Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Century City ’n toekomsstad
Foto’s: VERSKAF

Die alombekende Kaapse ontwikkeling Century City het nie net oor die laaste twee dekades in ’n multigenerasie-leefomgewing met verskeie geriewe ontwikkel nie, maar is ook vandag een van die land se voorste slimstede.

“Om ’n slimstad te wees is nie iets waarna ons streef nie,” verduidelik Chris Blackshaw, die uitvoerende hoof van Century City se vereniging vir eiendomseienaars (CCPOA), luidens ’n verklaring.

“Ons is ’n praktiserende slimstad met ’n reputasie van innovasie wat oor twee dekades strek,” sê hy.

Blik op ontwikkeling

Century City beslaan al altesaam 250 ha en word deur die CCPOA bestuur. Die ontwikkeling sluit onder meer vyf hotelle, die Century City-konferensiesentrum, Curro junior- en seniorskole en twee Educare-sentrums in, sowel as die aftreeoord-ontwikkeling Oasis Luxury Resort en die Oasis-sorgsentrum vir verswakte bejaardes.

Daarbenewens is daar ook altesaam 454 250 m² se kantoorruimte en 212 000 m² se winkelruimte wat deur verskeie verhuurders besit en vir eie gebruik aangewend, of uitverhuur word. Dít het meer as 700 sakeondernemings in Century City tot stand gebring, wat op sy beurt weer duisende mense in diens neem.

Luidens die verklaring kry Century City ook jaarliks 21 miljoen besoekers. Daar is altesaam 4 000 voordeure in die woongebied, met 12 000 mense wat na raming tans in die omgewing woon.

Slim, slimmer . . .

“Om ’n slimstad te wees is ’n kulminasie van al die beste praktyke wat die CCPOA daagliks instel en toepas. Sommige van hierdie praktyke is reeds in plek sedert die ontstaan van Century City,” verduidelik Blackshaw.

“Deur aan te kondig dat Century City reeds oor verskeie segmente heen ’n slimstad is en deurlopend daaraan werk om hierdie segmente te verbeter, verder te innoveer en daarby te voeg, wil ons mense bewus maak van wat Century City alles vir ondernemings, inwoners en besoekers bied. Só vestig ons Century City ook as die eerste geïmplementeerde slimstad in die land,” sê hy.

“Waar daar nog net voornemens in ander gebiede en stede aangekondig en planne in plek gestel is, het Century City reeds ’n reputasie vir die suksesvolle implementering van kundigheid en innovasie in die sogenaamde slimstad-segmente wat ons geïdentifiseer het,” voer Blackshaw aan.

Só werk dit

Century City se slimstad-filosofie is om slimpraktyke te integreer en deel te maak van die alledaagse lewe, deur al die belanghebbendes hier – verhuurders, ontwikkelaars, inwoners en huurders, sowel as alle eksterne rolspelers soos diensverskaffers – aan te moedig om aktief deel te wees van die doelwit om Century City nie net as ’n slimstad, maar ook ’n toekomsstad te vestig, sê Blackshaw.

Dít behels dat belanghebbendes hul unieke rolle in Century City met hierdie doelwit belyn, deur middel van hoe hulle sake doen en waarin hulle belê.

Volgens Blackshaw word hierdie filosofie as volg in Century City geïmplementeer: “Ons het vyf sleutel-slimstad-segmente geïdentifiseer wat die basis van ons slimstad-filosofie in die praktyk behels, naamlik: slim stedelike stadsbestuur, slim omgewingsvolhoubaarheid, ’n slim gemeenskap, slim konnektiwiteit en kommunikasie, sowel as slim veiligheid.

“Ons sal in die volgende paar maande op elke segment fokus, daaroor uitbrei en wys hoe Century City ons slimstad-praktyke beoefen. Ons wil graag belangrike aspekte verduidelik, soos ons ooptoegang-veselnetwerk wat al ’n dekade oor Century City heen geïnstalleer is.

“Of die feit dat gesuiwerde rioolwater sedert die aanvang van die ontwikkeling vir besproeiing en die spoel van toilette gebruik word. Ons wil ook spog met ons eie natuurreservaat, Intaka-eiland, en al die innoverende maniere waarop ons hierdie unieke gebied bewaar en ander oor omgewingsvolhoubaarheid leer.”

Nuwe app

Nóg ’n deel van Century City se slim gemeenskap-segment is in die vorm van ’n app vir Apple- sowel as Android-fone bekend gestel.

“Hierdie spesiaal ontwerpte app skakel by ons gemeenskap in deur toegang tot die jongste gebeurtenisse in Century City te gee,” verduidelik Blackshaw.

“Dit dien ook as ’n platform vir sakeondernemings in Century City om met die gemeenskap te skakel en andersom, insluitend ’n volledige ondernemingsgids. Die app laat gebruikers ook toe om die verkeer in die gebied dop te hou deur middel van ons verkeerskameras wat regstreeks beeldmateriaal uitsaai.

“Enige probleme met instandhouding en infrastruktuur in Century City kan ook met behulp van die app direk by ons veiligheidsbedryfsentrum aangemeld word. Nog ’n handige funksie is ook die feit dat inwoners die sentrum direk deur middel van die app kan skakel in ’n noodgeval.”

Laaste sê

  • “Ons glo dat Century City ’n beduidende rol speel in die groter Kaapstad – nie net in terme van die skep van ’n aspirante en veilige gebied waarin mense kan woon, werk, inkopies doen en kan ontspan nie, maar dit dien ook as ’n belangrike toeristebestemming. Met ’n florerende gemeenskap, mooi groen ruimtes en ’n kunsroete wat deurlopend uitbrei – alles saamgeweef en onderling aan tegnologie gekoppel – nooi ons mense uit om hierdie slimstad te kom ervaar.” Vir meer inligting oor die slimstad, besoek https://centurycity.co.za/smart-city
Meer oor:  Century City  |  Slimstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.