Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
‘As een deur toegaan, gaan ’n ander oop’

Branderplankry is ’n kuns – vra maar diegene wat so skynbaar moeiteloos die groot golwe ry. Dis nie vir swak harte nie. Daniël Nel van Muizenberg is nie net ’n meesterbrander­plankryer nie, hy is ook ’n parapleeg . . . Lorraine Coetzee het gaan kuier.

Nel in sy nasionale kleure met die Suid-Afrikaanse vlag. Foto: Jeannie MAckinnon
Nel in aksie. Foto: Scott Graham
Daniel Nel

Die eerste ding wat ’n mens opval van Daniël Nel (45) is nie sy rolstoel nie. Dis sy breë glimlag en blinkblou oë. Hier, weet jy, is ’n mens wat die lewe met albei hande aangryp.

Nel het in Mei teruggekeer van die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms vir aangepaste branderplankry wat in Durban gehou is. Hier het hy ’n goue medalje gewen.

In Junie vanjaar het hy die derde plek in die Engelse ope kampioenskapsbyeenkoms vir aangepaste branderplankry ver­ower. Die week net ná die Engelse toernooi het hy in Wallis aan twee kompetisies ná mekaar gaan deelneem en vierde in die halfeindronde geëindig.

En van 1 tot 3 September vanjaar reis hy na Bali in Indonesië vir nóg só ’n byeenkoms. Op 26 September word die VSA Ope kampioenskappe gehou en op 12 Oktober, die Ope kampioenskappe in Japan.

Daniël Nel op Muizenbergstrrand, waar hy oefen. Foto: Jeannie MAckinnon

Dit lyk of daar geen einde aan die man se energie is nie.

Nel het in Worcester groot­geword en skoolgegaan. Van 1994 het hy in Hermanus gewerk. Hier, vertel hy, het hy baie tyd in die water deur­gebring – branderplank gery, gesnorkel, geskubaduik, perlemoen geduik. Hy was liéf vir die see.

Hy het ook twee jaar in Engeland deurgebring.

In 2004 het Nel in die vroeë oggendure sy rug gebreek in ’n motorfietsongeluk in Hermanus. Daarna het hy van die see probeer vergeet. Hy het gedink dit sou nooit weer moontlik wees om watersport te geniet nie en het tien jaar lank nie weer die water aangedurf nie.

In 2014 het sy lewe egter ’n wonderdraai gemaak toe hy op Facebook kennis gemaak het met Dries Millard. Millard het op 18-jarige ouderdom ’n ruggraatbesering in ’n motorongeluk opgedoen en moes daarna sy lewe as ’n parapleeg aanpak. Dié onstuitbare kêrel het Suid-Afrika verteenwoordig in internasionale aangepaste-branderplankrykompetisies in die T8-kategorie (verlam van die middellyf ondertoe) en Nel het besef sy branderplankry-dae is dalk nie verby nie.

In daardie tyd het Bianca Köhn ’n branderplankry-skool in Bloubergstrand geopen, Nel daarheen genooi en ’n ontmoeting met Millard gereël. Ná tien jaar uit die water het Nel hom in ’n duikpak in die water bevind.

Nel se aangepaste branderplank. Foto: Jeannie MAckinnon

Kompetisies

In 2015-’16 het Nel die eerste keer aan nie-amptelike kompetisies deelgeneem. In 2016 het hy in Muizenberg tweede gekom naas Millard in die aangepaste-branderplankrykompetisie. Reeds in 2017 het hy aan sy eerste wêreldkampioenskapsbyeenkoms in San Diego in Kalifornië in die AS4­kategorie (platlêhouding) gaan deelneem en die negende plek uit 14 behaal.

In 2017 het Nel die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms gewen. In 2018 was hy tweede. Bruno Hansen, die wêreldkampioen, was eerste.

Benewens branderplankry geniet Nel wateraktiwiteite soos kano, kajak, snorkel en skubaduik. Hy het ook onlangs ge­valskerm­sweef in Theewaterskloof.

Paul Jurgens, ’n afrigter in branderplankry, is ook Nel se regterhand wat help met dinge soos om ’n steeks rolstoel oor die sand te stoot.

Met die fotosessie, net toe Nel mooi sy sit in sy rolstoel kry op die nat sand met die blink see in die agtergrond en die branderplank langs hom geparkeer, tuimel die rolstoel agteroor. Jurgens help en Nel kom laggend orent. “Ek hoop julle het dit afgeneem!” laat hy hoor.

Paul Jurgens help Nel om die steeks rolstoel op die sand bult-op te kry. Foto: Jeannie MAckinnon

Wat is sy boodskap aan mense wat ook fisieke (en ander) uit­dagings beleef? Nel sprei sy hande oop. “Die wêreld is vol interessante goed – ’n mens moet net besluit wat jy wil doen. ’n Ongeluk is nie die einde van die pad nie. Nóú is jou kans om te doen waarmee jy goed is!”

Die idee van branderplankry ná sy ongeluk het vir hom “vreemd en ver” geklink, vertel hy.

“Maar ’n mens verbaas jouself. Dit verg baie tyd, aandag en selfmotivering, maar daar is altyd ’n weg.

“Tegnies is dit moeilik en ’n uit­daging, maar baie dinge klink moeiliker as wat dit werklik is.

“ ’n Mens moet maar jouself toets en verder druk as wat jy dink jy kan gaan.

“Wanneer een deur toegaan, gaan ’n ander een oop.”

  • Enigiemand wat meer inligting verlang, kan ’n e-pos stuur na mventer@dieburger.com of 021 406 2130 skakel.
Daniël Nel in sy duikpak met sy spesiale branderplank. Foto: Jeannie MAckinnon
Eers ’n bietjie verstel aan die branderplank en die hemp . . . Foto: Jeannie MAckinnon
Nel in aksie by die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Kalifornië in 2017. Foto: Sean Evans I International Surfing Association
Die Suid-Afrikaanse branderplankryspan by die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Kalifornië in 2017. Die foto is tydens die openingseremonie geneem. Die vriendskap en hegte bande wat gesmee word, ook tydens die internasionale kampioenskapsbyeenkomste, is ongelooflik, sê Nel. Foto: Chris GranT I International Surfing Association
Daniël Nel

Meer oor:  Muizenberg  |  Brander­Plankryer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.