Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Dís wat jy kan doen as die ligte skielik afgaan

Suid-Afrika is al vir meer as ’n dekade in ’n kragkrisis gedompel en as gevolg daarvan het beurtkrag deel van ons normale dag-tot-dag geword. Beurtkrag is vir ons almal ’n doring in die vlees, sê Mike Greeff, die uitvoerende hoof van Greeff Christie’

Niemand wil onvoorbereid wees as die ligte die dag afgaan nie.

Buiten vir die ooglopende goed soos om jou selfoon gelaai te hou vir as beurtkrag tref, is daar ’n paar ander wenke en truuks wat ek met eiendomseienaars wil deel.

Foto: ISTOCK

Hierso is dit:

1. Tegnologie kán help

Die app EskomSePush is net ’n móét gedurende tye van beurtkrag.

Jy kan soveel as moontlik buurte kies wat jy op jou profiel kan laai, ten einde dat jy altyd weet wanneer beurtkrag gaan toeslaan – maak nie saak waar jy is nie.

Die app reik ook regstreekse kennisgewings en waarskuwings uit, wat beteken dat jy altyd weet wanneer die beurtkragvlakke verander en/of beurtkrag vir eers afgestel is of nie.

2. Beskerm ál jou toestelle

Gedurende beurtkrag is daar geen elektriese toevoer na jou toebehore en toestelle soos yskaste en wasmasjiene nie.

Dit kan gebeur dat wanneer die kragtoevoer ná beurtkrag weer aangeskakel word, die toestelle beskadig word weens die wisselende stroomspanning.

Die toestelle se kabels kan ook uitbrand.

Gereelde kragstuwings sal uiteindelik skade aan toestelle veroorsaak as die kabels nie ordentlik beskerm word nie.

Installeer dus toestelle wat teen stuwings in kragtoevoer beskerm word.

3. Wat van gas? Of ’n braai!

Dit is beslis nie ideaal as beurtkrag toeslaan net soos jy aandete moet voorberei nie, of hoe? As jy honger mae wil verhoed, belê in sogenaamde alternatiewe kookmetodes wat nie elektrisiteit nodig het nie.

’n Gasstoof is die mees ooglopende opsie hier, maar moenie van die goeie ou braai vergeet nie! Eskom kan ons elektrisiteit afsny, maar hy kan nie ons braairooster vat nie.

4. Jy moet wakker wees

As jy in ’n huis woon met elektriese hekke, motordeure of ’n alarmstelsel wat met krag werk – maak seker dat jy batterye in goeie werkende toestand het vir as die krag afgaan.

As jou alarmstelsel nie met batterye kan werk nie, is dit ’n slim idee om al die vensters en deure wat toegang na jou huis bied, goed belig te hou gedurende beurtkrag.

5. Hou die ligte aan!

LED-ligte wat jy kan herlaai is net ’n moethê-item gedurende tydperke waar daar gereeld beurtkrag voorkom.

Hulle is gewoonlik nie so helder soos gewone ligte nie, maar helder genoeg om ’n vertrek te belig, sodat die kinders huiswerk kan doen of jy met jou huistake kan aangaan. Dit kom ook nogal handig te pas as jy jou weg rondom die huis moet vind as dit donker is. Dit is beslis beter as ’n seer toon of ’n stukkende maermerrie!

Kerse is ook ’n goeie alternatief, maar wees asseblief veilig wanneer jy dit gebruik. LED-ligte bly maar die beste.

Die laaste sê

Dit bly ’n feit soos ’n koei: Beurtkrag is ongerieflik. Dit hoef egter nie altyd die slegste ding te wees nie.

As daar geen elektrisiteit is en ander goed wat jou aandag aftrek nie, kan jy goed en aktiwiteite begin geniet waarvoor daar nie altyd soveel tyd is nie.

Jy kan dalk gaan uitkamp in jou agterplaas of gehaltetyd saam met jou gesin bestee.

Hiermee ’n vinnige lysie van nog prettige goed om te doen wanneer daar beurtkrag is:

  • Het jy al joga probeer? Dalk is dit die moeite werd om ’n paar ontspannende posisies te probeer. Die spanning wat beurtkrag veroorsaak sal sommer wegsmelt!
  • Dis speletjietyd! Pak ’n paar bordspeletjies uit en ontspan. Daar is min beter tydverdrywe soos ’n goeie pot Scrabble of Monopoly.
  • Hoewel daar baie goed is om te doen by die huis as die ligte afgaan, hoekom bederf jy nie jou gesin vir ’n aandjie uit nie?
  • Braai, braai en braai! Daar is niks wat die meeste Suid-Afrikaners meer van hou as ’n goeie braai nie.

Gryp jou braairooster en gooi ’n paar lekker tjoppies daarop en daar het jy dit – ’n partytjie.

Meer oor:  Wenke  |  Eiendomme  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.