Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Korona herskep die geopolitiek van globalisering

Die koronaviruskrisis het die potensiaal om die internasionale politiek behoorlik deurmekaar te krap. Leopold Scholtz kyk na die moontlikhede.

Illustrasie: ISTOCK

Die internasionale politiek kan in ’n sekere sin met die fisika vergelyk word – albei het ’n hekel aan ’n vakuum.

As ’n vakuum ontstaan, word dit blitsvinnig gevul.

Die land wat tans potensieel die meeste voordeel uit die koronaviruskrisis kan trek, is – ironies genoeg – China.

Ironies, want dit is die einste land waar die virus in die stad Wuhan op ’n smerige, onhigiëniese mark van ’n dier op ’n mens oorgespring het, en waar die outoritêre regering die erns van die saak weke lank ontken het.

Toe die ekonomiese krisis van 2008 losbars, was dit die kragtige Chinese ekonomie wat die reddingsboei vir die wêreldekonomie gebied het. China is destyds skaars deur die krisis aangetas, en die stabiliteit van sy ekonomie was ’n kragtige faktor wat die res van die wêreld deur die storm orent gehou het.

Iets soortgelyks kan nou weer gebeur. Ná sy aanvanklike weifelagtige reaksie het die Chinese regering maatreëls getref wat nie anders as drakonies beskryf kan word nie. Die beweging van mense is dramaties aan bande gelê. Vervoer is aansienlik beperk, grense is gesluit.

En tans loop China voor met die herstel. Die besmettingskoers het afgeneem, en veel minder mense sterf.

Die besmettingskoers het afgeneem, en veel minder mense sterf.

Dus het die regering al begin met versigtige pogings om die lewe te normaliseer. Dit beteken dat ook die Chinese ekonomie na verwagting voor dié van die res van die wêreld sal herstel.

Daar kan aangeneem word dat China dié voorsprong met alles in sy vermoë sal probeer uitbuit. China is naamlik in ’n toenemende ekonomiese en politieke botsing met Amerika gewikkel, een wat ook militêre elemente bevat.

Dis nie die eerste keer in die geskiedenis dat grootskaalse epidemies die internasionale politiek kwaai beïnvloed nie. In 430 v.C. het ’n pesepidemie uitgebreek in die antieke Athene, wat toe net in ’n oorlog met Sparta gewikkel geraak het.

Tot ’n kwart van die Atheense bevolking – onder wie sy leier, die beroemde Perikles – het in die plaag gesterf. Weliswaar het dit nog tot 404 v.C. geduur voordat Athene eindelik geknak het, maar die siekte was ’n belangrike faktor in sy nederlaag.

In die jare 1629-1631 is Noord-Italië (wat, interessant genoeg, ook tans die episentrum van die koronavirus-pandemie is) getref deur builepes wat ook hier ’n kwart van die mense voortydig laat sterf het. Ook dié ramp het Italië swaar getref en bygedra tot die einde van die skiereiland se ekonomiese en kulturele voorsprong bo die res van Europa.

Tussen hakies, dit is dié pes wat die woord “kwarantyn” tot ons woordeskat toegevoeg het. Dit kom uit die Venesiaanse dialek en dui op die verpligte kwarantyn van 40 dae wat die stadsvaders oor die bevolking afgekondig het.

Tussen hakies, dit is dié pes wat die woord “kwarantyn” tot ons woordeskat toegevoeg het.

Dan was daar die Spaanse Griep van 1918-’19. Dié siekte het gevolg op die miljoene sterftes in die Eerste Wêreldoorlog en die breuk in die vinnig ontwikkelende handelsverhoudinge van voor 1914 bevestig.

Die ontwikkelde wêreld was voor 1914 betrokke in ’n eerste fase van wat deesdae as globalisering bekend staan.

Die dubbele breuk van die oorlog en die griep het ’n verskynsel opgeroep wat in ons eie dae ook weer gesien kan word – regerings se instink om hul blik op die wêreld by hul eie landsgrense te stop.

Die ekonomiese breuk van 1914-’19 het regstreeks bygedra tot die ineenstorting van die beurse in 1929 en die Groot Depressie. En oor die wêreld heen het regerings begin om invoerheffings drasties te verhoog, wat internasionale handel verder aan bande gelê en die wêreldekonomie laat ineenstort het.

