Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Goeie bedoelings wat sleg eindig

Gustaf Pienaar bespreek testamente en skryf meer spesifiek oor ’n saak rakende die testament van ene mnr. Geldenhuys – die eienaar van twee plase in die Noord-Kaap – wat onlangs in die appèlhof gaan draai het.

eiendomme
Skets: Hanlie Malan

'n Onlangse uitspraak van die appèlhof handel oor ’n familietwis wat die gevolg was van ’n testament van járe gelede, wat uiteindelik in ’n onbillike resultaat vir ’n bepaalde groep erfgename geëindig het. 

Wyle mnr. A.G. Geldenhuys was die eienaar van twee plase – Hunites en Holte – iewers in die Noord-Kaap. In sy testament van November 1990 bemaak hy dié twee plase aan sy eggenote, onderhewig aan ’n paar voorwaardes: As sy sou besluit om enige van die twee te verkoop, sou sy skoonseun, Gert Goosen, die eerste opsie (dis die woord wat gebruik word) hê om dit te koop: Hunites teen R20 per morg en Holte teen R30 per morg. 

Ek aanvaar dit was in 1990 min of meer die gangbare pryse vir grond in daardie geweste. 

Die testament het ook gunstige betalingsvoorwaardes vir die skoonseun voorgeskryf, sowel as hoe die opbrengs van enige verkooptransaksie verdeel moes word. Die testament het verder bepaal dat as mev. Geldenhuys gedurende haar leeftyd nie een (of albei) van die plase vervreem nie, sou die vermelde skoonseun steeds die eerste opsie hê om binne ’n bepaalde tydperk die plaas (of plase) uit haar boedel teen dieselfde gunstige voorwaardes te koop. 

So nie, moes die plaas (of plase) per openbare veiling verkoop word. In albei gevalle moes die opbrengs onder Geldenhuys se vier kinders verdeel word. 

Ná Geldenhuys se afsterwe in 1997 is albei plase aan sy erfgenaam, mev. Geldenhuys, oorgedra. In Junie 2000 het sy Holte aan haar skoonseun verkoop ooreenkomstig die bepalings van haar oorlede man se testament – dit wil sê, teen ’n koopprys van R30 per morg. 

Dalk het die kinders onderlangs gemor, maar ter wille van die vrede stilgebly.

Met mev. Geldenhuys se afsterwe in 2017 het haar skoonseun weer die “eerste opsie” wat sy oorlede skoonpa testamentêr aan hom verleen het, uitgeoefen en aan sy skoonma se eksekuteur kennis gegee dat hy die oorblywende plaas Hunites teen die 1990-prys van R20 per morg gaan koop. 

Toe was die gort gaar. Een van die Geldenhuys-kinders het die hooggeregshof in Kimberley genader om ’n interdik om die voorgenome verkoop van Hunites teen die 1990-prys te belet.

Die rede – sal jy reeds kan raai – is dat die prys van R20 per morg erg onrealisties was en vir seker nie haar pa se wense weerspieël het nie. Die 1990-prys was maar ’n fraksie van die 2017-waarde van die plaas: R5,2 miljoen, volgens die dogter. 

Sy het in beginsel nie beswaar gehad dat haar swaer die eiendom kon koop nie; die prys moes net deur die hof aangepas word met die oog op ’n billiker uitkoms vir al die erfgename. 

Later het sy haar storie verander en gevra dat die bepaling van haar pa se testament – vir soverre dit haar swaer bevoordeel – nietig verklaar word. 

Haar vereenvoudigde regsargument kom op die volgende neer: Die testament se bewoording is duidelik dat Geldenhuys aan sy skoonseun ’n eerste opsie verleen om onder bepaalde omstandighede die twee plase te koop. 

Die Wet op die Vervreemding van Grond (Wet 68 van 1981) bepaal dat geen vervreemding van grond geldig is as dit nie geskied by wyse van ’n skriftelike ooreenkoms wat deur die verkoper én koper geteken is nie. 

