Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Oor die Wet op Kinderberegting

Geweld in skole oor die land heen is onlangs weer heelwat in die nuus gewees. Gustaf Pienaar kyk dus na die regsposisie betreffende jeugdige oortreders in Suid-Afrika, asook die Wet op Kinderberegting wat in 2010 in werking getree het.

Skets: Hanlie Malan

Wat gaan aan by skole? Landwyd het plekke van onderrig slagvelde geword. Kinders het in gevaarlike misdadigers ontpop.

Net verlede week is ’n gr. 9- seun op die speelterrein van die Hillcrest Secondary School hier by Mosselbaai met ’n skerp voorwerp om die lewe gebring. Drie medeleerlinge is daarvoor in hegtenis geneem.

Genadiglik moes ek gedurende my jare in die praktyk min kinders in strafsake verteenwoordig. Een geval onthou ek goed: ’n Seun van om en by 15 is weens geringe diefstal aangekla.

Daar was egter twee verdere aanklagte: verset teen inhegtenisneming en aanranding van ’n polisieman. Nadat die seun weens die beweerde diefstal vasgetrek is, is hy geboei en na ’n wagtende vangwa gesleep.

In die proses het die boei om sy tenger pols hom só seer gemaak dat hy die brutale polisieman aan die arm gebyt het.

Ons het noodweer gepleit, maar die landdros het hom nogtans skuldig bevind en hy het sommer daardie selfde dag nog die opgelegde vier houe met ’n rottang op sy kaal agterstewe ontvang. Dat ons later op appèl gewen het, was ’n skrale troos.Dit was die toedrag van sake in die 1980’s. Sedertdien het die regsposisie betreffende jeugdige oortreders ingrypend verander, danksy die Wet op Kinderberegting (Child Justice Act) wat amptelik op 1 April 2010 in werking getree het.

Dié wet wysig die gemenereg in veral een opsig betekenisvol: Sedert die gryse verlede is geleer dat kinders onder die ouderdom van sewe jaar onweerlegbaar ontoerekeningsvatbaar is.

Die toets vir toerekeningsvatbaarheid is, eerstens, of die beskuldigde oor die vermoë beskik het om tussen reg en verkeerd te onderskei en, tweedens, of hy die vermoë gehad het om ooreenkomstig daardie insig te handel.

Beskaafde strafregstelsels aanvaar dat jong kinders nie oor sulke vermoëns beskik nie. Regtens kán hulle dus nie misdrywe pleeg nie.

In Suid-Afrika het die Wet op Kinderberegting daardie drum­pelouderdom nou van sewe tot tien jaar verhoog. Verder skep die wet ’n vermoede dat kinders tussen die ouderdomme van tien en 14 jaar ontoerekeningsvatbaar is. Die las rus op die staat om te bewys dat ’n jeugdige in dié groep wel toerekeningsvatbaar is.

Jeugdiges tussen 14 en 18 jaar word – wat toerekeningsvatbaarheid betref – soos enige volwassene behandel.

Die wet skep ’n gans nuwe prosedure vir die hantering van toerekeningsvatbare jeugdige oortreders tussen tien en 18 jaar.

Die Engelse teks noem die proses die “diversion of young offenders”. Dit lyk my die Afrikaans vir “diversion” is “afwending” wat – volgens my stokou HAT – “in ’n ander rigting draai; wegkeer; aandag aftrek van . . .” beteken. Dit verduidelik die proses wat die Wet op Kinderberegting beoog.

Die oogmerk is om in toepaslike gevalle sulke kwesbare jongmense sover moontlik die trauma van ’n formele vervolging in ’n geregshof te spaar. Terselfdertyd moet oortreders wel deeglik gebring word by ’n besef van die erns van misdaad en die gevolge daarvan vir hul slagoffers.

Die fokus word geplaas op aspekte soos versoening tussen die oortreder en sy slagoffer; sy rehabilitasie en herintegrasie in die gemeenskap; die vermyding van die stigma van ’n misdaadrekord – sulke dinge. Die toepaslike gonswoord is “herstellende geregtigheid.”

Ruimte ontbreek om die proses van afwending breedvoerig te bespreek. Die belangrikste is die drie bylaes tot die Wet wat verskillende grade van misdrywe bevat.

Bylae 1 is ’n lys van minder ernstige misdade: geringe diefstal (in ons land is daar te veel kinders wat móét steel om aan die lewe te bly); geringe opsetlike saakbeskadiging; gewone aanranding; geringer seksuele misdrywe, en dies meer.

