Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Breek weg na die Koejawelhuisie

Omring deur ’n koejawelboord en met die Olifantsrivierberge op die agtergrond, bied hierdie gerestoureerde kothuis op ’n plaas buite Porterville ’n idilliese wegbreek, skryf Malani Venter.

So by my koejawel!Weggesteek in ’n koejawelboord vind jy die Koejawelhuisie buite Porterville. Dit is ’n selfsorgkothuis wat heerlik in die winter of somer is. Inlas bo:Die kombuis laat jou dink aan ’n idilliese plaaskombuis en is ten volle toegerus. Heerlike kuiers wag om dié tafel by die binnebraai.Inlas onder: Die slaapkamer in die Koejawelhuisie. Hier kan vier mense oornag. Foto’s: MALANI VENTER

’n Opgeknapte wit kothuis steek kop uit tussen hordes koejawelbome soos jy met die plaaspad, sowat 7 km via die R44 (as jy van Kaapstad en Stellenbosch se kant kom) voor Porterville, aangery kom.

Die Olifantsrivierberge staan fier op die agtergrond. In die verte hoor jy die plaasgeluide – trekkers wat terugry store toe, plaaswerkers wat gereedmaak om naweek te hou.

’n Swart plaaskat loer sku om dié selfsorgkothuis, en kom eers weer later die aand terug wanneer die braaivleisvuur brand.

Die gasvrou, Kathy du Plessis, verwelkom my met ’n varsgebakte plaasbrood onder die arm en ’n potjie selfgemaakte koejawelkonfyt. Die plaasbotter staan goudgeel op die kombuistafel en wag.

Kathy het dié voormalige plaaswerkershuisie opgeknap in ’n rusplek waar vier mense kan oornag. Die huisie is slim ingerig en bied alles wat jy nodig het. Die oopplankombuis is volledig ingerig (yskas, mikrogolfoond, tweeplaatstoof, binnebraai en ’n eetkamertafel) – en jy hoef geen eetgerei saam te bring nie.

Bring net jou eie kos. Laat weet haar vroegtydig as jy ’n braaipak wil hê. ’n Dubbelslaapbank is in die kombuis/leefruimte – netjies en uit die pad vir wanneer jy kos maak. In die kamer langsaan is ’n dubbelbed en ’n badkamer.

Die kombuis laat een dink aan ’n idilliese plaaskombuis en is ten volle toegerus. Heerlike kuiers wag om dié tafel en binnebraai.Foto: MALANI VENTER

Op die stoep sal jy twee kratte braaihout (koejawelstompies) kry – genoeg vir die braaivleisvuur en om die KolKol-swempoel warm te stook.

Die slaapkamer in die Koejawelhuisie. Hier kan altesaam 4 mense oornag. Foto: MALANI VENTER

Wanneer die son se laaste strale agter die Olifantsrivierberge verdwyn en die donkerte soos ’n mantel oor die plaaswerf val, is dit asof die stilte jou ore laat tuit. Jy verkyk jou aan die duisende sterre wat skielik so naby voel.

Jy mis glad nie ’n TV of die gepiep van jou selfoon nie – hier gesels jy om die vuur, of jy kan luilekker lê in die warm waterpoel wat hemels in die winter is.

Hier is verskeie dinge om te doen op die plaas – soos swem in die plaasdam, voëlkyk, bergfietsry, visvang in enige van die drie damme, plaas verken of net ontspan op die stoep.

Die plaas is natuurlik ook die ideale oornagplek as daguitstappies na Porterville en die omgewing wil onderneem.

Meer inligting: Kontak Kathy by 083 955 4081 of e-pos, dedraai@ breede.co.za.

Doendinge en plekke wat jy in die omgewing kan besoek

Heerlike gebak is te koop by Porterville se plaasmark. Kom maak hier ’n draai as jy van die heerlike lekkernye en vars groente en vrugte van die omgewing wil koop. Foto: MALANI VENTER

1.Die Groot Winterhoek-­ wilder nisgebied

Om hier uit te kom, ry jy uit die dorp in die teenoorgestelde rigting as Kaapstad en draai links by die afdraai vir Cardouw (sowat 5 km). Daarna volg jy die grondpad in die rigting van die Dasklippas en volg die padtekens tot by die kantoor wat bo-op die berg is. Die gebied is veral bekend vir die besonderse fynbos en natuurlewe wat hier voorkom. Daar is verskeie dag- en oornagstaproetes, bergpoele, fietsroetes en ook rotstekeninge in die gebied.

Die kunswerke is dié van die San en Khoi wat voorheen in die gebied gewoon het en is tussen 300 en 600 jaar oud. Die gebied het ook ’n waterpoel wat as Die Hel bekend staan.

Meer inligting: Skakel die Groot Winterhoek-wildernisarea by 022 931 2860 of CapeNature by 021 483 0190.

2. Watervalle vir Afrika!

Net buite die dorp is die plaas Waterval, wat die begin van die 22-watervalroete is. Op dié roete is talle bergpoele en watervalle.

By Waterval kan jy kampeer of ’n huisie vir die naweek huur – gaan stap die roete wat jou na die 22 watervalle lei. Op dié roete is inheemse fynbos, wild en verskeie voëls.

Bergfietsryers kan hul fietse saambring om op die bergfietsroetes te ry. Die volle sirkelroete is egter nie vir die onfikses bedoel nie.

