Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Lekker uitdaging van trooskossies

Wat om as “trooskossies” saam te neem as jy ’n geliefde in die hospitaal besoek, kan nogal ’n probleem wees. Die beskikbare verskeidenheid is groot. Jy moet ’n keuse maak. In siekte soek ons mos maar almal troos in ’n lekker eetdingetjie.

My kleinkinders noem dit goodies.

Johan van Wyk

Of moet die probleem wat om saam te neem hospitaal toe as ’n “uit­daging” beskou word? Die woord “probleem” bestaan mos nie meer in Suid-Afrika nie, alles is net ’n “uitdaging”. Was dit maar so eenvoudig!

Wel, met my vrou in die hospitaal het ek die “uitdaging” aanvaar van ’n lekker trooskossie kies. Die probleem is dat ek nie kan besluit of dit biltong, aarbeie, nougat of skuinskoek, om net ’n paar gunstelinge te noem, moet wees nie.

Ek het toe maar gisteraand se oorskietgroen­boontjie­bredie met lamsvleis op rys in ’n bakkie hospitaal toe gevat. Sy het die bord hospitaalkos opsy gestoot en weggeval soos ’n koshuiskind wat die naweek by die huis is.

Soos ou Jan Spies altyd van Cremora gesê het: “Ryk en lekker, pure plaas!”

Nie dat Suid-Afrika se private hospitale se kos te versmaai is nie, afhangende nou van wat jou idee van “lekker” is. Vir sommige mense is pap by vleis lekker. Nie vir my wat met brood by vleis grootgeword het nie.

Toe ’n personeellid van die hospitaal tydens my besoek vroegoggend die spyskaart vir die dag aan my vrou voorlees, het ek dus gewonder of ek my nie tussen ryk buitelandse toeriste in die Mount Nelson-hotel in Kaapstad bevind nie.

Tussen private hospitale se spyskaarte, diep leerbanke, kunstige muurpanele, sagte beligting en die kamers se pragtige uitsigte deur groot glasvensters oor boomryke tuine kan jy jou dit nogal indink.

Daar is in elk geval nie juis ’n verskil in die prys tussen verblyf in ’n vyfsterhotel en ’n private hospitaal nie.

Wat wel verskil, is dat eersgenoemde nie soos laasgenoemde, te midde van siekte, pyn, lyding en die dood, die skyn van weelde en gemak hoef voor te hou nie.

Dit maak dat private hospitale nou ligjare verwyder is van die ou dae s’n.

Wie onthou nog die lang bleek gange, die reuk van ontsmettingsmiddels, die kwaai oujongnooimatrones, die dokters in lang wit jasse, die streng besoektye. Jy mag nie op ’n bed gesit het nie en as ’n klok gelui is om die einde van die besoektyd aan te kondig moes jy vinnig jou ry kry. In stilte. In die straat voor die hospitaal was ’n kennis­gewing: Stilte/Silence.

Nie dat darem alles verbode was nie. Jy kon dalk ’n ligte vrytjie inpas met ’n mooi jong verpleegster in rooi skoene terwyl sy jou koors meet en, wag hiervoor, jy kon in jou kamer of saal rook!

Ja, nie net jy nie, maar ook die mense wat jou kom besoek het. Jy kon selfs oorkom soos die omie toe hy vir ’n sekere operasie geskeer moes word. Toe die verpleegster die laken aftrek, sien sy klein stukkies twak in die omie se bed.

By nadere ondersoek blyk dit toe dat hy ’n bietjie gestort het toe hy sy sakkie Horse­shoe-pyptabak se inhoud uitgeskud en die “kroonjuwele” in die leë twaksakkie toegetrek het.

’n Boer maak mos ’n plan. Soos die omie wat die suster oorreed het om hom, terwyl hy voor die operasie nul per mond mog inneem, vir troos ’n beker lekker, sterk, soet, swart koffie via ’n sekere intieme prosedure te gee.

Toe die koffie begin inloop, het die ou verwytend gesê: “Maar, nursie, jy het dan nie ’n bietjie suikertjies bygesit nie!”

Ná ’n groot operasie in die ou Volkshospitaal in Kaapstad in die 1940’s was my pa minder gesteld op die koffie, maar gou moeg vir die daaglikse vaal hospitaalkos.

My ma het, teen die reëls, vir hom lekker trooskossies aangedra.

Jare daarna het hy steeds vertel hoe dit hom deurgedra het. Nou is dit my beurt. Maar jy gee nie net nie. Soos wanneer jy jou brood op die water werp, kry jy ook trooskossies terug van ’n geliefde in die hospitaal.

Toe ek gisteraand ná besoektyd loop, het my vrou ’n KitKat in my hand gedruk.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Rubriek  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.