Sulke oortreders behoort sover moontlik nie in hegtenis geneem te word nie, maar eerder in die sorg van hul ouers, voogde of ander geskikte volwassenes gelaat word. In hul geval is die afwendingsproses grootliks in die hande van die staatsaanklaers wat wye diskresionêre bevoegdhede het.

Die opsies vir die afwending van Bylae 1-misdrywe is verskeie soorte bevele gemik op die dissipline en rehabilitasie van die kind; apologie en kompensasie aan die slagoffer; gemeenskapsdiens – die lys is lank.

Sulke bevele kan so lank as 24 maande geld.

Die misdrywe wat in Bylaes 2en 3 gelys word is uiteraard ernstiger: 24 misdrywe word in Bylae 2 gelys en dit sluit in ernstiger gevalle van diefstal en kwaadwillige saakbeskadiging, bedrog, roof, strafbare manslag, brandstigting en misdade van ’n seksuele aard.

Bylae 3-misdrywe behels werklik érnstige misdrywe soos moord, ontvoering, hoogverraad, verkragting, roof met verswarende omstandighede; en die roof van motorvoertuie. Die afwending van hierdie kategorie misdrywe vind net in buitengewone gevalle plaas.

’n Meer gestruktureerde prosedure word voorgeskryf vir die afwending van Bylae 2- en 3-misdrywe as vir Bylae 1-misdrywe. Geakkrediteerde proefbeamptes moet wydlopende verslae opstel en landdroste raak vroeg al by die proses betrokke.

Die wet verleen aansienlik méér afwendingsopsies vir ’n landdros en dit kan tot so lank as 48 maande van krag wees. Dit spreek vanself dat afwending nie te alle tye die gewenste opsie vir ’n jeugdige misdadiger sal wees nie. Dan is die kinderhof sy voorland. Dít kan ook ’n jong misdadiger se lot wees as hy nie gehoor gee aan die afwendingsbevele wat hom opgelê is nie.

By skuldigbevinding in die kinderhof kan verskeie soorte vonnisse opgelê word: gemeenskapsdiens; ’n boete; korrektiewe toesig; verpligte inwoning in ’n kindersorgsentrum; die opskorting of selfs die uitstel van ’n vonnis.

Gevangenisstraf behoort slegs as ’n laaste opsie opgelê te word en dan ook vir die kortste moontlike termyn. Dit beteken egter nie dat jeugdige oortreders áltyd met die spreekwoordelike sagte handjies hanteer word nie.

In Maart 2004 het ’n Kaapse regter ’n 15-jarige seun wat misdaad as lewenswyse gekies het (hy het verskeie moorde gepleeg en rooftogte uitgevoer) effektief tot 40 jaar gevangenisstraf gevonnis.

In beskaafde regstelsels (waarby ek Suid-Afrika insluit) het straftoemeting genadiglik sy barbaarse mantel afgeskud.

Hans Heese vertel in sy interessante boek oor Kaapse reg­spraak in die 18de eeu van die barbaarse vonnisse wat deur die owerheid opgelê is – soos met slaaf Cupido wat skuldig was aan veediefstal: “Gegesel, regterwang gebrandmerk, stuk van neus afgesny, twee maande dwangarbeid.”

En dis maar ’n vulletjie: As straf vir hoogverraad is ene Ettienne Barbier se liggaam in vier dele verdeel en sy hoof is op ’n paal by “Roodezandkloof” geplaas. Die jongste mens wat ooit in Engeland opgehang is, was ’n seun genaamd Dean van tussen 8 en 9 jaar oud. Hy is in 1629 skuldig bevind aan die stig van twee brande by Windsor – en tereggestel.

Nou bevind ons ons egter in die 21ste eeu, waar selfs iets so elementêr soos ouerlike tugreg wêreldwyd in die stof byt.

  • En hoe “progressief” die Wet op Kinderberegting ons ook al mag laat voel: dit dra klaarblyklik nog nie by om die voorkoms van jeugmisdaad hok te slaan nie. Het die grense tussen “reg” en “verkeerd” straks nie te vaag geword het nie? Bronne: Burchell, J: Principles of Criminal Law (Juta, 2016); Heese, H.F.: Reg en Onreg – Kaapse Regspraak in die Agtiende Eeu (UWK, 1996); Kenny, C. S.: A Selection of Cases Illustrative of English Criminal Law (Cam­bridge University Press, 1912). ) Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai.
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Lyfstraf  |  Bontstaan Op Saterdae  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.