Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Ek droom ’n droom

Watter ooreenkomste het Martin Luther King se “I have a dream”-toespraak met Suid-Afrika se Vrouedag 2019? Watter woorde sou King se vroulike eweknie kwytraak as sy voor 250 000 Suid-Afrikaanse vroue moes praat? Sarie Marais-Nell het 50 Suid-Afrikaners oor die hele spektrum oor hul toekomswense vir die land gepols en skets ’n (redelik) realistiese scenario.

Wat het Martin Luther King se bekende “I have a dream”-toespraak in ooreenkoms met Suid-Afrika se Vrouedag 2019? Foto: Getty Images

Op Vrouedag 2019 droom ek hoe duisende Suid-Afrikaanse vroue tegelyk optrek na Kaapstad, en daar hul toekomsdrome vir Suid-Afrika uitspel. Hul kollektiewe droom van vryheid, veiligheid, gelyke behandeling, gelyke geleenthede.

Die droom dat hul kinders veilig kan skool toe stap, dat geeneen op pad werk toe uit ’n brandende bus hoef te spring, of moet wegkruip vir gewelddadige betogers nie.

Sommige vroue keer: “Nee, ons hou nie meer van optogte nie, dit ontaard te dikwels in kwaadwilligheid en anargie. Ons wil saamstaan, maar op ’n ander manier.”

’n Dinkskrum bied ’n alternatief vir hierdie vroue: Skryf jul toekomswense in ’n brief en gaan pos dit in Buitengracht se rooi posbus teen daardie historiese klipmuur.

Elke brief in die skrywer se moedertaal. Briewe aan ons land se belangrikste rolspelers: pres. Cyril Ramaphosa en sy binnekring omdat hul daaglikse besluite ons lewens direk beïnvloed; die kantoor van die openbare beskermer omdat hulle nou vir háár moet ondersoek en hulle in kontak met ons daaglikse realiteite moet bly; die hoogste regbank ter ondersteuning omdat hulle oorwerk voel met politici wat deesdae nie kan funksioneer sonder om mekaar in die hof aan te vat nie; aan die ekstreme faksies sodat hulle kan lees en besef hoeveel vroue begeer vrede en veiligheid vir hul gesinne; laastens aan die minister van finansies omdat ewe veel Suid-Afrikaners ’n gesonder ekonomie verlang as wat hulle veiliger woon- en werkplekke begeer.

Tydens sy waterskeidingstoespraak vir gelyke regte het Martin Luther King in Augustus 1963 veilig gevoel op die trappe van die Lincoln- gedenkmuseum, ’n belangrike simbool in die Amerikaanse burgerregtestryd. Net so sal ons – dapper vroue – veilig voel voor die Kaapstadse stadsaal.

Daar waar Nelson Mandela in Februarie 1990 met sy eerste toespraak ná vrylating uit 27 jaar se gevangenskap, ongeveer 100 000 mense kon saamsnoer en oproep tot ’n vreedsame en demokratiese bedeling.

Wel, besluit die vroue in my Vrouedag-visioen, dis nooit te laat om orde te herstel nie.

Net jammer Madiba se visie – ’n ware demokrasie – ly 25 jaar later akuut onder gulsige kripvreters wat die land se groei beduiwel; dat vele polisielede eerder bydra tot die probleem as om veiligheid te verseker; dat raasgatte vele parlementsprosesse ontsier en dat Kaapstad – tot onlangs die wêreld se gewildste toerismebestemming – intussen een van die gevaarlikste wêreldstede geraak het.

Wel, besluit die vroue in my Vrouedag-visioen, dis nooit te laat om orde te herstel nie.

Daarom stroom hulle na die hartjie van Kaapstad, maak hulle beurte om hul toekomsdrome bondig vanaf dáárdie balkon oor die stad heen uit te saai: fiks of krom, aards of gesofistikeerd, bruin, swart en wit, van naby of ver, vat-vat elkeen eers effe onseker aan die mikrofoon en verklaar hul visie: “Dat elke Suid-Afrikaner welkom en veilig mag wees. Dat kinders veilig in hul strate kan stap.”

“Werk, vrede en reën vir almal. Om weer hoop te hê vir môre. Die sleutel vir die toekoms lê in ons kinders. Hulle is dié wat hierdie land moet maak werk.

“Ons moet nóú ons kinders verenig, en nuut oor die lewe laat dink.”

“Ons wil nie langer bekommerd wees oor die toekoms van onsself, ons werkers en ouers op plase; oor plaasmoorde nie.”

“Veiligheid vir vragmotorbestuurders, verdraagsaamheid tussen alle groepe. ’n Eerbare en eerlike regering. ’n Totale terugkeer na die Here – die enigste ware uitweg.”

“Dat alle nasies gelyk behandel word. Die huidige geweld laat my vrees om my kinders vir ’n oomblik alleen te laat. Ek begeer om ’n beter toekoms te bou vir my en my gesin.”

“Ek droom dat misdaad en haat sal verdwyn.”

“Ons kan mooi goed wens, maar eerstens moet onbevoegde en oneffektiewe amptenare vervang en ons land effektief bestuur word.”

Ek wil so graag weer veilig voel as ek tuinwerk doen. Of winkel toe stap.

“Dat respek vir ouer mense en gesag terugkeer. Dat boeliegedrag verminder . . . ook op die politieke toneel.”

“Ons droom van leiers wat met integriteit, eerlikheid en toekomsvisie werk. Met hul vingers in hul eie beursies – nie luuks leef met duisende rande uit staatskoffers nie.”

“Geweld en haat begin by onsself – as ons dit dink, gaan dit ons gesprekke word en oorgaan in aksies. Ander in ons lewe gaan beïnvloed word daardeur.”

“Ek wil so graag weer veilig voel as ek tuinwerk doen. Of winkel toe stap.”

Eers teen skemer staan ’n bejaarde gryskoppie heel laaste op die balkon. Al wys plooispore en ’n litteken oor haar regterwang ’n lewe vol verwerfde ervaring, straal waardigheid en oortuiging uit haar hele wese. Só dat ek vermoed sy’s uiteindelik die Suid-Afrikaanse, vroulike weergawe van Martin Luther King.

Al gaan sy nooit soos King ’n Nobelprys wen nie, verklaar sy nadruklik: “Ek woon in Delft.

Daar sien ek hoe onskuldige mense koeëls eet – bendes se skuld. Baie kinders gaan slaap saans sonder kos – hul ouers se fout. “Party ouers wil eerder gaan jol voor hulle hul kinders versorg. Ek sien hoe sleg gaan dit as die pappie en mammie hul plig nalaat; hoe raak daardie kinders vir stoutigheid groot.

“Daarom is my droom vandag vir iedereen: Gaan terug na julle se huise – of dit nou grênd en blink, of vaal en arm is. Gaan terug na jou dorp en blyplek, gaan sorg eers selwers dat jy jou kinders reg leer van respect en godsdiens, van discipline, van flukswees en wérk.

“Moenie aldag bakhand staan nie. Die tyd om eerste rondom jou eie voordeur skoon te vee, is nóú. Gaan terug en werk aan jou se huis, jou kinders, jou se kerk.

“Gaan maak self jou woonplek en jou stukkie erf mooi skoon en moenie heeldag hande vol wishes en grudges rondstrooi nie.

“Eers dán gaan sake vir ons land kan regkom, treetjie vir treetjie.”

Sela.

Meer oor:  Sarie Marais-Nell  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.