Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Spirituele weg van spekbome

Die groot labirint naby Stellenbosch wat uit 164 000 spekbome gaan bestaan, is Suid-Afrika se antwoord op aardverwarming. Marzahn Botha het gaan kyk hoe die boompies deel is van ’n monumentale groen struktuur in ons land.

Spekbome vir Afrika! Dit gaan die eerste labirint wees wat vir fietsryers en voetgangers bedoel is.

Suid-Afrika is welbekend met langdurige droogtes en aardverwarming wat soos ’n sigbare dief in die dag ons suurstof kom steel.

Met die aanplanting van een klein boompie, die endemiese spekboom, Portulacaria afra, kan hierdie dief se skade verminder word.

Dink net hoe aardverwarming ’n opstopper kry as 164 000 spekbome gebruik word om The Great Labyrinth of Africa, die eerste in sy soort ter wêreld, te bou. Anders as Greta Thunberg se verbale protes en massa-bewusmakingsaksies, sal dié spekboom-doolhof op ’n heilsamer en groener wyse die aandag van die wêreld op die probleem vestig.

Die 230 m x 230 m-spekboom-labirint sal selfs vanaf die maan gesien kan word.

Dit sal ook deel vorm van die Stellenbosch Bridge Smart City naby Klapmuts en die Elsenburg-landboukollege op die Muldersvleipad.

Groot was die opgewondenheid toe nagenoeg 50 vrywilligers onlangs die buitelyne van die spekboom-doolhof begin plant het.

As alles goed gaan, is die enigmatiese doolhof aan die einde van April reg om verken te word.

Peter Shrimpton, uitvoerende direkteur van Heart Capital, is die meesterbrein en siel agter die groot projek.

Die man agter die labirint

Peter Shrimpton, die uitvoerende direkteur van Heart Capital, ’n organisasie sonder winsbejag, is die meesterbrein en siel agter die groot projek

Sy kalm blou oë verklap meer van ’n persoon wat 03:55 soggens opstaan om twee uur lank te mediteer.

Kanker is sowat 20 jaar gelede op die ouderdom van 33 by Shrimpton gediagnoseer. Dit het hom op ’n toegewyde selfbehandelingspad geplaas van holistiese leefstylaanpassings, navorsing en ’n spirituele lewe.

Hy beskryf alles in die boek The Healing Chronicles of Henry Jones Peter waarmee hy ander kankerlyers inspireer om die stryd teen kanker op ’n holistiese wyse aan te pak.

Shrimpton is ’n raakvatter. Hy was eens ’n aandelemakelaar wat sy lewe omgekeer het en nou sosiale opheffingsprojekte en welsynsprojekte in nedersettings begin.

Nes die manne van Wall Street, is hy vlymskerp met sy oortuigings- en bemarkingsvaardighede. As hy iets doen, weet almal daarvan.

“Ek het ’n paar dae gelede ’n Chinese filmspan hier gehad wat meer as ’n miljard kykers het. Vanoggend het ek e-pos van Duitse en Kanadese mediahuise gekry oor ’n storie oor die doolhof. HuffPost in Brittanje doen ook ’n storie.

“Daar is ’n wêreldwye organisasie genaamd EO (Entrepreneur Organisation) wie se wêreldkonferensie van 28 April tot 1 Mei in Suid-Afrika gehou word.

“Die organisasie het takke in 156 wêreldstede, 274 lede in ons land en 14 000 wêreldwyd.

“Om deel te wees van hierdie organisasie moet jy ’n selfgemaakte miljoenêr wees, jy moet ’n maatskappy hê met ’n omset van meer as $2 miljoen per jaar.

“Hulle het die projek aangeneem, en word uitgedaag om ná die konferensie terug te gaan na hul land en ’n labirint van bome te bou. Ek weet een word vir Melbourne beplan.

“Ons gee die pas aan.”

Ons onderneem hierdie program nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele wêreld.
Valentine Kagura

Alles gebeur in die middel

“Die projek het twee dele. Ek wou mense bewus maak van aardverwarming en dat almal hul koolstofvoetspoor moet neutraliseer om dit teen te werk. Die aanplant van duisende spekbome was hierdie deel.

“Maar ons wou iets groots doen om mense se aandag op die plant van spekbome te vestig. Ek vra myself toe, hoe sou ek dit regkry om meer mense so te laat dink? As hulle dit dalk van die maan af sou sien?

“Die antwoord was ’n massiewe labirint wat weer met aandagtigheid (mindfulness) verbind word. Deurdagte bewustheid was die antwoord in die hele proses.

“Ek lees toe dat ’n mens die piramides van Giza vanuit die lug kan sien omdat dit 230 m x 230 m is. Daardie klein seuntjie in my besluit toe dit sal die grootte wees.”

Die labirint het dieselfde uitleg as die Chartres-katedraal in Frankryk se labirint. Dit sal nagenoeg 12 km lank wees en bestaan uit 563 lanings, van 10 m tot 500 m lank.

“Ons unieke labirint sal die grootste doolhof in die wêreld wees wat dit regkry om die koolstofvoetspoor te verminder.

“Aanvanklik sal dit uit ’n enkelry spekbome bestaan wat nagenoeg 90 000 bome insluit. Oor tyd sal dit groei en nog boompies aangeplant word tot elke ry 2 m dik is.

