Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Ná wind en water weg is

Twee maande nadat die sikloon Idai Mosambiek gefolter het, het ’n span sendelinge die gebiede gaan besoek wat die ergste geraak is. Leon-Ben Lamprecht het saamgery.

Winde van verwoesting: Die sikloon Idai, wat Mosambiek in Maart getref het, se winde het plek-plek teen meer as 200 km/h gewaai. By Nova Sofala het dit bome om­gestoot.Foto’s: LEON-BEN LAMPRECHT

Past. Gabriel Chibota kyk uit oor die vernietigde mielielande. “Meer as 50 mense is hier dood. Water het van albei kante gekom,” verduidelik hy in Portugees.

Ons is op pad na Buzi. Dit is sowat 1 000 km padlangs noord van Maputo, en seker sowat 60 km, soos die kraai vlieg, suidwes van Beira.

Llewellyn Oliver, leraar van die Lewende Gemeente Maputo, vertaal die pastoor se woorde, en voeg by: “Hierdie sikloon het Mosambiek 20 jaar terug­gesit.”

Die sikloon waarna Llewellyn verwys is Idai. Dié storm het in Maart vanjaar vernietiging gesaai deur Mosambiek, Malawi, Madagaskar en Zimbabwe. Veral Mosambiek het erg deurgeloop.

Die syfers stuit ’n mens: Meer as 1 000 mense is dood. Meer as 2 000 is steeds vermis. Die Wêreldbank reken Idai het meer as $2 miljard se skade aangerig.

The New York Times beskryf dit as een van die ergste weer-rampe tot nog toe in die Suidelike Halfrond. Dis nou Mei, twee maande ná die storm.

Past. Chibota, ’n gesette middeljarige man en moderator van die Igreja Reformada em Moçambique-kerk se Novo-streek (ook bekend as die IRM, of dan die Mosambiekse Gereformeerde Kerk), kyk uit oor die vlakte.

Inwoners bewerk lande en plant mielies.

“Hier is geen bome nie, nêrens om te skuil nie. Die wind het eers gekom, in die aand. En twee dae later die water.”

Ek reis saam met Llewellyn en past. Chibota in ’n geel Land Rover van Maputo na Beira. Saam met ons is Anna Schoonhoven, ’n Nederlandse student wat op ’n sabbatsjaar deur Afrika reis, en Riëtte Botha, traumaberader van die Petra-instituut vir kinderbediening.

Benewens die sleepwa met tonne klere wat ons in Buzi by die IRM-gemeente daar gaan aflaai, is ons hier om te peil wat die behoeftes is. Ek is deur Kerkbode gestuur op hierdie missie. Ons gaan met moeilike grondpaaie ry om te sien wat op voetsoolvlak gebeur; en gekonfronteer word met armoede en vernietiging, maar ook hoop en vreugde.

Rosa Macura moes voor dagbreek vlug toe die vloede van Idai haar huis oorval. Die water het gespoel tot waar die bruin streep sit.

Dag 1 en 2: Maputo na Estaquinha

Van Maputo, waar ek land, tot Beira is omtrent 1 500 km padlangs. Vir Suid-Afrikaners gewoond aan die N1 klink dit nie ver nie, maar ek leer met my aankoms vinnig ’n paar dinge.

Eerstens: My vlug was vertraag, en dit maak Llewellyn angstig, want “in Mosambiek moet jy probeer om nie snags te ry nie”. Tweedens: Mosambiek is ’n smal land. In elk geval tot die sentrale dele, voordat die land soos ’n kerfvurk in twee verdeel. Daar is ’n korter, maerder tand, weslangs Malawi toe tot teen die grens met Zambië.

En dan ’n langer en vetter tand, tot teen die grens met Tanzanië. Die gevolg is dat daar net een hoofpad is Beira toe, en dít is bésig. Taxi’s, of chapas, is volop. Derdens: Mosambiekers langs die hoofweg leef teen die pad. Oral vind jy klein winkeltjies wat 2M-bier en Vodafone-lugtyd adverteer. Daar is ook informele stalletjies wat van mieliemeel en vars kokosneute tot Real Madrid-truie en braaihoender peri-peri verkoop. Voete­verkeer is druk.

