Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Karoonagte só lank dat jy jou lyf seer lê

Met dié dat die rooidag nou al hoe vroeër breek, raak die tyd vir wintermymeringe ook minder.

Soos om oor die dieper betekenis van die gewildste gedig in Afrikaans, Eugène Marais se “Winternag”, te peins.

Maar wie sal – met Suid-Afrika op die rand van anargie – die winter van 2019 maklik vergeet – The Winter of Our Discontent – die titel van John Steinbeck se laaste boek (1961).

Hoe het die ou mense die lang winternagte op Karooplase omgekry, wonder die skrywer.Foto: JACQUES MARAIS

In Shakespeare se Richard III dien dit as metafoor wanneer die onvergenoegde Engelse koning sy misnoeë oor die onbevredigende gang van sake met die kille droefgeestigheid van ’n strawwe winter vergelyk.

Met die ongelooflike gemors wat Brexit geword het, sal ek nie verbaas wees as nie net die royals nie, maar elke Brit die kleitrappery wat in Brittanje aan die gang is, as die “winter of our discontent” beleef.

Suid-Afrika se onbevoegde regeerders kan nou by die Engelse gaan kers opsteek oor hoe om ’n land op te mors.

G’n wonder die Engelse se vergrype in Suid-Afrika het Afrikaners laat glo daar is net twee goeie Engelse dinge nie: Engelse sout vir ’n maagongesteldheid en spek en eiers vir ontbyt.

Tot die eer van eerbare vroue soos Emily Hobhouse moet ek darem ook ’n goeie Engelse vrou byvoeg. Jy kry hulle, hierdie Engelse rose.

Nie dat die winter net droefgeestig hoef te wees nie. Ek was nog altyd lief vir die winter. Dit bring herinneringe van Karoo­vakansies, beesslag, jag, biltongmaak, kaggelvure en lang, donker, stil nagte. Só lank dat jy jou lyf kan seer lê.

Hoe het die ou mense hierdie lang nagte omgekry? Daar was dan nie eens oral treine om hulle wakker te maak nie. Wat doen jy as jy in die klein nagtelike ure uitgeslaap is? ’n Middernagfees soos koshuiskinders graag gemaak het wanneer ’n pakkie met beskuit, ’n blikkie kondensmelk, biltong, vyerolle en skuinskoek deur die pos arriveer? Dit was lekkerder as vry.

Wanneer mense wat weet ek gaan slaap saans saam met die hoenders, uitvra oor wat ek doen as ek in die nanag uitgeslaap wakker lê, haal ek die ou hallelujalied aan: “Werk, want die nag kom nader!”

Ek het dit só lanklaas gehoor dat ek dit in die Nuwe Hallelujaboek van 1936 moes opsoek. Kleintyd is dit by die Kinderkrans gesing.

In die geloof dat dit kinders arbeidsadel van kleins af sal leer, het predikante dit ook graag in kinderdienste laat sing in die dae toe daar nog so iets was:

“Werk, want die nag kom nader! Werk in die vroeë dag. Werk as die dou nog glinster, in die blommeprag! Werk in die helder môre, werk, want die nag word donker, dan geen werktyd meer! Werk in die laaste strale, nooit kom die lewe weer!”

Ek weet van ’n skaapboer in die noordwestelike Karoo wat dit soggens laat sing op ’n kort stiltetyd saam met sy werkers voordat die dagtaak begin.

Mits hy natuurlik die vorige aand uitgedink het wat die volgende dag gedoen moet word. Op ’n Karooplaas kan dit by tye nogal heelwat beplanning verg.

Maar daar is darem altyd ’n uitweg. As jy oplaas aan niks meer kan dink wat gedoen moet word om jou werksmense besig te hou nie, is die standaard­opdrag: “Gaan werk maar draad”.

“Ure, dae, maande, jare,” soos die ou Gesang gelui het, kan met draadwerk op ’n Karooplaas omgekry word. Die lang, stil, donker nagte is die probleem.

Maar daarvoor is ook ’n uitweg. Jy skryf in die nag. Byvoorbeeld briewe aan jou kinders.

Tydens die afgelope tyd se wanorde en onrus in Suid-Afrika het ek byvoorbeeld aan my kinders wat nog nie die geknelde land verlaat het nie, in die donker middernagtelike ure briewe geskryf waarin ek hulle aanmoedig om dit ter wille van hul kinders te doen.

Ek twyfel nog of ek dit moet pos. Oor werk in die nag twyfel ek nie. My inspirasie vir skryf in die nag is die woorde van ’n onbekende Engelse digter:

“The heights by great men reach­ed and kept were not attained by sudden flight – but, they, while their companions slept, were toiling upwards in the night . . .”

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.