Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Yslike treinsmêsj al meer moontlik

In Washington word die slagordes opgestel vir ’n politieke geveg wat die heftigste en vuilste botsing ooit in Amerika kan word. Dit is die voorbereiding van die Demokrate om pres. Donald Trump kragtens die grondwet af te sit. Leopold Scholtz maak ’n bestekopname van waar sake tans staan.

Ilustrasie: ARGIEF

Wat gebeur as ’n onstuitbare krag teen ’n onbeweeglike voorwerp bots? Oor dié speelse vraag het die antieke Grieke al gegis, maar die antwoord kan tans in Washington gesien word: ’n yslike politieke treinsmêsj.

Die kern van wat tans gebeur, is eenvoudig. Die Demokrate wil pres. Donald Trump uit die Withuis verdryf en een van hul eie mense daar laat intrek. Die Republikeine wil dit voorkom.

Dit gaan in die eerste plek uiteraard en primêr om die politieke mag. Maar daar is bykomende faktore.

Die meeste Demokrate beskou Trump se wisselvallige beleid – wat vandag só is, kan môre heel anders wees – as sleg vir Amerika se belange. Vanselfsprekend sien Trump se ondersteuners dit anders; hulle meen hy is die eerste president wat onbeskaamd vir Amerika se belange opkom en die res na die hel verwys.

Wat Trump se posisie egter verswak, selfs onder sommige Republikeine, is sy openlik onbeskofte, gereelde beledigings teenoor alles wat leef en beef, teenoor vyand en dikwels ook vriend. Dit kan beteken dat Trump op ’n beslissende oomblik, wanneer hy kwesbaar is, deur sy bondgenote in die steek gelaat word.

Die Demokrate het hul hoop lank gevestig op die verslag van die spesiale ondersoeker Robert Mueller oor Trump se beweerde samespanning met Rusland om 2016 se verkiesing in sy eie guns te swaai. Mueller het egter nie die rokende pistool uitgehaal nie: Die Trump-verkiesingspan was wel ontvanklik vir Russiese hulp, maar het uiteindelik nie op ’n strafbare manier daarop ingegaan nie, was sy gevolgtrekking.

Mueller het wel tien voorbeelde ontleed van waar die Trump-span regsverydeling gepleeg het deur die ondersoek na die saak te probeer saboteer.

Maar weens die beleid van die departement van justisie (wat al dekades bestaan) dat ’n dienende president nie in ’n strafhof aangekla kan word nie, het hy te kenne gegee die Kongres moet nou die stokkie oorneem.

Niemand kon mooi agterkom of hy bedoel het Trump moet in ’n amptelike staat van beskuldiging (bekend as “impeachment”) gestel word nie.

Bowendien was die saak lank en uitgerek en buitengewoon ingewikkeld, en die kiesers het van verveling gegaap. Dit was nie ’n bal waarmee die Demokrate kon hardloop nie.

Toe bars die huidige bom. ’n Fluitjieblaser, blykbaar ’n werknemer van die CIA wat ’n tyd na die Withuis afgedeel was, het beweer dat Trump pres. Wolodimir Zelenski van die Oekraïne gevra het om skietgoed teen oud-visepres. Joe Biden te vind.

Aangesien Biden ’n goeie kans staan om die Demokrate se amptelike presidentskandidaat te word, het dit beteken dat Trump ’n buitelandse regering vra om in die Amerikaanse verkiesing in te meng.

Dít was ’n eenvoudige, maklik verstaanbare kwessie. Dus het die Demokrate dit met albei hande aangegryp en begin met die voorbereiding vir die formele klagte.

Peilings wys dat steeds meer Amerikaners, waaronder ’n minderheid Republikeine, ten gunste van die klag is. Dit kan vorentoe natuurlik verander, maar in dié stadium voorspel dit niks goeds vir die president nie.

Die reaksie in die Withuis en kringe om Trump kom neer op paniek. Daar staan nie wat daar staan nie, word gesê.

Die fluitjieblaser se klag is hoorsê, is die verweer. Wat waar is, maar die besonderhede wat hy gee, klop presies met die verslag van die gewraakte telefoongesprek en ander getuienis wat die Withuis self uitgereik het.