Ons ry vanaand tot by Chicorôa, sowat 100 km suidwes van Inhambane en 380 km noordoos van Maputo. Ná middernag wag Erica Blickens, ’n sending­weker vir Africa for Christ, ons in. Dis op hul kampus waar ons oornag. Voordat ons die volgende oggend met dagbreek in die pad val, vertel dié blondine sy is van New Jersey, en al ses jaar sendeling hier.

“Mense in die sekulêre wêreld dink ‘as ek in sendingwerk was, het ek meer vervuld gevoel’. Dis nie so nie. Op ’n sekere vlak is dit steeds ’n werk. En befondsing is ’n kwessie. Maar God is genadig en verskaf wat ons nodig het.”

Ons klim in die Landy. Vandag tem ons die 600 km tussen hier en Estaquinha.

Die paaie in die platteland het ook pak gekry, en ’n 4x4 is nodig.

Net buite Inhambane sien ons mans met pangas wat die gras langs die pad kort hou. En Mosambiekers wat enigiets per fiets vervoer – kinders, palmplanke, goiingsakke propvol tuisgemaakte houtskool.

Dis ook hier waar die slag­gate verskyn, en die wit- en geel­strepe op die pad verdwyn. “May I remind you dis die nasionale, en énigste, pad na die noorde,” sê Llewellyn opgewek. Anna lyk totaal oorbluf.

Mosambiek is ’n arm land. Die Wêreldbank bereken dié land se per capita-inkomste in 2018 op $490. Dít in vergelyking met Suid-Afrika se $6 339, en lae-inkomstelande se gemiddeld van $811.

Die land dra steeds die lit­tekens van die burgeroorlog tussen Frelimo en Renamo wat van 1977 tot 1992 gewoed het. Daar vlam elke nou en dan weer konflik op, so onlangs as 2016. “Dis die ding – die land het nou net van die konflik herstel, en nou Idai,” sê Llewellyn.

Nader aan Vilankulo sien jy dwarrelende rookkolomme wat die lug in trek, binneland se kant toe. Dis vir kosmaak, en vullis verbrand.

Dis ’n tropiese land, en opvallend dat skoolmeisies lang rompe dra. Dis om te verhoed “dat die onderwysers lustful na hulle kyk”, verduidelik Riëtte.

By Muxungue draai ons af na Estaquinha. Dis al weer byna middernag toe ons gaan slaap.

George John Matteu (links) en sy span het twee maande nadat Idai getref het nog waterpoele gespuit om malaria af te weer.

Dag 3 en 4: Estaquinha na Buzi

Vroegoggend buite die Katolieke skool-en-sending waar ons oornag het, hardloop kinders jillend rond. Hier staan ’n reuse- wit tent. Dit huisves Navis, ’n Duitse hulpverleningsorganisasie. Leuse: “Immediate help with­out borders.” Mark Hübner en sy span is aan die ontbytmaak.

Hulle het kom waterpompe in die omgewing regmaak. “Sommige van die probleme is die storm, maar sommige is maar Afrika. As daar ’n krisis is, wil almal voordeel trek.”

Ons mik Buzi toe. Dis hier waar ons die eerste keer wérklik die impak van die storm­skade sien, en dis hier waar past. Chibota vertel van die 50 mense wat dood is en 206 families in nood ná die ramp (die IRM tel nie gemeentelede nie, maar families). Maar die lewe gaan aan. Mense pomp drinkwater in geel emmers, droog mielies om dit te maal. Kinders stap skool toe of speel sokker. Dít alles langs die vernietigde oeste.

Maar ook daar skoffel inwoners om nuwe gewasse te plant.

Idai het as ’n katego­rie 2- storm getref, maar is later opgradeer tot kategorie 3. Daar is verskeie teorieë oor waarom die impak so erg was: van klimaatsverandering tot ontbossing. En die impak wás erg.

Ons stop by Rosa Macura se huis langs die pad. Daar sit ’n bruin streep reg om die huis net onder die dak waar die watervlak was. Sy het vieruur die oggend gehoor die water kom.

