Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Ou en nuwe griewe in ’n lug vol oliedampe

Amerika en Iran het nog nie die punt bereik waar omdraai onmoontlik is nie.Maar hulle beweeg wel nader daaraan. Leopold Scholtz probeer die ingewikkelde situasie in verstaanbare elemente uitmekaar haal.

Foto: Getty images
Foto: Getty images

Amerika en Iran is naby aan ’n ontploffing. ’n Enkele vonk is al wat nodig is om die atmos­feer, vol olie- en kruitdampe, te laat ontplof.

Lanklaas was daar ’n krisispunt in die wêreld wat so ingewikkeld is as dié in en rondom die Persiese Golf. Dis soos ’n bord spaghetti, met ’n klomp slierte wat vervleg lê en wat een vir een uitmekaar gehaal en langs mekaar neergelê moet word om die probleem te verstaan.

Sliert een is die dekades oue vyandskap tussen Iran en Amerika.

Eintlik dateer dit al van 1953, toe Amerika ingemeng het om ’n linkse regering in Teheran tot ’n val te bring en die konserwatiewe sjah aan die bewind te plaas.

Onder die sjah was Iran lank ’n Amerikaanse vriend, maar die sjah se verset teen die algemene binnelandse ontevredenheid het eindelik in 1979 gebreek toe hy in ’n Islamitiese revolusie verdryf is.

Sedertdien is Amerika en Iran doodsvyande. Iran beskou Amerika as die “Groot Satan” wat verdelg moet word; die Amerikaners sien Iran as die aanstigter van grootskaalse onstabiliteit in die Midde-Ooste.

Die tweede sliert is die religieuse burgeroorlog in Islam tussen die Sjiïete en Soenniete.

Die Sjiïete, die minderheid in Islam in die breë, beheer Iran, maar oefen ook groot invloed uit in Irak, Sirië, Libanon en Jemen.

Die burgeroorloë in Sirië en Jemen, en die voortdurende onstabiliteit in Libanon en Irak word almal in mindere of meerdere mate deur die teenstelling tussen die Sjiïete en Soenniete bepaal.

Die derde is etnies van aard. Dit is die kloof tussen Arabiere, Iraniërs, Koerde en in mindere mate ook Turke en Israeli’s.

Die groepe haat mekaar grondig en vind dit onmoontlik om saam te werk.

’n Vierde sliert is die vrees dat Iran kernwapens kan ontwikkel en daarmee ’n ramp in die Midde-Ooste kan veroorsaak.

Tot die internasionale ooreenkoms van 2015 was Iran volgens Westerse intelligensiedienste aktief besig met ’n kernwapenprogram. Ontkennings van Teheran is in die Weste as ongeloofwaardig gesien.

Dus het die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad saam met Duitsland in 2015 ’n ooreenkoms met Iran gesluit. Daarvolgens het Iran beloof om sy kernwapenprogram onder toesig van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) af te breek, en van sy reeds verrykte uraan ontslae te raak.

Dit het grotendeels gewerk. Luidens die IAEA, wat gereeld onverwagte inspeksiebesoeke aflê, het Iran hom – tot dusver – aan die ooreenkoms gehou.

Wat die ooreenkoms nié aan bande gelê het nie, was Iran se destabiliserende rol in die burgeroorloë in Sirië en Jemen.

En dus, toe Donald Trump begin 2017 in die Withuis intrek, het sy regering onmiddellik skoor met Iran begin soek en Amerika aan die internasionale ooreenkoms onttrek.

In Teheran word die burgerlike regering gelei deur pres. Hassan Roehani, ’n relatief gematigde figuur, maar sy invloed is beperk. Die eintlike baas van die plaas is Ali Khamenei, die religieuse leier.

Dit het die vyandskap tussen Iran en Amerika ’n verdere hupstoot gegee.

Die vyfde sliert is die posisie van Israel. Die Iranse regime haat Israel met ’n ongelooflike passie. As hy maar ’n halwe kans sou kry, sou hy dié land van die wêreldkaart vee.

In die jaar of twee voor die 2015-ooreenkoms het dit meer as een keer so byna-byna tot oorlog tussen die twee gelei. Die Israeliese lugmag het verskeie kere sigbare oefeninge gedoen om te wys dat hy in staat is om Iran baie seer te maak, en dit het die Obama-regering groot moeite gekos om Israel te keer.

