Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Is jy gereed vir dié talle verrassings?

Gustaf Pienaar kyk in sy kristalbal na watter groot ontwikkelings moontlik uit die vyfde nywerheidsrevolusie gaan kom, en bespreek dan ook die etiese aspekte wat daarmee gepaard sal gaan.

Skets: Hanlie Malan

Dis die soort oproep wat ouers koue rillings gee: “Pa!” – dis ons dogter se stem uit ’n klein Karoodorpie.

“Pa, ons was in ’n ongeluk. Gelukkig is niemand beseer nie, maar daar is skade en ons sal nou baie later daar by julle wees.

“Die motor voor ons het skielik en sonder enige teken regs gedraai, reg voor ’n aankomende voertuig in. Die bestuurder dáárvan het kwaai gerem, na regs uitgeswaai en toe met ons motor gebots.”

’n Mens se eerste reaksie is: “Dank die Voorsienigheid; dit kon soveel ernstiger gewees het.” En gelukkig is ons skoonseun omvattend verseker.

Die reg sal sy gang gaan om die skuld – in die vorm van nalatigheid – iewers te plaas, en dan kan daar dalk gevolge vir die betrokkenes wees.Die maatstaf in ons reg om te bepaal of iemand “onversigtig” of “nalatig” opgetree het, is ’n objektiewe toets: Die vraag word gevra hoe ’n redelike persoon onder dieselfde omstandighede sou opgetree het.

“[Die] redelike persoon dien as die juridiese personifikasie van daardie eienskappe wat die gemeenskap verg van sy lede in hulle daaglikse kontak en op­trede teenoor ander mense,” lees ek in ’n standaardwerk oor die deliktereg. Voldoen ’n persoon se optrede nie aan die standaard van daardie fiktiewe redelike persoon nie, is hy nalatig.

Toegepas op ons kinders se ongeluk in die klein Karoodorpie, vra ’n mens: Sou ’n redelike persoon sonder waarskuwing voor ’n aankomende voertuig ingedraai het? Nee, tog nie.

En wat die bestuurder van die aankomende voertuig – én ons skoonseun, wat die gesinsmotor bestuur het – betref: Was byvoorbeeld hul onderskeie snelhede net voor die ongeluk redelik onder die heersende omstandig­hede? ’n Moeiliker vraag is of dit redelik van die bestuurder van die aankomende voertuig was om – in sy poging om ’n botsing te voorkom – na regs te swaai, net om vervolgens met ons kinders se voertuig te bots?

Dié vraag is “moeilik” omdat ons reg in beginsel nie vereis dat ’n mens heroïes jou eie welsyn moet opoffer ten einde skade vir iemand anders te voorkom nie.

Die reg vereis dus nie van daardie bestuurder om byvoorbeeld die pad na links te verlaat ten einde ander padgebruikers teen onheil te beskerm nie. Hy kan immers die lewe laat as sy motor sou omslaan of hy teen ’n kragpaal sou bots.

Buitendien: om onder sulke omstandighede regs te swaai is – volgens ons oudste seun – net gewoon “menslik”.

Dít was minstens wat hy geleer is toe hy gedurende sy militêredienspligjare ’n kursus in die beskerming van “baie belangrike persone” (BBP’s) gevolg het.

Die reël is dat die BBP in ’n motor reg agter die bestuurder moet sit omdat laasgenoemde intuïtief in ’n ongeluksituasie sal swaai in die rigting wat vir hóm die veiligste is. Dit gee terselfdertyd vir die BBP ’n groter kans op oorlewing.’n Gans ander vraag is wat onder sulke omstandighede uit ’n etiese oogpunt van ’n bestuurder verwag word: Mag hy maar sy belange bo dié van ander mense stel, of moet hy sy eie welsyn op die altaar plaas?

Dié vraagstuk laat my dink aan twee fassinerende boeke uit die pen van die Israeliese historikus Yuval Harari wat ek gedurende ons afgelope vakansie gelees het.

Die lywige een, Sapiens, is ’n “kort geskiedenis” van die mensdom. Lees gerus dié verbysterend interessante en uitdagende lekkerleesboek. Die ander het die uitdagende titel 21 Lessons for the 21st Century.

