Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Jou woonhuis... ’n deeltitelskema?

Daar is jaarliks meer mense op aarde en die beskikbare ruimte wat ons kan bewoon bly beperk.

Nikki Malan
Nikki Malan

Daarom is een van die belangrike beginsels van meeste stadsbeplanningsbeleide om verdigting in stedelike gebiede aan te moedig. Eenvoudig gestel, beteken verdigting om meer mense in dieselfde beskikbare ruimte te huisves.

In plaas daarvan dat een gesin op ’n erf van 1 000 m² woon, huisves ons byvoorbeeld veelvoudige gesinne op daardie een erf. 

In praktiese terme beteken dit dat mense nader aan mekaar moet lewe en minder ruimte moet beslaan, en dit is juis in hierdie geval wat deeltitelskemas ’n belangrike rol vervul. 

Konvensionele erwe in die Wes-Kaap en elders is normaalweg onderworpe aan beperkings op, onder meer:(a) die getal geboue wat op een erf opgerig mag word; en (b) hoe ver hierdie geboue van die grens én mekaar mag wees.

Verder geld daar ook beperkings op die minimum grootte van ’n erf wat onderverdeel mag word. Deeltitelskemas maak egter voorsiening vir wooneenhede nader aan mekaar, dit laat gedeelde mure toe, die inwoners deel gemeenskaplike ontspanningsareas soos swembaddens of grasperke en dit gee aan ’n inwoner die gevoel van ruimte. 

Met die verdigtingstendens wat toeneem en die veranderinge wat in die eiendomsmark plaasvind, doen kliënte gereeld navraag of hul bestaande woonhuis met ’n woonstel of ’n bestaande kantoorgebou wat reeds aan verskillende ondernemings uitverhuur word, in ’n deeltitelskema omskep kan word.

Die antwoord is dat die reg in die meeste gevalle wel hiervoor voorsiening maak. 

Dit kom egter teen ’n prys en elke eienaar moet self besluit of die kool in sy of haar geval die sous werd is. Indien jy belangstel om jou woonhuis en/of kantoorgebou in ’n deeltitelskema te omskep, is die eerste stap om met jou prokureur en ’n landmeter te konsulteer. 

Jou prokureur moet help bepaal of daar beperkinge bestaan wat jou sal verhoed om met die projek voort te gaan. Die prokureur sal ook help om die “skema” te beplan. 

Die volgende belangrike aspekte moet oorweeg word:) Watter deel van die bestaande eiendom sal uitsluitlike gebruiksgebiede word? ) Watter dele sal gemeenskaplike eiendom wees? ) Hoe sal die skema in geheel saamgestel word? 

Die landmeter kan deel vorm van die beplanningsproses en sal verantwoordelik wees om die deelplan voor te berei, en dit dan by die landmeter-generaal om goedkeuring te gaan indien.

Die aktebesorger gaan daarna voort om die registrasiedokumente voor te berei en registreer uiteindelik die skema ná al die nodige goedkeurings en uitklarings verkry is.

In die geval van ’n kantoorgebou kan die deeltitelskema wat uit die omskakeling ontstaan ’n groterige skema wees. Vanweë die aard van ons konvensionele erwe sal ’n erf in ’n woongebied weer ’n klein skema vorm. 

Tertius Maree vra in sy Deeltitelforum-rubriek van 25 Mei verlede jaar of kleiner skemas lewensvatbaar is. 

Hierdie vraag is ’n belangrike oorweging vir deeltiteleienaars, aangesien dieselfde wetgewing en regulasies op klein, sowel as op groot deeltitelskemas van toepassing is.

Die klein groepie eienaars in die nuwe deeltitelskema sal onder meer ’n begroting moet optrek, die heffings moet betaal én die voorgeskrewe versekering moet bekom.

’n Ouer egpaar kan byvoorbeeld hul groter woonhuis in hul geliefde woonbuurt aan hul kinders verkoop en die tuinwoonstel agter in die erf vir hulself hou.

Indien een van die eienaars in die toekoms aan sy of haar “woonhuis” sou wou aanbou, sal die eienaar nie net toestemming van die ander lede moet verkry in ooreenstemming met die wetgewing en regulasies nie.

Die bouplanne moet ook deur die munisipaliteit goedgekeur word, terwyl die deelplan deur ’n landmeter aangepas en by die landmeter-generaal se kantoor ingedien moet word vir goedkeuring. Hierna moet die aktebesorger toesien dat die uitbreiding van die eenheid by die Aktekantoor geregistreer word. Dit is dus duidelik dat dit ’n duurder uitstappie is as om ’n aanbouprojek op ’n konvensionele erf te doen. 

Daar bestaan egter gevalle waar eienaars se positiewe uitkomste hierdie negatiewe aspekte uitkanselleer, en dié kleiner skemas wel uiteindelik floreer.

’n Ouer egpaar kan byvoorbeeld hul groter woonhuis in hul geliefde woonbuurt aan hul kinders verkoop en die tuinwoonstel agter in die erf vir hulself hou.

Dit is egter wys vir eienaars met sulke planne om, desnieteenstaande die goeie verhouding wat daar met die toekomstige buurman is, ’n goeie bestuursagent aan te stel om bystand te verleen met die bestuur van die skema. Dit help om die vrede te bewaar.

Ter afsluiting dus: Of dit nou ’n wyse besluit is om jou bestaande gebou na ’n deeltitelskema om te skakel, sal van jou unieke omstandighede en jou verlangde uitkomste afhang. Dit is egter definitief nie ’n een-grootte-pas-almal-oefening nie. 

  • Tertius Maree is volgende week terug met sy Deeltitelforum-rubriek. Sy landlynnommer het intussen verander. Hy is voortaan by 021 851 0359 beskikbaar. 
Meer oor:  Nikki Malan  |  Tertius Maree  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.