Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Eiendomsbeleggings in onseker tye – hier’s raad

Mark- en ekonomiese toestande in die land is taai en beleggersvertroue is laag. Nou hoe gemaak as jy in eiendom wil belê? Schalk van der Merwe van Rawson Properties in die Helderberg bied ’n paar wenke.

  Foto:    istock
Foto: iStock

Dis nie verbasend dat baie voornemende eiendomskopers traag is om langtermynbeleggings te maak nie.

Onsekerheid speel ’n groot rol wanneer die eiendomsmark stil raak. Dit is egter ironies genoeg die dryfvere agter eiendomsbelegging wat dit die veiligste belegging in onseker tye soos dié maak.

Eiendom voldoen in een van die mees noodsaaklike menslike behoeftes: skuilte. Dit maak nie saak wat in die wêreld aangaan nie, mense gaan altyd ’n dak oor hul koppe nodig hê.

Solank as wat dít die geval is, sal eiendom altyd ’n betroubare belegging en aanloklike bate wees – veral as die aankoop goed deurdink is, die eiendom goed in stand gehou is én dit met tye opgegradeer word.

Met pryse wat stagneer en selfs in sommige buurte daal, moet slim beleggers nou die beste van die marktoestande maak. Hiermee ’n paar wenke hoe om dit te doen en weg te stap met ’n belegging wat in die volgende paar jaar nog baie waarde gaan bied: 

Moenie die voorbereiding oorslaan nie  

Soos die meeste dinge is voorbereiding die sleutel tot ’n suksesvolle aankoop.

Ek raai voornemende kopers aan om vooraf goedkeuring vir ’n huisverband te kry en ook uit te werk hoeveel kontant hulle nodig gaan hê om deposito’s, oordragskoste en die aankoopkoste te betaal.

Dit is baie belangrik om te presies te weet waar jy met jou geldsake staan as jy wil onderhandel. As jy die proses oorweldigend vind, vra vir hulp.

Kry ’n eiendomsagent 

Kopers in Suid-Afrika doen dit nie dikwels nie, maar dit kan ’n baie goeie geheime wapen wees om ’n professionele kenner aan jou kant te hê.

’n Goeie eiendomsagent ken nie net die gebied se neigings nie, maar verstaan ook die markaktiwiteit daar en het die kennis oor die klein dinge wat ’n goeie belegging ’n uitstekende een kan maak.

Moenie net aanneem nie 

Eiendomspryse word meeste van die tyd nie deur agente bepaal nie, maar deur die verwagtings van verkopers.

Dit kan beteken dat eiendomme se bemarkingsprys dikwels baie hoër is as wat die werklike markwaarde is. Dit gebeur omdat die verkoper probeer om die geld wat aan opknappings bestee is te verhaal, of omdat hulle nie op hoogte van neigings in die woonbuurt is nie.

Moenie bang wees om te vra hoe die eiendom se verkoopprys bepaal is nie. As die verkoper nie goeie redes kan verskaf nie – gewoonlik in die vorm van ’n vergelykende markanalise – is dit die moeite werd om jou eie navorsing te doen oor wat ’n billike prys sal wees om te vra.

Die laaste ding wat jy wil doen is om ’n voorbarige aanbod van R1,6 miljoen op ’n eiendom van R1,75 miljoen in te sit, net om uit te vind dat die eiendom se prys te hoog was en jy steeds te veel betaal het.

Tydsberekening voordelig 

Vra hoe lank die eiendom al op die mark is voordat jy ’n aanbod maak. As die eiendom maar onlangs in die mark geplaas is, sal die verkopers minder geneig wees om buigbaar oor die prys te wees.

As ’n eiendom vir langer as die gemiddelde 16 weke (wat tans in Kaapstad die neiging is) op die mark is, sal die verkoper dalk meer toeganklik vir ’n laer aanbod wees.

Dit hang natuurlik af van wat die aanvanklike bemarkingsprys was, maar ’n agent sal jou oor realistiese beperkings kan raad gee.

Dit beteken egter nie dat jy 16 weke moet wag om ’n aanbod te maak nie – hou net die inligting in jou agterkop sodra die onderhandelings begin.

Meer oor:  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.