Veral in 21 Lessons staan die skrywer stil by wat die mensdom van die veelbesproke vyfde nywerheidsrevolusie te wagte kan wees.

Harari is onder meer ’n sterk ondersteuner van een van die klaarblyklik onvermydelike ontwikkelings van die 21ste eeu: motors wat hulself bestuur.

Hy meen dit sal die voorkoms van motorongelukke, wat jaarliks wêreldwyd ’n miljoen lewens eis en nog miljoene méér se lewens ingrypend beïnvloed, aansienlik verminder.

In minstens Eerste Wêreld­lande sal die beweging van alle motors op paaie deur superrekenaars beheer word pleks daarvan dat feilbare mense – soos wat tans die geval is – dit doen. Selfrymotors, glo Harari, sal hulle by snelheidsperke hou en hulle by heersende weersomstandighede aanpas; hulle sal verkeersligte en sperstrepe gehoorsaam; nie onder die invloed bestuur nie; en nie lomerig word nie. Ag, die lys van “voordele” hou nie op nie.

Buitendien sal daar minder sake wees om in howe te gaan argumenteer, wat op sy beurt die druk op howe aansienlik sal verminder.

Maar dan stel Harari ’n interessante scenario aan die orde: Gestel ’n selfrymotor ry volkome “wetsgehoorsaam” deur ’n woonbuurt terwyl die eienaar rustig agterin ’n uiltjie knip.

Skielik hardloop twee kleuters agter ’n bal aan, reg voor die motor in. Hoe hy reageer, sal – volgens Harari – afhang van hoe hy geprogrammeer is: Hy sal blitsvinnig, en ooreenkomstig sy vooraf gekose “opdragte”, ’n keuse uitoefen.

As die eienaar ’n “etiese” programmering gekies het, sal die motor vanself wegswaai van die kleuters af en eerder met ’n aankomende vragmotor of die betonvoetstuk van ’n nabygeleë oorbrug bots, tien teen een met noodlottige gevolge vir die slapende eienaar.

As die eienaar egter ’n “egoïstiese” programmering gekies het, sal die motor die welsyn van die eienaar voorop stel en eerder die twee kleuters doodry.

Dit is maar een van die derduisende etiese uitdagings wat voortspruit uit die vyfde nywerheidsrevolusie wat op die mensdom wag.

Harari bespreek die kwessie van onvermydelike werksverliese wat dié revolusie tot gevolg gaan hê uitvoerig, en voer aan dat veral filosofie en etiek studierigtings is wat jongmense gerus kan oorweeg, want vir húlle, meen Harari, gaan daar beslis werk wees . . .Jy kan dalk, soos ek, skepties wees oor of ons in ons leeftyd nog die koms gaan beleef van motors wat heeltemal self ry. Moet egter nie te gou jou kop skud nie – selfrymotors is rééds met ons.

’n Vriend van my het onlangs vir hom ’n manjifieke Volvo XC60 aangeskaf wat selfry moontlik maak – sy dit op beperkte skaal, en ook net op werklik “moderne” paaie met goeie padtekens en die nodige geel en wit strepe.

Ek het ’n kans gehad om dié juweel te bestuur. Jy kan vir beperkte tye met jou hande gevou op jou skoot sit.

So dan en wan moet jy vir ’n oomblik die stuurwiel vashou, sodat die motor gerus gestel kan word dat jy nog wakker is – en leef.

Die motor bly sekuur in die regte baan, verminder snelheid as die wet – of heersende verkeerstoestande – dit vereis en hou stil by rooi verkeersligte.

Op die windskerm reg voor jou is ’n kleurskerm wat jou voortdurend inlig oor hoe jy vorder na jou vooraf gekose bestemming.

My verstand duisel oor dié, vir my, verbysterende voorwaartse tegnologiese sprong. Dis egter maar net die begin: Net om die draai wag duisende meer sulke verrassings op ons . . .

  • Bronne: Neethling, Potgieter, Visser: Deliktereg (Durban: LexisNexis, 7de uitgawe, 2015); Harari, Yuval Noah: 21 Lessons for the 21st Century (Londen: Jonathan Cape, 2018).
  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.