Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
’n Mediese missionaris

Sy tegniek om erge bloeding wat vroue ná kraam kan ondervind met ’n chirurgiese handskoen en ’n kateter te stop, word deesdae aanmediese studente en -personeel geleer. Dit het aanleiding gegee tot ’n uitvindsel wat vroue in nood se lewens kan red. Engela Duvenage het prof. Gerhard Theron, voormalige hoof van die departement verloskunde en ginekologie aan die Universiteit Stellenbosch, gesels.

Prof. Gerhard Theron, voormalige hoof van die departement verloskunde en ginekologie aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: Engela Duvenage

“Die ballonnetjie van ’n sagte soort termodinamiese plastiek is die kritiese deel van die Ellavi-ontwerp,” verduidelik Chris de Villiers, Sinapi Biomedical se besturende direkteur, en die ingenieur Nardus Koekemoer later.

Die navorsingsdirekteur Nico Smit het die ontwerpproses gelei. Prof. Gerhard Theron kon deurlopend professionele insette gee.

Bekende internasionale skenkergroepe het ontwikkelingswerk ondersteun, en dit was ’n finalis in die Grand Challenges Canada-kompetisie.

In Junie by die Women Deliver-kongres in Kanada is aangekondig dat Ellavi vir verkope volgens hoë Europese CE-standaarde goed­gekeur is. Dis reeds in Suid-Afrika, Kenia en Ghana geregistreer.

Volgens Elgonda Bekker, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Vroedvroue, is die toestel breedvoerig in 2018 by die nasionale kongres vir vroedvroue bespreek. Dis is sedert verlede jaar deel van die departement van gesondheid se nasionale protokol oor die hantering van bloeding gedurende geboortes.

Bekker doseer by die Universiteit van die Vrystaat, waar studente reeds in die mediese simulasie­laboratorium geleer word om dit te gebruik. Voornemende dokters en mediese personeel elders in die land word soortgelyk touwys gemaak.

Hoekom bloei vroue soms erg ná geboorte?

Roetinegewys word vroue ná kraam die middel oksitosien ingespuit wat die baarmoeder (of uterus) help saamtrek. Soms stop nageboortelike bloeding steeds nie. Dis gewoonlik omdat te veel fibreuse weefsel al in die baarmoederspier gevorm het.

Dit gebeur veral met:

  • ouer vroue;
  • by ’n vyfde of meer swangerskappe;
  • as baie vrugwater teenwoordig was; en
  • bevallings van tweelinge of baie groot babas.

Maria verwag ’n tweeling, maar sy weet dit nog nie. Sy is vanuit ’n buurland, en bevind haar in die Kaap. Wanneer sy die eerste kraam­pyne voel, neem iemand haar na die naaste primêresorg-kraameenheid.

’n Verpleegster meet die hemoglobienvlakke in haar bloed. Dis baie laag – tipies van iemand wat in ’n malariagebied groot­geword het.

“Sy’s anemies. Nou’t jy al klaar ’n probleem. Hierdie vrou kán nie baie bloed verloor nie. Dan’s sy in baie diep moeilikheid,” beklemtoon emeritus­professor Gerhard Theron van die Universiteit Stellenbosch (US). Ná meer as vier dekades as dokter wéét Theron dat bloedverlies gedurende kraam gevaarlik is. 37 jaar lank het hy as verloskundige en ginekoloog in die openbare sektor gewerk, en mediese studente en jong spesialiste in die Tygerberg-hospitaal opgelei.

Die 68-jarige professor sit die verhaal voort in sy kantoortjie met babapienk vertikale blindings in die US se departement verloskunde en ginekologie.

Daarheen het hy in 2015, ná sy aftrede as departementele voorsitter, sy skilderye en boeke getrek.

Hy vertel hoe Maria die lewe gee aan ’n gesonde baba. En dan die verrassing van nog enetjie.

“Die vrou begin ábsóluut bloei. Dit stróóm,” benadruk hy elke woord.

