Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Die ding van ’n troue is die skoene

Hoe mooier die blomme en hoe fraaier die bruid, hoe meer emosioneel raak die gaste. Om ’n suksesvolle troue te reël, verg ’n magdom besluite. Is dit die rede waarom die skoen dikwels afgeskeep word, wonder Sarie Marais-Nell.

Foto: Milk and Honey Photography

Trou is weliswaar nie perdekoop nie. Die hele proses van beide stelle hoendertjies op een stellasie jaag, volgens Oubaas van 7de Laan: die swetterjoel besluite oor die troulokaal en onthaal, die kleure en klere, gastelys en dankie-geskenkies, wie vorm die gevolg (is hierdie term dalk uitgedien?), hoe moet die troukoek, program, spyskaart, tafelversierings en bruidstafel lyk . . . Veroorsaak al hierdie besluite dat die skoen mindere aandag kry?

Meestal is “mooi” die deurslaggewende faktor vir die bruidspaar en trougas se skoeiselkeuse en hulle vergeet dan dikwels om dit vooraf so ’n effe in te loop.

Ná maande se sorgvuldige deurwerk van ’n legio lysies en sodra hare, naels, blomme en allerlei laaste-minuut-verstellings op die Groot Dag afgehandel is, loop iets onbepland gereeld skeef. ’n Uitverkore gordel of lipstiffie is tuis vergeet en daar’s te min tyd vir terugry. Of die sjef het gisteraand verdwyn – wie gaan die wendisse voorberei?

En áltyd duik ’n rede op waarom naald en gare (in die regte skakering) ’n noodsaaklikheid raak sekondes voor die trouklok lui. Dikwels kom redding of doublesided tape uit Ouma se handsak. Maar soms is ’n trourok 60 minute voor die trouklok lui steeds soom- en mouloos weens die rokmaker se laaste-minuut-geaardheid.

Sodra die voorafspanning bedaar, almal min of meer betyds opdaag en die instapmusiek speel – verby is die dae van die troumars – is daar aljimmers enkele gaste wat wéét die bruid se skoene knyp ongenadig!

Almal was al by troues waar die predikant se woorde verbydryf soos misslierte op ’n Weskus-wintersoggend. Gelukkig is die meerderheid boodskappe kragtig en onthoubaar. Dit is tog die kern van die byeenkoms?

Maak jy kleuters deel van jou seremonie, beplan jy waarlik vir ’n mate van konsternasie. Hulle sal óf huil óf vergeet wat hul beplande rol is, met die konfetti weghardloop of die ringe na die bruidegom góói en met hul varsheid en onvoorspelbaarheid meeding om die aandag wat die bruidspaar verdien.

Stap die pasgeringdes uit die troulokaal, word hulle tradisioneel met konfetti as simbool van goeie wense bestrooi.

Bekyk net die kopkrapper wat konfetti bied: Aanvanklik was rys, ertjies of koringkorrels, droëvrugte of stukkies koek dié ding om na bruid en bruidegom te gooi. Deesdae lê die keuse tussen seepborrels, graanvlokkies, voëltjiesaad, “fruit loops” (hemele behoed) of papierkonfetti in sirkel-, hartjie- of diamantvorm; of woorde soos “Just Married” en “Congratulations”.

Moet die konfetti pastelkleurig of reënboogbont, neonkleur of metaalblink wees? Vars of gedroogde roosblare? Sal kunsmatig gekleurde blommetjies die bruidsrok vlek?

Tussendeur stroom verhale oor vorige trou-ervarings vryelik. Weergawes van arriveer by die troulokaal met slegs ’n nota wat aandui die troue gaan nie plaasvind nie. Punt. Of troues in moeilik bereikbare plekke soos ’n bergpiek, waterval of oorsee.

Verpak in ’n plastieksakkie, buisie, ballon, boksie of sommer losweg in ’n rottangmandjie, omgekeerde sambreel of hoededoos?

Watter boodskappie skryf ’n mens op die konfettihouer? In watter kleur ink, op watter soort plakker? Met die bruid of bruidegom se naam eerste? Of vervang ons konfetti met folio’s vol stippellyne sodat gaste hul eie papiervliegtuigies vou terwyl die bruidspaar die register teken?

