Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Gereelde instandhouding van jou huis kan later groot geld spaar

Dink weer as jy onder die indruk is dat klein instandhoudingstakies uitgestel kan word. Dit kan jou later duur te staan kom. Shawn Hogan en Shafeeqah Isaacs gee raad oor hoe om take op jou doenlysie te prioritiseer.

Met die Covid-19-inperkings en lang, vervelige dae by die huis, het baie van ons klein goedjies in en om die huis begin oplet wat ons grensloos irriteer.

Die koms van winter het dinge net vererger met swak geseëlde deure en vensters wat die yskoue wind inlaat, dakke wat lek en verstopte geute wat ineenstort. Voeg dan nog beurtkrag daarby! Dan het ons ook met geblaasde gloeilampe en beskadigde toestelle te make.

Vir selfdoen-entoesiaste met ydel hande was dit die perfekte tyd om aan die werk te spring. Diegene wat nie so handig met die gereedskapskis is nie, kon darem terwyl hulle by die huis was ’n nutsman laat kom en oor sy werk ’n ogie hou.

Die ironie is egter dat terwyl die grendeltyd ’n uitstekende tyd was om broodnodige instandhouding af te handel, finansiële onsekerheid baie mense verhoed het om hul doenlysie aan te pak. Wydverspreide afleggings, salarisopofferings, bonusse en kommissie wat nie uitbetaal is nie, asook ondernemings wat hul deure moes sluit, het heel verstaanbaar baie mense twee keer laat dink oor geld uitgee.

Shawn Hogan, ’n timmerman en projekbestuurder met amper 30 jaar se ervaring, sê hoewel geld dalk ’n bietjie skraps is, jy later veel groter uitgawes in die gesig kan staar deur klein, maar noodsaaklike instandhoudingstakies te ignoreer.

“Dit is belangrik om tussen instandhouding en verbeterings te onderskei,” sê hy.

“Deur gereeld aandag aan houtwerk, dakke, geute en verfwerk te skenk, kan jy later groter en duurder probleme vermy, soos vrot houtdeure en -vensters wat vervang moet word of plafonne wat ineenstort weens ’n lek in die dak. Verbeterings, soos om ’n tuiskantoor by jou huis te voeg of die badkamer en kombuis oor te doen, kan maar wag tot jy dit wel kan bekostig.”

Lekplekke kan groot skade aan jou huis se struktuur aanrig, skenk dus so vinnig as moontlik daaraan aandag.Foto’s: iStock

Shafeeqah Isaacs, hoof van verbruikersopvoeding by finansiëlediensteverskaffer Direct­Axis, sê dit is wys om by te probeer bly met basiese huisinstandhouding.

“Dit is verstandig om ’n bietjie geld op klein goedjies te bestee voordat dit in ’n groot probleem ontaard.”

DirectAxis sê hierdie wenke sal jou help om in beheer van huisinstandhouding te bly, sonder om jou begroting te oorskry:

*  Tref onderskeid tussen noodsaaklikhede en dinge wat lekker is om te hê.

As geld skraps is, beperk jou doenlysie tot dinge wat jou later meer gaan kos as jy nie daaraan aandag skenk nie.

“Soms kan eenvoudige, redelik bekostigbare takies jou oor die langtermyn heelwat geld spaar. Soos om byvoorbeeld ’n dooie boom te laat afsaag voor stormwinde dit op jou huis omwaai,” sê Hogan.

Ander take, soos nuwe matte vir ’n slaapkamer, kan wag tot wanneer jy genoeg geld daarvoor het.

* Prioritiseer en doen dan ’n bietjie op ’n slag.

Sommige take is meer dringend as ander. Terwyl die afskuur en verf van houtwerk sal keer dat dit verrot en jy later ’n klomp geld moet uitgee om dit te laat regmaak of vervang, is dit dalk nie so dringend as om ’n lekplek in die dak te vind en reg te maak nie.

Lekplekke, of dit nou ’n gat in die dak of loodgietersprobleem is, gaan nie sommer weg nie en kan vinnig vererger. Buiten dat jy sal moet opdok vir water wat uit ’n stukkende pyp loop, kan lekplekke groot skade aanrig aan verf, matte, houtwerk en selfs die struktuur van jou huis.

Prioritiseer dus jou take. Begin met die dringendste en eindig met dit wat kan wag tot jy meer tyd en geld het om daaraan aandag te skenk.

Verhoed verrotting en onnodige groot uitgawes deur houtvensterrame en -deure af te skuur en te seël.
* Vind uit oor versekering voordat jy wegspring.

Jy mag dalk dekking vir sekere instandhoudingstakies hê en dit nie eens weet nie. Indien jy ’n huislening het, vereis banke dat jy versekering uitneem om potensiële skade aan die huis te dek. Voordat jy dus uit jou eie sak vir ’n nuwe geiser opdok, maak eers seker of die versekering nie daarvoor sal betaal nie.

*  Doen jou huiswerk en stel ’n begroting op.

As jy jou hand aan selfdoenprojekte wil slaan, maar nie ’n kenner is nie, doen eers navorsing voordat jy wegspring. Daar is heelwat aanlyn-video’s wat jou die stappe sal wys. Indien jy vriende of kennisse het wat beter nutsmanne as jy is, vra hulle hoe jy te werk moet gaan en watter produkte om te gebruik. Praat met kenners in hardewarewinkels en kry by hulle raad. Dit is die moeite werd om vooraf ’n bietjie navorsing te doen voordat jy ’n klomp duur voorraad gaan koop wat jy dalk later nie nodig sal kry nie of wat nie vir die taak geskik is nie.

Wanneer jy jou lysie agtermekaar het, snuffel eers rond vir winskopies. ’n Eenvoudige internetsoektog behoort jou te help om uit te werk hoeveel die hardeware en toerusting sal kos wat jy benodig. Jy kan dan ’n begroting opstel om te verseker dat jy wel die taak kan begin en enduit kan voer.

As jy nie self kans sien nie en eerder ’n nutsman wil gebruik, volg dieselfde prosedure. Vra vriende en familie vir verwysings en gaan kyk aanlyn of op sosiale media of jy enige verwysings of klagtes oor die mense kan vind wat hulle voorgestel het. Stel ’n kortlys op en kry dan kwotasies. Hou in gedagte dat die goedkoopste nie altyd die beste is nie. Die manier waarop die nutsmanne op jou kortlys die taak assesseer en ’n gedetailleerde kwotasie saamstel, sal jou ’n goeie idee gee van hoe professioneel hulle is.

* Hou by wat jy kan doen.

Niemand is goed in alles nie en selfs bekwame selfdoeners moet versigtig wees om buite hul gemaksone te beweeg. Dit geld nog meer vir mense wat geen ervaring het nie. Baie van ons het al video’s op YouTube gesien waar mense dink dit is die maklikste ding op aarde om byvoorbeeld ’n dooie boom in die agterplaas af te saag, en dan val dit op die huis se dak.

As jy nie dink jy het die nodige vaardigheid, kennis, selfvertroue of die regte gereedskap om die taak ordentlik en veilig aan te pak nie, roep eerder die hulp van ’n kenner in. Dit sal jou hope frustrasie en geld spaar, en ook ernstige ongelukke of erger verhoed.

Meer oor:  Geld  |  Instandhouding  |  Spaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.