Die Ellavi-toestel kom in steriele verpakkings, net reg vir ’n verpleegster, vroedvrou of dokter om te gebruik in noodgevalle.

Die vroedvrou aan diens hou kop. Sy maak ’n kas oop waarin voorraad van die Suid-Afrikaans ontwerpte Ellavi- uteriene ballonne ’n week of wat terug gepak is. Tien dae tevore het Theron en sy regterhand, suster Marvina Johnson, personeel in die einste kraameenheid geleer hoe om dit te gebruik. Vir krisisse soos Maria s’n.

Hulle het gedemonstreer hoe die rekbare ballongedeelte deur ’n vrou se oop serviks opgestoot word tot in die baarmoeder. Hoedat vloeistof binne ’n minuut uit ’n toevoersak bo die pasiënt se kop deur ’n pyp tot in die ballon vloei. Hoedat drukking gereguleer kan word om by ’n vrou se bloeddruk te pas.

Hoedat die ballon teen die baarmoederwande stu en are toedruk. En vloeistof weer uitdruk deur die pyp tot in die toevoersak as die baarmoeder saamtrek, soos dit eintlik moet doen ná ’n geboorte.

Die eerste kommersiële uteriene ballonne is reeds ’n dekade of twee beskikbaar, maar is teen ongeveer R5 000 per eenheid duurder as wat die gesondheidsektore van lae-inkomste-lande kan bekostig.

“Die suster is opgelei. Ek het haar sélf opgelei. Sy sit die Ellavi-ballon in. Sy stop die bloeding nét daar,” vertel Theron oor die proses wat in mediese terme ’n uteriene ballontamponade genoem word.

“Maria word oorgeplaas na die Tygerberg-hospitaal, waar sy bloed ontvang. Dae later gaan sy huis toe. ’n Gesonde vrou wat haar kinders kan versorg.”

Vir ’n oomblik laat Theron homself toe om soos ’n pa van ’n nuwe baba te blom.

’n Lewe is gered. Deur ’n gevulde, deurskynende ballon.

Verlede jaar het Theron in die International Journal of Gynecology and Obstetrics gerapporteer oor die eerste 19 kraam­pasiënte wie se lewens danksy die Ellavi se gebruik tussen 2016 en 2017 in Kaapse hospitale gered is.

Drie maande gelede het hy nog ’n gevallereeks begin, weer gefinansier deur die Mediese Navorsingsraad (MNR), om Ellavi se gebruik onder Kaapse vroedvroue te volg. Maria was die eerste pasiënt in dié groep.

Die vervaardiger Sinapi Biomedical verskaf dit tans gratis aan Wes-Kaapse staatsinstellings om meer kliniese data te kan in­samel. Blye boodskappe van so ver soos Beaufort-Wes en George bereik Theron sedertdien via ’n spesiale WhatsApp-groep.

Hy mag met trots daardie WhatsApps voorlees of oor vroue soos Maria uitwei, want Theron is so te sê Ellavi se oupa.

Die eerste kommersiële uteriene ballonne is reeds ’n dekade of twee beskikbaar, maar is teen ongeveer R5 000 per eenheid duurder as wat die gesondheidsektore van lae-inkomste-lande kan bekostig.

In die eeu van tegnologie het dit aan die professor bly knaag dat byna ’n vyfde van alle sterftes van ma’s in Sub-Sahara-Afrika steeds is weens hewige bloeding ná bevallings. Suid-Afrika se syfers lyk beter, maar is steeds ’n skokkende werklikheid vir te veel gesinne.

Daarteenoor kos een Ellavi-toestel sowat R150. Daarby is dit in ’n klas van sy eie. Drukking kan beheer word, en vloeistof druk terug na die sak as die baarmoeder begin saamtrek.

Tydens die 2018-FIGO-wêreldkongres van ginekoloë en verloskundiges het een van die uitvinders van die eerste kommersiële produkte Theron gelukgewens: “This is the state of the art.”

In mediese kringe is dit ’n hoenderveloomblik.