Onthou liefs die bio-afbreekbare beginsel, want Greta Thunberg, daardie jong aktivis met die kwaai gesiggie, lyk of sy jou sommer sal kom úithaal as jou vreugdesimbool minder omgewingsvriendelik is.

Sal ’n mens duiwe laat vlieg? Gestel ’n trougas se fobie vir geveerdes veroorsaak konsternasie. Dalk skoenlappers in mooi boksies vanaf Johannesburg bestel? Die skoenlappers is vooraf geoefen om te vlieg, verduidelik die skoenlapperfoendies. Hulle sal dadelik uit hul boksies vlieg, agter die lig aan. Wel, party vlieg altyd. Veral dié wat die vliegtuigrit oorleef.

En die onsekerheid: Sal die fotograaf betyds die oomblik van duif-, skoenlapper- en ballonloslating vasvang?

Ingewikkelde konfetti-keuses kan blitsvinnig die stresvlakke opjaag. En dis net een aspek van die troureëlings.

Ná die seremonie, almal aan’t smul aan voorafhappies, is daar altyd iemand wat dolgraag wil oorstap na ’n persoon wat eensaam of vaagweg bekend lyk. As die skoene dit net wou toelaat.

Om twee weke later terug te keer na ’n toekoms vol nuwe besluite oor hul blyplekkie se interieur, huisroetine, wie op watter tye sal kosmaak en skoonmaak, die begroting.

Tussendeur stroom verhale oor vorige trou-ervarings vryelik. Weergawes van arriveer by die troulokaal met slegs ’n nota wat aandui die troue gaan nie plaasvind nie. Punt. Of troues in moeilik bereikbare plekke soos ’n bergpiek, waterval of oorsee.

Die ring wat moeilik aan die bruidegom se vinger steek. Of skuins uit die bruid se vingers glip en die lug inhop. Só dat gaste grondlangs daarna soek.

Die duurste troues, die interessantste dansbaan – soos ’n glasblad bo-oor ’n swembad – die persste troue, 1970’s-troues met gehekelde, styselgestyfde koppie- en-pieringstelletjies as tafelgeskenk, silwergeverfde jakaranda-saadlobbe wat konfetti-houers raak, die troue met die meeste bruidsmeisies (na my wete 13), ’n kameraman wat die bruidstabberd kritiseer, die troue met die stoutste jong manne . . .

Of die bring-en-braai-onthaal, waar niemand kon dans nie weens te veel koelbokse op die dansbaan.

Videogrepe wys graag ongeluksvoëls wat onbedoeld chaos skep as hy ’n ruiker omstamp of die bruid se sleep vastrap; bruid of bruidegom wat flou raak of in die swembad val.

Sommige mans identifiseer eerstens die troue se tert-van-die-dag. En verdedig hul standpunt vurig as hul maters ’n ander kalerige enetjie met daardie toekenning bekroon.

Ons ken gaste wat al hoe meer hulself raak soos die aand verloop: Die beterweters wat al hoe harder hul standpunt uitsaai, die familie-oom wat net jong meisies as dansmaats soek, die tante wat te veel sjerrie geniet het of emmersvol huil – nie weens haar skoenkeuse nie.

Ek waardeer deesdae se jongklomp wat geykte tradisies na willekeur uitsny en nie meer jêmblikke aan die bruidegom se kar vasbind of meel in sy motorenjin gooi nie.

Elke paartjie wat dosyne besluite, “Tant Koek se hoenderhaan”, “Kinders by dosyne” en die bruidegom se ontwrigte toespraak kon oorbrug, verdien om met ’n ryding vol geskenke die onthaal te verlaat. En ’n gelukkige, kommervrye wittebrood te geniet.

Om twee weke later terug te keer na ’n toekoms vol nuwe besluite oor hul blyplekkie se interieur, huisroetine, wie op watter tye sal kosmaak en skoonmaak, die begroting.

Mag elkeen van hierdie jonggetroudes hul eie skoene in die huwelik met sukses volstaan. Want die saamleef met ’n nuwe lewensmaat wat skielik jou hele lewensruimte vul, bied genoeg knobbels en hobbels om – soos die inloop van ’n nuwe paar skoene – dié grootste uitdaging van jou volwasse lewe te bied.

Meer oor:  Sarie Marais-Nell  |  Troudag  |  Rubriek  |  Trou  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.