Die probleem is dat Israel nie in staat is om ’n volgehoue reeks lugaanvalle uit te voer nie; Amerika sou dit moes aanvul.

En ná die rampspoedige Amerikaanse bemoeienis in Irak en Afganistan was pres. Barack Obama nie gewillig om sy kop in nóg ’n byenes te steek nie.

Daar is ook ’n sesde sliert. In sowel Washington as Teheran is daar groot verdeeldheid oor hoe om op te tree.

In Washington het Donald Trump aan bewind gekom met ’n belofte om Amerika uit buitelandse konflikte te hou, en hy het dus nie eintlik ooghare vir ’n oorlog met Iran nie. Hy verkies sanksies en ekonomiese druk.

Sy veiligheidsraadgewer, John Bolton (van hom word gesê hy het nog nooit ’n oorlog gesien waarvan hy nié hou nie), doen egter groot moeite om die spanning te verhoog.

Die nuwe aangewese minister van verdediging, Mark Esper, staan eweneens bekend as ’n valk, wat die druk op Trump kan verhoog.

In Teheran word die burgerlike regering gelei deur pres. Hassan Roehani, ’n relatief gematigde figuur, maar sy invloed is beperk.

Die eintlike baas van die plaas is Ali Khamenei, die religieuse leier, eweneens ’n valk wat die Sjiïtiese vorm van die Islam graag aan die res van die wêreld wil opdwing.

Hy word gesteun deur genl. Hossein Soleimani, magtige bevelvoerder van die Iranse Revolusionêre Garde, wat in die praktyk meer invloed as Roehani het. Die onlangse aanvalle op vier tenkskepe in die Persiese Golf, word in intelligensiekringe in die Weste gemeen, is op sy bevel uitgevoer.

Dié aanvalle is moontlik uitgevoer in die hoop dat dit die vonk in die kruitvat kan word. Trump word gesien as ’n wispelturige man wat maklik tot oorreaksie uitgelok kan word.

’n Sewende sliert is dat twee buitelandse groot moondhede, Amerika en Rusland, hulle aktief met die saak bemoei. Dit maak enige oplossing aansienlik ingewikkelder.

Tot dusver lyk dit egter nie of Trump hom wil laat verlei nie. Hy het reeds uitdruklik gesê hy soek nie oorlog nie, en het die aanvalle op die tenkskepe as “klein” bestempel.

Wat hy wel gedoen het, was om ’n vliegdekskip, ’n eskader B-52-bomwerpers en 2 500 troepe na die Persiese Golf te verplaas. Die verskuiwing van die troepe, wat op ’n brigade neerkom, is maar simbolies van aard, want dis hopeloos te min om Iran aan te val.

Trouens, Amerika se militêre opsies is beperk. Iran is aansienlik sterker as Irak destyds, en ’n inval sal waarskynlik groot Amerikaanse ongevalle meebring, die laaste ding wat Trump – luidens peilings al klaar taamlik ongewild – soek.

Lugaanvalle is ’n beter (dalk eerder: minder slegte) opsie. Maar ook dít kan sake bloot vererger.

Die laaste sliert is dat Iran intussen aangekondig het dat hy ’n sentrale element van die 2015-verdrag gaan verbreek. Die verdrag laat hom toe om ’n sekere hoeveelheid uraan te hê wat tot 20% verryk is.

Dis voldoende vir mediese doeleindes, soos kankerbestraling, röntgenfoto’s en so meer. Om kernwapens te vervaardig, moet die uraan tot 90% verryk word.

Die Iranse stap is dus eweneens simbolies van aard, maar daarmee word wel ’n middelvinger na die internasionale gemeenskap gewys.

En daarmee kom die wêreld ook weer ’n millimeter of twee nader aan ’n konflik.

Hoe ingewikkelder ’n situasie, hoe moeiliker om ’n ongeluk te voorkom. En die Persiese Golf, so lyk dit, is ’n ongeluk wat ’n plek soek om te gebeur.

  • Scholtz is ’n onafhanklike politieke kommentator.
Meer oor:  Amerika  |  Iran  |  Olie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.