Dis gebore uit Theron se besef meer as ’n dekade gelede dat ’n spotgoedkoop uteriene ballon geskep kan word deur ’n chirurgiese handskoen reg te knip, vas te bind en saam met ’n suigkateter te gebruik.

Afrika-vindingrykheid op sy beste. Hy het dit vir sy studente begin leer. Sedert 2010 is die handskoenballon ingesluit in nasionale riglyne oor hoe om erge nageboortebloeding te beheer.

In 2015 was daar ’n werksessie in Kaapstad saam met die Stellenbosse biomediese maatskappy Sinapi Biomedical, en PATH, ’n internasionale organisasie wat met die ontwikkeling van mediese toestelle en inentings help.

Suid-Afrikaanse mediese personeel wat in noodverloskunde opgelei word, word geleer om een haastig-haastig te knoop.

In die eeu van tegnologie het dit aan die professor bly knaag dat byna ’n vyfde van alle sterftes van ma’s in Sub-Sahara-Afrika steeds is weens hewige bloeding ná bevallings. Suid-Afrika se syfers lyk beter, maar is steeds ’n skokkende werklikheid vir te veel gesinne.

Volgens die mees onlangse verslag oor sulke sterftes in Suid-Afrika is 624 vroue oor ’n driejaartydperk só dood – 21% terwyl gewag is op ’n ambulans wat dringend vervoer na ’n hospitaal kon verskaf, en 14% in die ambulans self.

Theron wring virtueel hande: “Ambulansvervoer is soms vertraag. Soms moet hulle wag vir polisiebegeleiding voor hulle na sommige kraameenhede kan gaan. Intussen bloei die vrou. Die vroedvrou sit ’n drup op. Sy vryf die uterus op en sit ’n middel in die drup sodat die baarmoeder kan saamtrek. Maar die vrou hou aan bloei.”

Hy het besef dat vroedvroue wat in gemeenskappe werk iets ekstra vir sulke noodgevalle kort. Mediese personeel verkies daarby ’n oplossing in ’n steriele verpakking wat hulle net kan gryp, oopskeur en gebruik.

So het die ontwikkeling van ’n toepaslike laekoste- kommersiële produk beland op die rakkie in Theron se kop wat hy begin bou het vir ná sy aftrede.

In ware Theron-styl het dit nie daar gebly nie. Daar was terloopse gesprekke met die president van die MNR. Mense het van mekaar begin hoor.

In 2015 was daar ’n werksessie in Kaapstad saam met die Stellenbosse biomediese maatskappy Sinapi Biomedical, en PATH, ’n internasionale organisasie wat met die ontwikkeling van mediese toestelle en inentings help.

Aan die einde van daardie dag is besluit om die beginsels van die handskoenballon te verwerk tot ’n goedkoop, kommersieel beskikbare reddingsboei.

The­ron as ’n nederige, besonderse onderwyser met ’n briljante brein, ’n hart van goud en ’n lekker humorsin.

Sy lewe gaan oor die geboorteproses, en die versorging van ma’s en hul babas. Sedert 2001 help hy navorsing doen oor HIV-positiewe swanger pasiënte, en maniere om geboortes veiliger te maak. Sy werk het hom al tot in Iran geneem as konsultant vir die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Verenigde Nasies.

Sy pa was ’n predikant. Daarom het Theron kleintyd baie rondgetrek – van Vryheid in Natal waar hy in November 1950 gebore is tot in Roodepoort, Kenia en Kuruman asook Elliot in die Oos-Kaap waar hy gematrikuleer het.

Hy het aan die US medies gaan studeer, want hy wou mense se nood en lyding verlig.

“Ek’t vroeg besef ek gaan óf vir ’n kerkorganisasie werk óf vir nieregeringsorganisasies óf die staat.”

In sy kantoortjie maak Theron sy oë oomblikke lank toe, asof hy dan die prentjies van die verlede helderder kan oproep.

“Ek’t ook baie vroeg as student besef dat om regtig ’n bydrae te maak jy dit binne ’n . . .”