Sy kon drie dae later terugkeer, maar die voorraad in haar winkel, wat sy uit haar huis bedryf, het weggespoel.

Klere vir die behoeftige IRM-gemeente in Buzi word afgelaai. Regs is Llewellyn Oliver, leraar van die Lewende Gemeente Maputo.

Buzi is genoem na die gelyknamige rivier, op wie se oewer hy sit. Hier het eens 7 000 mense gewerk. Die reusekatoen­fabriek is oorgroei met gras en onkruid, en die masjinerie staan ongebruik. Ons laai die klere af by die plaaslike IRM-gemeente, en draai Nova Sofala toe, sowat 40 km per pad, vir die aand.

Hier is die impak van die wind oral sigbaar: Palmbome wys in dieselfde oostelike rigting; selfs kremetarte is nie deur die wind ontsien nie. Sommige bome het huise te pletter geval. By die IRM-gemeente in Nova Sofala tref ons Willem Nel aan, ’n sendeling van die Volta a Biblia-Bybelskool. Willem vertel dat die plaaslike leraar se huis platgewaai is deur Idai.

Past. Mandava Antonio het sy siek ma in Buzi gaan besoek toe die storm tref. Hy was drie dae met sy gesin in ’n boom vasgekeer. “Toe hy terugkom, moes hy sien sy huis het om­gewaai.

Die gemeente het al hulle besittings betyds uitgedra. Hier is ’n verskriklike mooi gees,” sê Willem. Voordat ons tent opslaan, help ons om kospakkies vir gemeentelede uit te deel: ’n sak rys, twee sakkies boontjies, ’n vyfliterkan kookolie.

Die volgende oggend, voordat ons weer pad vat, gesels ek met Sybil Baloyi, eienaar van die Hlawuleka-privaat skool in Chokwe (dit is sowat 740 km suid van Nova Sofala). Sybil was eers ’n sendeling, en in tye van nood kom help sy altyd weer.

Een van die uitdagings van sendingwerk is om konteks te gee vir diegene wat nie die Bybel ken nie. Byvoorbeeld, in die Tsonga-Bybel, pleks van Jesus as “die brood van die lewe”, praat die vertaling van die “chima van die lewe”. Chima is pap in Tsonga.

“In Tsonga-kultuur is brood ’n luukse. As ons nie brood het nie, gee ons nie om nie, maar as ons nie chima het nie, is daar hongersnood.”

Terug in Buzi word klere uitgedeel. Daar is hope gevorm – vroueklere, kinderklere, ensovoorts. Een persoon per familie kry kans om iets van elke hoop te vat. Gemeentelede dans en sing; ander mor oor die volg­orde waarin gekies word.

William Moeana was drie dae lank in sy huis vasgekeer toe Idai tref.

Dag 5, 6 en 7: Buzi na Beira

Vroegoggend tref ek, Llewellyn en past. Chibota die pad. Ons vaar met ’n pontdiens oor die Buzi, en vat van daar motorfietstaxi’s tot by Guara-Guara.

Op pad dink ek aan my gesprek met Llewellyn die vorige aand. In wese is die nadraai van Idai ’n gebrek aan voedselsekerheid. Ja, die onmiddellike nood was kos, en geld vir herbou. En in daardie opsig is dit ’n goeienuusstorie – baie kos en geld is ingesamel.

Maar met oeste wat vernietig is, en die reënseisoen nog ses maande weg . . . In Guara-Guara is ’n vlugtelingkamp opgerig waar almal van die Verenigde Nasies (VN) tot Oxfam help. Behoeftiges van Buzi is hierheen gebring, want die regering vrees toekomstige vloede se impak.

Ook hier is geknoeide mielielande en weggespoelde rysvelde. Om sake te vererger is die nuwe plotte wat uitgepen is te klein vir aanplantings. ’n Oxfam-noodwerker vertel: “Nou deel die regering nog rys en olie en bone uit, maar weens die verlore oes gaan hierdie ’n langtermynprobleem wees.”