Dit was die regstreekse oorsaak vir die magsoorname van Adolf Hitler in 1933, en dus ook vir die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog meer as ses jaar later.

Wat jy in ons eie tyd sien, is hoe regerings uiteenlopend reageer op die koronavirus en alles wat daarmee saamhang.

Aan die een kant is daar pres. Donald Trump, wie se instink hom in die rigting van regerings se reaksie in die 1930’s dryf. Hy het byvoorbeeld ’n poging aangewend om ’n Duitse firma wat aan ’n entstof teen die virus werk, oor te neem en die medisyne dan slégs vir Amerikaners te gebruik.

Dit was die regstreekse oorsaak vir die magsoorname van Adolf Hitler in 1933, en dus ook vir die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog meer as ses jaar later.

Die Duitse minister van gesondheid, Jens Spahn, het woedend daarop gereageer en onmiddellik ’n stokkie daarvoor gesteek.

Intussen is die krisis vinnig besig om in ’n armdruk-kompetisie tussen Trump en sy Chinese eweknie, pres. Xi Jinping, te ontwikkel.

So het China vinnig ingespring om ’n tekort aan medisyne en mediese apparaat in die swaar getroffe Italië aan te vul. Italië het ’n beroep op sy bondgenote in Amerika en Europa gedoen om te help, maar hulle kyk almal primêr na hul eie behoeftes en het Italië dus lelik in die steek gelaat.

Drie spanne Chinese dokters en verpleegsters het reeds in Italië aangekom om die virus te help beveg. Bowendien het China 20 000 diagnose-instrumente, 100 000 maskers en 1 000 beskermende pakke vir elkeen van die 54 lande in Afrika beskikbaar gestel.

Hier laat Amerika en die EU die bal lelik val. Dit gaan om ’n kommoditeit wat ’n mens moeilik in onmiddellike geldwaarde kan meet – geloofwaardigheid en welwillendheid, dinge wat op die duur wel deeglik op ’n toename in handel en wins kan uitloop.

Maar dan moet jy in staat wees om verder te dink as wat jou neus lank is.

China en Amerika het ook in ander opsigte gebots. Trump hou, tot die yslike irritasie van Beijing, aan om van die “Chinese virus” te praat, terwyl China vandeesweek etlike Amerikaanse joernaliste uitgeskop het, sogenaamd omdat hulle leuens oor die land versprei.

In Amerika gaan ook stemme op om die wêreld se afhanklikheid van Chinese produkte en grondstowwe te verminder. Sowat 20% van die Chinese ekonomie is van sy uitvoer afhanklik, en sy grootste enkele klant is juis Amerika.

Nie alleen het globalisering die vinnige verspreiding van aansteeklike siektes bevorder nie, maar ook diep interafhanklikheid tussen ondernemings en nasies wat hulle vatbaarder vir onverwagte skokke maak.

Trump het al verskeie kere te kenne gegee hy wil die Amerikaanse ekonomiese bande met China verminder. Dit kan China seermaak, maar ook Amerika sal nie pyn vryspring nie.

Daarteenoor is daar geen teken dat die koronakrisis die betrekkinge tussen China en Rusland benadeel nie. Die grens is wel gesluit om die uitbreiding van die krisis te bekamp, maar albei se hekel aan wat hulle sien as Amerikaanse arrogansie en hegemonie is groter as hul irritasie met mekaar.

Leopold Scholtz
Leopold Scholtz.

Hoe ook al, in die gesaghebbende tydskrif Foreign Affairs skryf Henry Farrell en Abraham Newman, onderskeidelik van die George Washington- en die Georgetown-Universiteit, dat die krisis mense dwing om opnuut oor die geïntegreerde wêreldekonomie na te dink:

“Nie alleen het globalisering die vinnige verspreiding van aansteeklike siektes bevorder nie, maar ook diep interafhanklikheid tussen ondernemings en nasies wat hulle vatbaarder vir onverwagte skokke maak.

“Nou ontdek die ondernemings en nasies presies hoe kwesbaar hulle is.”

Nogtans is die les nie dat globalisering misluk het nie, skryf hulle, maar dat dit breekbaar is, ondanks of dalk danksy die voordele. “Dié pandemie herskep die geopolitiek van globalisering, maar Amerika pas nie aan nie. Inteendeel, hy is siek en skuil onder die komberse.”

Wat ook al gebeur, maak reg vir ’n stamperige rit.

  • Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  By  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.