Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die romanse agter navorsers se naamkeuses

Twee Suid-Afrikaanse spesies is onlangs vernoem na die geliefdes van navorsers wat by die ontdekking daarvan betrokke was, vertel Engela Duvenage.

Prof. Charles Griffiths en sy vrou, Roberta, op ’n kanovaart in Valsbaai op soek na nog voorbeelde van die seegarnaal wat na haar vernoem is. Foto: CRAIG FOSTER

Naamgewing is net so ’n gewigtige saak vir die ontdekkers van nuwe spesies, gesteentes of minerale as wat dit is vir ma’s en pa’s wat moet besluit wat hul kleingoed gedoop moet word.

’n Nuwe plant, insek of diertjie sal dikwels vernoem word na die landstreek waarin dit voorkom of op grond van een of ander uitstaande fisieke kenmerk.

Ander kere word ’n spesifieke persoon se naam aan ’n nuwe ontdekking gekoppel. Op hierdie manier is talle politici, navorsers en selfs rocksterre en aktrises se name al oor die jare in wetenskaplike anale verewig.

Suid-Afrikaners word hierby ingesluit. Talle plant- en dierkundiges is al op hierdie manier deur hul kollegas erken.

Oudpres. Nelson Mandela se naam is al dikwels gebruik, onder meer vir ’n prehistoriese soort houtkappertjie en ’n spinnekop. Die skrywer André P. Brink se naam word onthou in dié van ’n Noord-Kaapse spinnekop, Evarcha brinki.

Onlangs het twee senior navorsers – die een ’n plantkundige en die ander ’n kenner van lewe in die see – op hierdie manier heel romanties erkenning aan die liefdes van hul lewe gegee.

Prof. Ladislav Mucina en sy vrou, Dagmar. Foto: MARTIN FREY

Die Slowaakse plantkundige prof. Ladislav Mucina, vroeër verbonde aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite, het ’n fyn, pienkerige papierblom uit die Weskus na sy vrou, Dagmar, vernoem.

Op sy beurt het prof. Charles Griffiths, emeritus-professor van die Universiteit van Kaapstad, sy vrou, Roberta, se naam gekoppel aan ’n soort seegarnaal wat in Valsbaai lewe.

In die meer as 40 jaar wat die Mucinas getroud is, was die professor nog altyd in die navigatorsitplek die kere wat Dagmar as chauffeur en logistieke koördineerder opgetree het. Dis omdat hy nooit leer bestuur het nie!

Mucina het onder meer etlike jare lank klas gegee aan die Universiteit Stellenbosch en is hoofskrywer van ’n onlangse atlas oor die plantegroeistreke van Suid-Afrika, Lesotho en Namibië.

Sy fassinasie met papierblomme het in sy jong dae begin toe hy plante op Griekse eilande bestudeer het.

“Dagmar verduur al jare al my goeie en slegte kante en is altyd aan my sy tydens my botaniese ekskursies agter nuwe plantspesies aan,” het Mucina vanuit Perth in Australië laat weet waar hy deesdae sy navorsingswerk voortsit.

“Om ’n spesie na haar te vernoem, is die minste wat ek kon doen om vir haar behoorlik dankie daarvoor te sê.”

Hy het die nuwe spesie, Limonium dagmarae, die eerste keer reeds in volle blom in Oktober 2001 gesien gedurende ’n ekskursie in die omgewing van Doringbaai aan die Weskus.

Daar en dan het hy sy immer gewillige chauffeur beloof dat dit haar naam sou dra.

Die seegarnaal Sunamphitoe roberta.Foto: CRAIG FOSTER

Etlike jare se insameling van bykomende inligting oor die plant se verspreiding en groeiwyse moes egter eers tussen sy ander bedrywighede ingepas word voordat Mucina en sy student Timothy Hammer uiteindelik vroeër vanjaar die aankondiging daaroor in die wetenskaplike joernaal Phytotaxa kon maak.

Hulle het onder meer vasgestel dat dit slegs tussen Doringbaai en Kleinzee in Namakwaland voorkom.

Griffiths het die feit dat hy die seegarnaal Sunamphitoe roberta na sy vrou, dr. Roberta Griffiths, gaan vernoem as ’n verrassing vir haar gehou.

Hy het haar eers op haar 73ste verjaarsdag vroeër vanjaar daarvan vertel, toe sy ’n geraamde foto van die garnaal as geskenk ontvang het.

Dié pakkie was geensins onvanpas nie, want soos haar eggenoot is Roberta ’n mariene bioloog in murg en been.

Griffiths was al by die ontdekking en beskrywing van meer as 100 mariene spesies betrokke.

Ek hou nogal van die idee dat hierdie spesie hulself tuis maak binne-in bamboes, en daarin hul families grootmaak.
Prof. Ladislav Mucina

Van hulle dra sy seun en dogter se name. Sy eie naam is ook al aan talle nuwe ontdekkings gegee, asook ’n genus.

Die professor was egter nie geneë om sommer die eerste die beste spesie na sy vrou te vernoem nie. Dit moes haar naam gestand doen.

Hy het egter gereken dat hy iets spesiaals beet het toe sy student Colleen Lindberg in 2017 ’n vreemde soort garnaal onder sy aandag gebring het. Die plantvretende seegarnaaltjie hou tussen die beddings seebamboese wat in Valsbaai se waters naby Kaapstad groei.

Die ontdekking daarvan het Griffiths herinner aan die egpaar se eerste jare saam.

“Ons het mekaar ontmoet terwyl ek my doktorsgraad oor klein seediertjies gedoen het, en daarna het ons saam gewerk aan ’n navorsingsprojek oor bamboesbeddings,” vertel hy.

Griffiths en medenavorsers het vanjaar oor Sunamphitoe roberta geskryf in die Journal of Crustacean Biology. Dis slegs die derde spesie van Sunamphitoe-garnale wat al in Suid-Afrikaanse waters gevind is.

Die eerste spesie is in 1932 ontdek, en Griffiths het die tweede spesie in die genus in 1979 ontdek.

Op die oog af is die ligkleurige, half-deurskynende garnaal nou nie juis ’n studie in skoonheid nie. Dit het wit oë met ’n rooi spikkel daarin, en boor met sy stert tot binne-in die bamboes.

Die ervare Griffiths reken egter dis ’n heel spesiale wese, én heel vreemd dat dit nog nie voorheen raakgesien is nie.

“Teen sowat 2 cm is Sunam-phitoe roberta eintlik heel groot vir hierdie soort garnaal. Dis ’n ongewone spesie wat in groepe voorkom en hul neste boor binne-in die Ecklonia maxima-bamboes wat in Valsbaai gevind word,” sê hy.

“Ek hou nogal van die idee dat hierdie spesie hulself tuis maak binne-in bamboes, en daarin hul families grootmaak.”

Meer oor:  Omgewing  |  Buite  |  Navorsing  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.