’n Opsie-ooreenkoms, het sy aangevoer, moet dus (i) skriftelik wees, en (ii) deur die partye geteken wees. 

Slegs haar pa – het sy aangevoer – het geteken (vermoedelik het sy bedoel toe hy die testament verly het), maar haar swaer het nie óók geteken nie. Gevolglik is die testamentêre beskikking tot die voordeel van laasgenoemde van nul en gener waarde.

Waarnemende regter Lever het met haar saamgestem en teen Gert Goosen – die skoonseun – beslis. 

Op sy beurt het Goosen hom tot die appèlhof gewend. 

Appèlregter Ponnan het op 10 September vanjaar die hof se eenparige uitspraak gelewer. Hy het beslis dat regter Lever gedwaal het deur Geldenhuys se testament van 1990 as die verlening van ’n opsie aan sy skoonseun te vertolk – al word dié begrip in die testament gebruik.

Die appèlregter sê dat ’n testament uitgelê moet word teen die agtergrond van die omstandig­hede wat geheers het toe dit verly is. Wat van belang is, is die wil van die testateur. 

Daar bestaan ook ’n regsvermoede dat, wanneer daar twyfel is, ’n uitleg gevolg moet word wat eerder die wil van die testateur bevoordeel as een wat die testament nietig verklaar. 

Wat Geldenhuys se skoonseun uit die testament verkry het, beslis die regter, was ’n vorderingsreg – eers teen mev. Geldenhuys gedurende haar leeftyd (sy moes die plase eers vir hom aanbied as sy wou verkoop) en ná haar dood, teen haar eksekuteur. 

In albei gevalle kon Goosen natuurlik besluit het om sy vorderingsreg nie uit te oefen nie, in welke geval die testament bepaal het hoe daar dán met die plase gehandel moes word. 

Die appèlhof het regter Lever se bevel tersyde gestel en ten gunste van die skoonseun beslis: Hy kon die plaas koop teen R20 per morg, en die opbrengs moes dan onder Geldenhuys se vier kinders verdeel word. “Billikheid” en “regverdigheid” speel immers nie ’n rol by die uitleg van testamente nie. 

’n Mens is jammer vir die vier kinders. Straks sou hul pa dit ook anders wou hê, maar dan moes sy testament byvoorbeeld net maar een of ander eskalasie-klousule oor die kooppryse van die twee plase bevat het. 

Die les is dat ’n mens uiters versigtig moet wees oor hoe jou testament daar uitsien: Weerspieël dit sonder twyfel jou laaste wense oor jou aardse goedjies?Die Wêreldbekereindstryd  

Gustaf Pienaar

Ek hoop van harte dat daar nie weer soveel druk – soos verlede week teen Wallis – op Handré Pollard geplaas sal word om in die doodsnikke van vandag se wedstryd teen Engeland die Springbokke se lot met sy skopskoen te beslis nie. 

Morné Meyer vertel op sy Facebook-blad die “hartseerverhaal” van Jack van der Schyff se verbroude stelskop in die doodsnikke van die Springbokke se eerste toets in 1955 teen die Britse Leeus op Ellispark.

“Die hoop van Suid Afrika”, skryf Morné, “het op Jack se skouers gerus. Hy was een van die beste stelskoppers van sy tyd. Dis enkele sekondes voor die eindfluitjie met die telling 23-22 vir die Leeus. 

“Die Springbokke kry ’n strafskop vlak voor die pale. Tommy Gentles, die Springbok-skrumskakel, lê op sy maag en stel die bal vir Jack. Jack verbrou die skop en die Springbokke verloor.

“Jack se kop hang laag op sy bors. Die teleurstelling van daardie verbroude skop sou hy tot sy dood met hom saamdra. Daardie skop was Jack se laaste skop in die Groen-en-goud.” 

Ai tog, Morné, móés jy nou? 

* Bronne: Goosen v Wiehahn [2019] ZASCA 137; Oor die opsiefiguur: Van der Merwe et al: Kontraktereg: Algemene Beginsels (Juta, vierde uitgawe, 2012). 

Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.