Luidens die verslag begin Trump deur uitvoerig aan Zelenski te vertel wat Amerika alles vir die Oekraïne doen. Dan vra Zelenski Javelin-tenkafweermissiele.

Onmiddellik antwoord Trump dat hy ’n guns van Zelenski wil vra. Eintlik vra hy twee gunste.

Die eerste is dat Zelenski ’n maatskappy wat glo duisende verlore e-posse van Hillary Clinton het, moet ondersoek. Dit gaan dus om die legitimering van Trump se verkiesingsoorwinning van 2016 (wat klaarblyklik steeds by hom spook).

Die tweede is dat Zelenski ondersoek moet instel na bewerings dat Biden in 2015 ’n Oekraïense aanklaer laat afdank het omdat dié beweerde korrupsie van Biden se seun, Hunter, ondersoek het. Daar is geen uitdruklike dreiging nie. Maar die opskorting van die militêre hulp ’n paar dae tevore was al klaar ’n onmiskenbare boodskap.

Sedertdien het bekend geword dat Trump nóg twee buitelandse leiers, premiers Boris Johnson van Brittanje en Scott Morrisson van Australië, gevra het om ondersoek na die oorsprong van die Muellerverslag in te stel. Dit is nie naastenby op dieselfde vlak as sy versoek aan Zelenski nie, maar die Demokrate sien dit as verswarende getuienis.

Trump se verdedigers hou vol die president het niks gesê wat hy nie mog nie en dat hy volkome geregtig was om só ’n “versoek” te rig. In die Amerikaanse politieke kultuur is dit egter ’n doodsonde as ’n president ’n buitelandse leier vra om skietgoed te vind oor die president se politieke opponent.

Wat dit des te erger maak, is oorweldigende getuienis dat Hunter Biden eers op die toneel opgedaag het nadat die korrupsie waarby Trump hom wil betrek, al klaar en verby was.

Hoe gaan sake verder verloop?

Wel, die Demokrate het nou ’n hele klomp dagvaardings uitgereik om relevante dokumente by die Withuis en die departement van buitelandse sake te kry en om getuienis voor die intelligensiekomitee van die Huis van Verteenwoordigers te lewer.

Daarna sal ’n aanbeveling aan die Huis gemaak word, wat Trump met ’n gewone meerderheid by die Senaat kan aankla.

Die Senaat, onder voorsitterskap van die hoofregter, tree op as jurie en moet die president met ’n tweederdemeerderheid skuldig bevind. As dit gebeur, is hy afgesit. In die lig van die Republikeinse meerderheid in die Senaat, lyk dit onwaarskynlik. Minstens 20 Republikeinse senatore sal teen Trump moet stem.

Dit lyk dus of Trump die afsettingspoging sal oorleef. Die groot vraag is of dit sy herverkiesing in November aanstaande jaar gaan bevoordeel of benadeel.

Die onthullings oor Trump se telefoongesprek met Zelenski het hom geen goed gedoen nie. Peilings wys ’n duidelike swaai, selfs onder Republikeine, in die rigting van steun vir die aanklag – ’n swaai wat elke dag groei.

Trump se onbeskofte gedrag verminder ook die simpatie wat hy andersins sou kon gehad het.

Maar dit alles beteken nie hy gaan die verkiesing dus verloor nie. Daar is nog 13 maande oor voor die kiesers stembus toe moet gaan, en in die politiek is dit ’n ewigheid.

Trump se vaste ondersteunersbasis staan by hom, kom wat wil. Sy ergste teenstanders sal onder alle omstandighede teen hom stem. Die vraag is wat die vlottende stem gaan doen.

* Trump het vandeesweek teenoor joernaliste buite die Withuis toegegee hy wil hê dat Oekraïne Biden weens beweerde korrupsie moet ondersoek, ondanks vroeëre ontkennings.

Hy het bygevoeg China moet dit ook doen. ’n Kommentator se reaksie was: “Dis asof Richard Nixon erken het dat hy die inbraak by Watergate beveel het.”

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Pres. Donald Trump  |  Menings  |  Politiek  |  Wêreld  |  Rubriek  |  Staat Van Beskuldiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.