redelik bekend vir kersiepluk, sneeukyk, kabelsweef, stap en fietsry.

Tulbagh lê net om die draai, en is Suid-Afrika se vierde oudste dorp. Klaarblyklik kruip daar ’n Jona hier êrens teen die hange van die Witzenberge weg, want daar was nou al twee natuurrampe hier.

Die eerste was ’n orkaan in 1822, gevolg deur ’n aardbewing in 1969. Die goeie nuus is dat die meeste van die historiese geboue in die dorpie liefdevol herstel is.

Ons was jare laas in die omgewing, en daarom het ek nie vir ’n sekonde gehuiwer toe vriende ons nooi om ’n bietjie bos te gaan by Petervale se lekker kampplek nie.

Dié gasteplaas sowat 10 km buite Ceres is die rustigheid vanself en die eienaar maak seker niemand speel enige musiek nie – selfs nie op ’n selfoon nie – sodat mens die voëls en paddakoor kan hoor.

Een van die outentieke Indiaanse tepee’s waar jy kan oornag.

Omdat ons net vir ’n aand kon kuier, het ons besluit om sommer in een van die outentieke Indiaanse tepee’s te oornag. Dit was die lekkerste lekker vir die kinders, want hulle kon ’n Krismisbed maak en vir Klaas Vakie wag terwyl die ooruil in die dennebome bokant ons gesels . . .

Die kampeerplekke is reg op die rand van ’n yslike plaasdam, en dit is perfek vir langasemswem of roei in een van die plaas se kano’s. Verder kan jy jou visstok bring en vir swartbaars hengel; dis nou te sê indien jou voete nie jeuk nie . . .

Ruwe rante en voetheuwels verrys sommer op jou drumpel, en jy kan binne ’n halfuur die berge in verdwyn. Een van die mikro-avonture op Petervale wat jy definitief nie wil misloop nie, is “God se bad”. ’n Vinnige maar redelik steil staproete kronkel die klipkoppe in tot waar die sogenaamde God’s Bathtub na sowat ’n halfuur op jou wag. Die pragpoel is omtrent so groot soos ’n gemiddelde swembad, met ’n waterval wat goed 10 m tot in die donker water in plons.

Dit is net die plek om kaalbas te stort (maak net seker jy is op jou eie!), of om ’n waaghalsige sprong van die rand van die waterval aan te durf. Ons het probeer om tot op die bodem te duik, maar die poel is sommer ordentlik diep!

Ja-nee, die Koue Bokkeveld en Witzenberge sorg vir ’n buitelug-speelterrein soos min, so doen jouself ’n guns en gaan kamp by Petervale.

Die hadidas raas nou wel soggens, maar magtag, dis darem baie beter as die verkeer, sirenes en jou buurman se blaarblaser.

Geen stres. Geen geraas. Natuur so ver jy kan sien. Ablusies met vuurwarm storte. Vars water en hout. En jy kan daar kom met enige sedanmotor. Gaan loer gerus by www.petervale.net vir inligting en om plek te bespreek.

Nuttige inligting

Hoe kom jy daar? Vanaf Kaapstad: Volg die N1 vir sowat 90 km tot by Rawsonville. Draai hier links op die R43 (jy gaan bo-oor die snelweg) en bly ry vir nog 44 km tot by Ceres. Tulbagh is 26 km noordwes op die R46.

Beste tyd van die jaar om te besoek? Reg deur die jaar – die somers is warm en in die winter is daar sneeu op die berge.

Verblyf: Daar is hope verblyfopsies op die Tulbagh- webwerf – www.tulbaghtourism.co.za.

Doendinge
  • Wanneer laas het jy ’n koei gemelk? Kinders is welkom om Petervale se plaasdiere te voer, of om in die koeistal handjie by te sit tydens melktyd. Dis mos nou behoorlik plaas! Meer inligting: www.petervale.net
  • Ceres Zip Slide Adventures bied ’n opwindende kabel-sweefavontuur met 1,4 km se suiwer adrenalien. Die roete bestaan uit agt onderskeie kabels, van 100 m tot amper 300 m lank, en is veilig vir die hele gesin. Hierdie buitelugavontuur vind plaas in die skouspelagtige berge reg op die rand van Ceres.
    Meer inligting: www.ceresadventures.co.za 
  • Bekwame bergfietsryers kan hul staal gaan wys op die Tulbagh “Bone Trail”. Maak egter seker jy is fiks en vars, want hierdie is ’n lekker moedswillige trap deur die Witzenbergrante. Die roete is meesal enkelspoor en begin by Manley Wine Lodge. Meer inligting: www.manley­winelodge.co.za
  • Watersport: Voëlvleidam is ’n ideale plek om te hengel, seil of roei. Meer inligting: www.silwerfontein.com
  • Wynproe: Daar is sommer heelwat wynkelders om van te kies en keur in die skouspelagtige Tulbagh-vallei.
    Meer inligting: www.tulbaghwineroute.com
  • Eet: Paddagang Eethuis & Fijne Wijne in die historiese Kerkstraat is een van vier oorspronklike KWV-wynhuise en bedien watertand- Kaap-Hollandse kos. Meer inligting: www.tulbaghtourism.co.za

Meer oor:  Tulbagh  |  Ceres  |  Stap  |  Gasteplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.