Hy weifel, diplomaties op soek na die regte woorde: “Jy kan dit nie doen binne die konteks van ’n privaat praktyk nie.”

Ná sy huisdokterjaar is ’n pasgetroude Theron en sy vrou, Anneke, in 1978 twee jaar na Nkhoma in Malawi, en daarna na die Rietvlei-hospitaal in die Transkei. Dit was deel van sy beursverpligtinge aan die NG Kerk.

In Nkhoma het hy besef hoe belangrik goeie verloskunde vir ’n gemeenskap se heil is. Hoeveel beter dit is as die moeder van ’n gesin haar eie kinders kan sien grootword. Onder hoeveel minder druk ’n gemeenskap dan is.

By Rietvlei het ’n Hollander, dr. Gerrit ter Hare, reeds 30 jaar lank ’n goeie gemeen­skaps­­gesondheidstelsel vir die 100 000 mense van die Umzimkulu-distrik vanuit die hospitaal bedryf.

Theron is terug Stellenbosch toe om in verloskunde en ginekologie te spesialiseer “met die oog om gemeenskapsverloskunde verder te ontwikkel”.

Prof. Gerhard Theron hou ’n vorige weergawe van die verslag oor sterftes onder Suid-Afrikaanse vroue vas. Die jongste een wys dat 624 vroue in ’n driejaarsiklus gesterf het weens erge bloeding ná bevallings.

Hy verduidelik hoekom hy daarna na-ure studeer het aan ’n honneursgraad in statistiek en epidemiologie: “As kliniese assistent was ek baie goed opgelei om ’n individu se probleme te hanteer, maar nie ’n gemeenskap s’n nie. Ek wou graag daardie oorgang maak.”

In 1985 het Theron prof. David Woods van die Universiteit van Kaapstad in die Drakensberge by ’n kongres oor die versorging van vroue en babas rondom geboorte ontmoet – sedertdien sy groot vriend en kameraad.

Statistieke het gewys hoe verder weg van stede af mense woon, hoe groter is die kanse dat komplikasies en sterftes sal intree gedurende die geboorteproses.

Daarom het Theron en kollegas soos Woods in die 1980’s deur die ou Kaapland begin reis, om namens die provinsie bykomende opleiding aan dokters en verpleegpersoneel op die platteland te gee.

Meer as 25 jaar later is die twee steeds besig om danksy die trust sonder winsbejag wat hulle gestig het, so ver moontlik goedkoop handleidings oor die mediese sorg aan moeders, pasgebore babas en kinders te skryf.

Die eerstes was soos dik telefoongidse, en die twee professore het drie jaar lank daaraan geskryf. By distrikshospitale het per­soneel studiegroepe begin vorm, en saam daaruit geleer.

Nadat die uitgewery Electric Bookworks van Arthur Attwell betrokke geraak het, is boeke professioneel onder die Better Care-vaandel uitgegee. Bykomende outeurs is betrek.

Eksemplare van die 22 Better Care-handleidings pryk soos slanke dokters in wit oorjasse op Theron se boekrak.

Meer as 100 00 daarvan is al versprei. ’n Webblad met opvoedkundige materiaal en demon­strasie­video’s verskaf gratis internetgebaseerde toegang tot die studiehandleidings.

Een van Theron se trotsste professionele oomblikke was ’n referaat oor hul afstandsonderrig by ’n Keniaanse kongres. ’n Afgevaardigde van die Sweedse Internasionale Ontwikkelings-agentskap (SIDA) het hom gehoor, en in 2003 na die befaamde Karolina-Instituut genooi.

In ’n reeks lesings moes hy vir die Swede verduidelik hoe ’n klein Suid-Afrikaanse spannetjie ’n perinatale afstandsonderrigprogram jare al volhoubaar kon bedryf.

Hul geheim?

“Omdat ons dit van die begin af nie vir geld gedoen het nie,” verduidelik hy toe bloot saaklik.

Lewens eerste, voortdurend sy motto.

Meer oor:  Universiteit Stellenbosch  |  Kraam  |  Gesondheid  |  Profiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.