Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Huise van toekoms lyk ietwat anders

Die Covid-19-pandemie en die gevolglike inperking het ons huise en die wyse waarop ons leef vir altyd verander. Dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van die Pam Golding Property Group, gee ’n blik op die huise van die toekoms en vertel meer oor die konsep "kwarantyn-borrels" wat sedertdien ontstaan het.

Ons huise het tydens die streng inperkingsmaatreëls in reaksie op die Covid-19-pandemie vanjaar meer as heiligdomme of toevlugsoorde geword.

Huise het ontwikkel tot wat mense nou oor die wêreld heen “kwarantyn-borrels” noem. Mense bestee nou die meeste van hul tyd by hul huise waar hulle werk én studeer.

As gevolg daarvan het dit duidelik geword dat baie gesinne en individue nou hul bestaande verblyfopsies herevalueer ten einde vas te stel hoe dit by hul nuwe leefstylbehoeftes inpas – sowel nou as in die toekoms.

As hul bestaande leefruimte nie aangepas kan word om by hul veranderende behoeftes te pas nie, kan hulle dit dalk oorweeg om na ’n ander huis te trek of na ’n ander buurt te verhuis wat vir hulle daardie opsies bied – hetsy dit nou ’n groter huis is met ’n lekker tuin en buite-area, ’n beter lewenstyl in ’n meer gesogte bestemming óf ’n nuutgeboude huis in ’n residensiële ontwikkeling wat pasgemaak is om aan hul behoeftes te voldoen.

Gegewe bogenoemde en veral met betrekking tot wat die toekoms kan inhou, moet ek vra: Wat doen ontwikkelaars, argitekte en huiseienaars om huise as kwarantyn-ruimtes te herdefinieer?

Dít wil mense hê

Mense wil deesdae die meeste uit hul huise en leefruimtes kry.

’n Ruimte om van die huis af te werk, het vinnig ’n prioriteit vir die meeste mense geword – veral as daar twee gesinslede is wat van die huis af werk. Daarbenewens is ’n studeerkamer of -ruimte vir die kinders ook belangrik.

Hierdie behoefte kan veroorsaak dat ’n gastekamer in ’n werkruimte omskep word.

In die geval van nuwe ontwikkelings, kan dit weer daartoe lei dat die kombuis byvoorbeeld verklein word om ekstra ruimte vir alternatiewe gebruike in die huis toe te laat.

Meer mense het egter tydens die inperkingstyd kos gemaak en gebak en hul kulinêre passie uitgeleef, dus glo ek dat die kombuis deesdae ’n baie groter rol in gesinswonings speel.

Nuwe huiskopers kan selfs nou op soek wees na huise met ekstra ruimte vir ’n spens of vriesplek vir hul kos.

Foto: ISTOCK
Blik op die buiteland

’n Ontwikkelaar in Amerika het reeds, in reaksie op die pandemie, ’n nuwe residensiële ontwikkeling begin bemark as ’n sogenaamde toevlugsoord met lugsuiweraars en ’n fokus op gesondheid en welstand.

In nuwe residensiële ontwikkelings is toegang tot private buite-areas ook nóg ’n kenmerk wat toenemend belangrik geword het.

Baie ontwikkelaars is reeds besig om in ooreenstemming hiermee voorsiening te tref vir byvoorbeeld stoepe of ’n binnehof in nuwe residensiële ontwikkelings, of selfs ’n klein balkon as ’n manier om inwoners toegang tot die buitelug te gee.

Ontwikkelings vir gemengde gebruik is reeds gewild en gaan moontlik nog meer in aanvraag wees – veral dié wat met ’n verskeidenheid geriewe spog soos gedeelde werkruimtes, winkels, ontspanningsruimtes en buitelugareas.

Hierdie konsep geld ook vir residensiële ontwikkelings, wat meer gesog geword het vanweë die beperkte blootstelling aan potensiële gesondheidsrisiko’s wat die inwoners daar geniet, sowel as die verskeidenheid geriewe wat hierdie ontwikkelings vir sport, ontspanning, oefening, inkopies en selfs onderrig bied.

Verandering kom

Wat die binnenshuise uitleg van huise betref, is daar al selfs ’n ontwikkeling wat daarna kyk om ’n sogenaamde oorgangsone in ’n huis te inkorporeer.

Die tradisionele ingangsportaal kan byvoorbeeld in ’n sanitasie-stasie omskep word, wat as ’n buffer tussen die omgewing buite en die virusvrye omgewing binne die huis kan dien.

Só ’n ruimte kan selfs ’n wasbak of ’n stort insluit.

Ons gaan waarskynlik ook meer multifunksionele ruimtes en meer veeldoelige vertrekke en areas in huise begin sien.

Daarbenewens sal die binne-konfigurasies van huise steeds vir stiller hoekies toelaat of ruimtes met skuifdeure waar videokonferensies gehou kan word óf ’n lid van die gesin private tyd kan geniet.

Laaste sê

Groot vensters en deure wat van die vloer tot die plafon strek, is deesdae nog iets waarin ’n mens moet belê ten einde vars lug in die huis toe te laat en vir goeie ventilasie te sorg.

Dít terwyl toebehore soos deurhandvatsels in koper en brons gelukkig van nature antibakteries en antiviraal is.

Harde, gladde werkoppervlakke in huise is ook belangrik omdat dit makliker is om skoon te maak en te ontsmet.

Die Covid-19-pandemie en die gevolglike inperking het ons beslis gewys dat daar meer waarde in multi-generasie-huishoudings is, met gedeelde verblyf wat vir die grootouers en volwasse kinders voorsiening maak.

Dit is nie net waardevol vanuit ’n humanitêre perspektief nie, maar maak ook finansieel sin as jy die ekonomie en gedeelde lewenskostes in ag neem.

Meer oor:  Huise  |  Toekoms  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.