“Dit gaan die eerste labirint wees wat vir fietsry en voetgangers bedoel is. Daar sal ’n baan vir elk van die twee verbruikers wees.

“Ons sal dus ook die eerste fietsry-en-spekboomlabirint wees. In die volgende weke gaan die labirint uitgemerk word. Ons gaan in die week ’n masjien gebruik om gate te maak sodat vrywilligers die boompies oor naweke aanplant.

“Die groep van vrywilligers word groter, skole soos Curro en Rhenish het my reeds gebel.”

Shrimpton lag as hy noem dat Kapenaars graag opdaag net om te kyk of die projek ’n werklikheid is.

“Ek wil vrywilligers gebruik om die labirint te aan te plant, want ek wil hê mense moet hieroor gesels en deel wees van ’n projek en eienaarskap voel.”

Shrimpton se regterhand is die ontwerper Terry de Vries, wat die uitleg van die doolhof gedoen het. Hy wys my op sy foon groot strukture wat op AfrikaBurn-strukture trek.

Wanneer die besoeker meer as 6 km geloop het tot in die kern, moet daar iets wees wat die spirituele ervaring verdiep. Die stapper moet introspektief die roete aanpak.

Hy of sy moenie “wegraak” nie, maar eerder gedwing word om te dink en bewus te wees van die sintuiglike ervaring sowel as die “onnodige bagasie” wat hy met hom saamdra. Los die bagasie in die middel en onthou die struktuur.

Van gogos tot tree-preneurs

Nagenoeg drie jaar gelede het Shrimpton na informele nedersettings soos Philippi, Kayamandi en Khayelitsha gegaan om inwoners te kry wat spekbome sou kweek. Hulle het derduisende steggies geplant en opgepas.

Toe die boompies gevestig en sowat 10 cm hoog was, het Shrimpton dit by hulle gekoop, almal op een sentrale plek gehou en toe in Desember na Stellenbosch verskuif.

“Ek noem hulle my netwerk van kwekers. Ek het toe ‘treepreneurs’ geïdentifiseer – dis vyf manne wat elkeen na 25 000 bome omsien. Dink net ons het met 3 000 bome begin en vandag is hier 164 000 bome.

“My doel is om 1000 000 bome te plant. Hierdie jaar gaan ek dit nog maak!”

Ek noem hulle my netwerk van kwekers. Ek het toe ‘tree-preneurs’ geïdentifiseer – dis vyf manne wat elkeen na 25 000 bome omsien. Dink net ons het met 3 000 bome begin en vandag is hier 164 000 bome.
Peter Shrimpton

Valentine Kagura, Jealous Jamela, Ashwell Musonza, Shrimpton en Forget Bell is die “tree-preneurs” wat ook ten tyde van die onderhoud teenwoordig is.

“Ons is baie opgewonde. Ek is die verskaffer van die grondstowwe wat in die program gebruik word.

“Ons onderneem hierdie program nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele wêreld,” sê Kagura.

Volgens Bell gaan dit sy lewe verander, nie net finansieel nie, maar ook sy gesondheid.

Jamela sê hy is bly om deel hiervan te wees en net soos die pad van die labirint wil hy sien waarheen die projek die groep neem. Hy wil ook deel van ’n projek wees wat ander opvoed om ten minste ‘nog twee jaar’ vir die aarde te gee,” skerts hy.

Deel van ’n slimstad

“Ons het oral gekyk en wou ’n plek hê waar voete is en waar ’n slimstad gaan wees wat deel is van die toekoms. Die voorspelling is dat 80% van ons bevolking teen 2050 in die agt grootste stede in Suid-Afrika gaan bly.

“Almal weet dat ons stede reeds ’n probleem met elektrisiteit, ruimte, infrastruktuur, sanitasie, veiligheid, water en internetverbinding ervaar.

“Stede kan nie meer organies groei nie,” sê Shrimpton.

“Kaapstad sukkel al. Ons moet dink hoe ons stede bou, dit moet anders gebou word as wat dit gebou was. Met ’n slimstad word als om die kant gebou en die parke in die middel.

“Die model van die slimstad meld dat daar ’n landbougordel om die stad moet wees waarvan die inwoners leef.

“Daarom wil ek die labirint hierby aanhaak. Dit sal deel vorm van die integrale groen gordel van ’n slimstad.

“Een van ons beleggers is Coen van Oostrom van Edge Technologies, een van die grootste slimstad-pioniers in die wêreld. Hy ondersteun die projek ten volle.”

Shrimpton verduidelik hoe hierdie landelike gebied oor vyf jaar sal lyk. “Jy sal ’n duur gentleman-uitbreiding daar sien. Die hele stad sal seker so 100 000 mense huisves, met ’n universiteit, hospitaal, restaurante en groen areas.”

  • Vrywilligers kan elke Saterdag tussen 09:00 en 15:00 spekbome gaan help aanplant.
  • Projekvriende is die Stellenbosch Bridge Smart City. Vir meer inligting e-pos hulle by info@heartcapital of besoek wonderplant.co.za.
Meer oor:  Peter Shrimpton  |  Stellenbosch  |  Spekbome  |  Aardverwarming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.