Op die terugrit vra ek Llewellyn hieroor uit. “Wat die mense nodig het, is die hoop wat net die evangelie bring. As ons net kos en klere gee, kan ons net sowel die VN wees. Ons moet Christus se liefde kom wys.”

Van Buzi ry ons Bandua toe, sowat 35 km suidwes. Ons kry Mama Ruthi Jacobe, ’n ouderling van die Bandua-IRM-gemeente, by haar huis. Sy en sewe kinders moes vier dae lank in ’n boom teen die vloedwaters skuil – sonder kos of water.

Toe sy op Saterdag 16 Maart die water hoor kom, het sy die kinders gegryp en gevlug. “Die moeilikste was om almal wakker te hou, want jy’s bang hulle val in die water.” En soos Riëtte opmerk – jy kan jou voorstel wat onder jou verbyspoel.

Beira was in die oog van die storm en is hard getref. By die seekant van dié hawestad is steeds ontwortelde bome wat rondlê.

Ander mense saam met Mama Ruthi in die boom het komberse of capulanas (’n soort Mosambiekse sarong) gehad om hulle aan die takke vas te knoop; nie hulle nie. Langs hul boom, op die plaaslike skool se dak, het nog 200 mense geskuil, terwyl die water aan die nok gelek het.

By Bandua se IRM-kerk slaan ons tent op. Ek gesels met Mark Harper, sendeling van Pro Vision. Hy en sy vrou, Les, en Johan van Helsdingen (van Africa for Christ Ministries) het kom uithelp met waterfiltrering. Bandua se krag is al maande af, en hul kragopwekker word deur die dorp gebruik.

“Hierdie mense was brandarm voor hierdie sikloon getref het. Maar die Here is goed. Ons plan was om 21 families hier te kom help. Op die end het ons al 600 families bygestaan.”

Vroegoggend ry ons Beira toe. Dis net sowat 350 km, maar meer as sewe uur. Grootliks omdat die EN6-pad tussen Inchope en Beira in lang stroke deur die Idai-water tot enkelbaanpad weggekalwe is.

Ons laai Gabriel by sy ouerhuis in Dondo af. By die IRM-kerk in Beira ontvang past. Alberto Fane ons met ’n ete van pasta, pap, gekookte aartappels, brood en gebakte eiers. Ons slaan tent op in die kerk self, waar die maan blou skyn deur die plastiekseil wat as nooddak vir die gebou dien ná Idai.

Die volgende oggend gaan verken ons die stad. Hier woon ’n halfmiljoen mense. Idai is op 15 Maart vanjaar hierdeur, en Beira was in die oog van die storm. In die welaf woonbuurt Marora is steeds huise sonder dakke. Die Katolieke kerk Sagrado Coração de Jesus in Macuti, die toeristestreek, is dakloos en grootliks muurloos.

In die ou Grande Hotel, langs Avenida Mateus Sansao Muthemba, woon ’n geskatte 3 000 mense. Dis ’n vertikale krotbuurt, en is geruk deur Idai se winde van 200 km/h. Die inwoners het die meeste van hul besittings verloor, en is afhanklik van kosskenkings. Die Avenida Mateus Sansao Muthemba het enorme gate in waar die stormsee dele teerpad ingesluk het.

Ross Muir, eienaar van Biques-restaurant, reg teen die strand in Macuti, vertel uit sy kroeg (waar Joel Stransky se 1995-wenskopfoto teen die muur hang) wat hom bybly is die klank. “Ek is al deur drie of vier siklone, maar die een was so sterk . . . Jy het net die wind hoor huil, bome hoor losskeur en hoe dakke afgeruk word.”

Dis my laaste aand in Mosambiek. Ek dink terug aan iets wat Willem Nel vertel het: “Die interessante ding (van so ’n ramp), Europeërs bevraagteken hul geloof, maar vir Afrika-ouens versterk dit hulle geloof . . . Hulle sê God het ons net kom wys hoe groot Hy is.”

* Lamprecht is deur Kerkbode na Mosambiek gestuur. Besoek www.kerkbode.co.za vir meer omgeestories soos dié.

Meer oor:  Mosambiek  |  Aktueel  |  Omgewing  |  Sikloon Idai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.