Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Stap ver terug die verlede in

Dink jy aan Langebaan sowat 130 km noord van Kaapstad, is buitelug-doendinge soos stap, fietsry, watersport en wildkyk seker van die eerste gedagtes wat by jou uitkom. Op hierdie besoek was Maryke Roberts egter meer geïnteresseerd om ’n fossielpark te besoek.

Die Weskus-fossielpark buite Langebaan is goed agter ’n koppie versteek en smelt amper in die natuur weg. Foto: Clifford Roberts

Die Weskus Nasionale Park is natuurlik die rede vir baie besoekers aan die gebied, maar ons is meer geïnteresseerd in die nuwe opvoedkundige besoekersentrum by die Weskus-fossielpark – wat sedert 2014 ’n Nasionale Erfenisgebied is – so ’n entjie buite die dorp.

Die paleontologiese vindplek in ’n gerehabiliteerde fosfaatmyn van 716 hektaar het vanjaar sy 20ste verjaardag gevier en onlangs sy amptelike opening gehad. Die nuwe geboue kyk oor die bedekte uitgrawings in die veld uit. Daar kan jy gaan kyk na die ontblote fossiele.

Die ontblote uitgrawings is ’n entjie van die besoekersentrum af. Begeleide toere word daagliks onderneem en jy kan stap soontoe of per gholfkarretjie saam met die gids ry. Foto: Clifford Roberts

Ons begin ons toer met lekker cappuccino’s in die nuwe restaurant, waar die mure oortrek is met foto’s van Scott Ramsay – wat die meeste van die digitale fotografie in die sentrum behartig het – van Ronald Roefs, ’n plaaslike voëlklublid, en van dr. Wendy Taylor.

Natuurlike lig was een van die voorvereistes vir die geboue se ontwerp, vertel Pippa Haarhoff, bestuurder van die park, wat deel vorm van die Kaapse Weskus-biosfeerreservaat.

Die bedekte uitgrawings van nader gesien. Foto: Clifford Roberts

Ons stap in die gang af na die ingang van die sentrum en Pippa wys ons die tropiese woud, wat ’n oulike amfiteater insluit.

Hier wil hulle voortaan konserte aanbied. Ek wonder hoekom hulle palmbome en boomvarings in die dorre Weskus aangeplant het.

Sy verduidelik: “Waar ons nou staan, was daar miljoene jare gelede tropiese woude en die riviermond van die antieke Bergrivier. Mettertyd is die tussen 250 en 300 dierspesies wat in en om die riviermond geleef het, se liggame in die kanaal en vloedplein-sedimente vasgevang, en later is nog meer neerslae soos fosfatiese sand bo-op gewaai en gespoel en die oorskot van die diere het fossiele geword.

“Oor die jare het die seevlak meer as 10 km teruggetrek en die antieke riviermond is vandag die gebied wat as Langebaanweg bekend is.”

Sy vertel dat die geheime oor die plantegroei onder meer ontdek is deur gefossileerde stuifmeel te ontleed. Oulike sirkelborde illustreer oral die uitstallings.

Oor die afgelope paar dekades het nasionale en internasionale wetenskaplikes fossielreste van meer as 100 soogdierspesies, waaronder ’n beer en reusevark, drie olifantspesies en ten minste 87 voëlspesies waaronder vier pikkewyn-, drie papegaai- en ’n muisvoëlspesie ontdek.

Wetenskaplikes het ook verskeie padda-, reptiel-, haai- en ander benerige visspesies ontbloot en 60 mariene ongewerwelde spesies.

Van die fossiel-skedels wat al hier uitgegrawe is. Foto: Clifford Roberts

Pippa vertel voorts dat die park een van die wêreld se rykste fossiel-vindplekke is, omdat daar fossiel-oorskotte is van land- en see-omgewings.

In die laboratorium kan jy kyk hoe die beentjies van molle, muise, skilpaaie en akkedisse – skaars so groot soos ’n spyker – sorgvuldig uitgesoek word.

Ons verpoos vir ’n wyle by ’n venster wat inkyk in die reusesaal in.

Onder staan drie diere, met kleurvolle digitale foto’s wat die mure versier. Pippa sê dit is Sivatherium hendeyi, ’n lang-horing, kort-nek-kameelperdkoei, -kalfie en -bul, wat deur die beeldhouer Egon Tania gemaak is. Dit het hom meer as twee jaar geneem om te voltooi. Hy het stukke indringerhout, waaronder eike-, bloekom- en witwattelbome gebruik.