Dié wat kans sien daarvoor, word beloon met ’n pragtige uitsig op die hele gebied.

Naby Beaverlac, ’n kampeerterrein in die berg, is ’n bergpoel, die Ratel- en die Olifantsrivier en talle watervalle.

Dié kampeerterrein word beskryf as een van Suid-Afrika se top-kampeerplekke en is bekend vir sy landelike en rustige omgewing. Dis veral vir besoekers wat ’n ware buitelug-ervaring soek.

Die rivier vloei deur rotsformasies in poele en watervalle. Mense wat nie wil kampeer nie, kan een van die hout- of kliphuisies bespreek. Daar is ’n snoepie.

Onthou egter dat die kampeerterrein net vir 2x4/4x4-voertuie geskik is.

Meer inligting: Waterval 082 878 1358 | Beaverlac 022 931 2945 | beaverlac.kantoor@gmail.com | www.beaverlac.co.za

Die pad na Porterville se plaasmark.Foto: MALANI VENTER

3. Valskerm- en hangsweef

By die bopunt van die Dasklip-pas word veral valskerm­sweef en hangsweef beoefen. Toernooie vir dié sportsoorte word gereeld hier aangebied.

Die Flyers’ Lodge is nie net die seisoenale vliegsentrum vir internasionale hangsweef- en valskermvlieëniers nie.

Dit is ook die plek vir die avontuurlustige reisiger, wat baie ander doendinge in en om Porterville kan geniet. Hier is agt luukse dubbelkamers, twee enkelkamers en geriewe vir rugsakreisigers.

Alle pryse sluit ontbyt in; aandete en middagete is op aanvraag beskikbaar. Hier is ook gratis WiFi.

Meer inligting: 022 931 3416 | paraglide@telkomsa.net | www.porterville.co.za

4. Oe la la, jou olyf!

Andante-olyfolies word op die Wêreldsgeluk-olyfplaas naby Porterville vervaardig. Besoekers hier sal die verskillende olyfolies kan proe.

Meer inligting:info@andanteoliveoil.co.za | www.andanteoliveoil.co.za

Die Hel, ’n waterpoel wat ongeveer 15 m diep is in die berge naby Porterville. Foto: ARGIEF

5. Vyevreugde!

Figfun is die geesteskind van Karin Knoetzen en haar skoonma, Petro, wat ’n blink plan gemaak het met die vye op hul plaas wat nie vir die uitvoermark geskik is nie.

’n Reeks produkte word uit hierdie vye vervaardig en word tans in verskeie kettingwinkels in die Kaapstad verkoop.

Meer inligting: 022 931 3201 | 083 320 7389 | info@figfun.co.za | www.figfun.co.za

6. Pure boereplesier!

Die Porterville-boeremark word elke Saterdagoggend gehou. Hier kan jy vars groente, vrugte en gebak van die omgewing koop.

Dit is ook ’n heerlike kuierplek – waar jy rustig kan rondloop tussen al die lekkernye, en die gebak en boeretroos langs die sitrusboorde kan geniet, terwyl die kinders op die ponieritte geneem word.

Hier word ook ’n Farm Run and Walk (soortgelyk aan ’n Park­run) oor 5 km aangebied. Dit begin om 08:00.

Waar is dit? Die mark word op die plaas Houdconstant gehou.

Die aanwysings soontoe is: Ry die dorp binne (via die R44) draai af in Bassonstraat en ry verby die Hoërskool Porterville.

Draai daarna af op die eerste grondpad aan jou regterkant. Jy sal die kennisgewingborde na die mark sien.

Hoe laat? Die mark is van 09:00 tot 14:00 | die “koskroeg” begin om 08:00 tot 14:00.

Meer inligting: www.portervillemarket.co.za.

Interessante dinge
  • Porterville is in 1863 gestig nadat Frederick John Owen, een van die oorspronklike 1820-setlaars, sy plaas, Pomona, in erwe onderverdeel het en die dorp na die destydse gewilde prokureur-generaal van die Kaap, sir William Porter, genoem het.
  • Die streek is oorspronklik bewoon deur stamme van die San (Boesmans) – eeue voor die aankoms van die Hollandse setlaars. In die berge hier is nog talle oorblyfsels van die verlede, waarvan die rotskunsskildery van ’n seilskip in die Groot Winterhoekberge (op private grond) oos van Porterville die raaiselagtigste is.
  • Die streek is bekend vir die skaars rooi disa (Disa uniflora) wat hier voorkom. Dit is die enigste plek in die land waar hierdie blomme in die natuur gesien kan word.  Die skaarsste is die swaelgeel disa, wat slegs in een klein kolonie by Porterville voorkom.
  • Die kronkelende Dasklippas neem jou na die Groot Winterhoek-wildernisgebied buite die dorp – en dit is hier waar jy in die somer die rooi disas kan sien. 
  • Die reservaat beslaan 30 608 ha en sluit seldsame en bedreigde endemiese plantsoorte in. Hier is ook verblyf.

    Bron:

    www.portervilletourism.co.za

    Skakel Porterville se toerismekantoor by 022 931 3732 vir meer inligting of

    www.portervilletourism.co.za.

Meer oor:  Porterville  |  Doendinge  |  Reis  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.