Gaan jy die koel sentrum binne, word die hele verhaal van die fossielpark geïllustreer. By die ingang lê ’n fossielrenoster-kakebeen wat daar gevind is. Onder in die hoofgalery is die beerskedel.

Gaan jy die koel sentrum binne, word die hele verhaal van die fossielpark geïllustreer. By die ingang lê ’n fossielrenoster-kakebeen wat daar gevind is. Onder in die hoofgalery is die beerskedel.

“Niks word hier uitgestal wat nie hier voorgekom het nie,” sê Pippa.

Verderaan is daar ’n indrukwekkende muur met antwoorde op vrae wat die meeste gevra word oor die park en oor fossiele wat daar gevind word.

In die ruim gange versier fossiele, foto’s en stories die mure en beeld die geskiedenis van die omgewing oor die afgelope 10 miljoen jaar uit.

Hier lees ons dat die Chemphos-mynmaatskappy in die vyftigerjare fosfaat daar begin myn het en dat die eerste fossiele in 1958 daar ontdek is.

Onder leiding van prof. Ronald Singer van die Universiteit van Kaapstad se Mediese Skool, begin navorsing. In die sestigs word die mynbedrywighede uitgebrei en reuse-fossiel-neerslae ontbloot. Die SA Museum, onder leiding van dr. Brett Hendey, begin ’n intensiewe navorsingsprojek op hierdie neerslae.

Die hoofsaal van die sentrum is onder meer gevul met kleurryke digitale foto’s. Foto: Clifford Roberts

Behalwe die hoof-fossiel-versamelings van vyf miljoen jaar gelede, word daar ook mariene fossiel-neerslae wat tot 10 miljoen jaar terugdateer, gevind. Pippa wys ons na die tydelike strukture wat opgerig is toe die opgrawings destyds gedoen is.

Op die foto’s pryk sy saam met ander wetenskaplikes. Sy sê sy het destyds onder Hendey gewerk. In die restaurant hang ’n foto van ’n muisvoël wat, soos sy vroeër verduidelik het, die moderne spesie is en na Hendey vernoem is. Die fossiele wat daar gevind is, is egter van spesies wat lankal uitgesterf het.

Ons kyk by die venster uit en sien hoe toeriste met gidse afstap na die uitgrawings, een van die min fossiel-vindplekke in die wêreld wat aan die publiek in situ-kykgeleenthede van fossielreste bied. Dis ongelooflik om te dink dat baie diere wat vandag die aarde bewandel, se voorvaders hier begrawe lê.

Pippa vertel dat daar nog baie werk op hulle wag, maar dat sy trots is dat die sentrum nou oop is vir die publiek.

Op die onderste vloer is ’n reuse-vertrek vir kinders, waar insekte en slange wat deur Alan Munro uit herwonne materiaal gemaak is, 150 maal hul ware grootte, uit die dak hang en teen die mure opkruip. Ashleigh Comins het die muurskilderwerk gedoen.

Ons moet onsself as’t ware wegskeur van die sentrum, want daar is nog soveel te lees en te sien, maar dit sal in ’n volgende besoek gedoen word.

Kitsfeite
  • Die park bied begeleide toere na die 5 miljoen jaar oue paleontologiese vindplekke, hul laboratorium en museum; opvoedkundige toere aan skool- en studentegroepe, en stap- en fietsroetes van 3, 5, 8 en 10 km. Daar is ook ’n klein voëlskuiling en soms sien jy flaminke of ’n bloukraanvoël-broeipaar. Die voëllys het ongeveer 120 spesies op.

Meer inligting: 022 766 1606 | info@fossilpark.org.za |edu@fossilpark.org.za | www.fossilpark.org.za

Kom so daar

Vanaf Kaapstad:

  • Die Weskus-fossielpark is 120 km noord van Kaapstad, ongeveer 90 minute se ry via die R27.
  • Neem die N1 uit Kaapstad en draai ná sowat 5 km links op die R27. Hou op die pad vir ongeveer 110 km tot jy ’n Engen 1 Stop-vulstasie aan jou linkerkant sien.
  • Net verby die vulstasie, neem die eerste afdraai regs (jy sal ’n bord gemerk Langebaanweg-lugmagbasis/Langebaanweg Air Force Base daarop sien).
  • Ry ongeveer 8 km tot by die T-aansluiting. Draai links op die R45.
  • Sowat 3 km verder sal jy die ingang na die Weskus-fossielpark sien.

Meer oor:  Buite  |  Reis  |  Fossiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.