Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Opknap of aanbeweeg? Besluit só

Jy en jou gesin het as’t ware uit jul huis uit gegroei en nou krap jy kop: Moet jy die huis opknap en vergroot of eerder na ’n nuwe eiendom trek? Gerhard Kotzé, besturende direkteur van die eiendomsgroep RealNet, sê daar is ’n paar oorwegings wat albei opsies betref. Hy gee raad.

Foto: ISTOCK

Dit is nie ongewoon vir huiseienaars om ná ’n sekere tyd iets in hul huis te vind wat hulle gewens het anders was nie – iets wat hulle voel hulle moet verander, hetsy met behulp van ’n opknappingsprojek of deur te trek.

Die probleem kan iets anderkant die letterlike mure van jou huis wees – soos die feit dat jou eens rustige woonbuurt nou soveel besiger of raserig geword het.

Óf dat jy onlangs by ’n nuwe werk begin het en die daaglikse roete kantoor toe nou soveel langer is.

Dit kan ook wees dat ’n nuwe ontwikkeling in die gebied die hele karakter van jou woonbuurt verander het. In die meeste van bogenoemde gevalle sal dit die beste vir jou wees om na ’n nuwe eiendom te trek.

Wat van opknap?

Baie dikwels hou die probleem egter verband met die feit dat gesinne konstant uitbrei en verander. Soms verhoog die gesin se inkomste, byvoorbeeld, en is daar meer geld vir verblyf beskikbaar.

Dikwels kom daar kinders (of meer kinders) in die prentjie, of die gesin bekom meer besittings. Dit beteken dat die lieflike klein huis waarin julle begin het, vinnig ’n ruimte word waar daar net nie genoeg slaapkamers is nie, te min privaatheid is of waar die inwoners voel daar is te veel speelgoed, gereedskap en allerlei toestelle en apparate waarvoor daar nie bêreplek is nie.

Dit is baie beslis in hierdie stadium dat baie huiseienaars daaraan begin dink om hul eiendomme op te knap om meer ruimte te skep eerder as om te verhuis – veral as hulle nog van die buurt hou waarin hulle woon.

Vra jouself eers . . .

Voor jy met ’n opknappingsprojek wegspring, vra jouself eers: Maak dit finansieel vir ons sin? Sal die koste van die toevoegings en die veranderinge wat jy nodig het om ekstra ruimte te skep, werklik minder wees as wat jy gaan betaal om ’n groter huis te koop en net te trek?

Is jou eiendom se waarde dalk reeds baie na aan die prysplafon van die buurt? Indien wel, watter risiko’s hou dit vir jou in deur baie geld op ’n nuwe kombuis of badkamers te bestee?

Die nare waarheid is egter dat jy baie selde die geld wat jy aan opknappings bestee het, sal terugkry as jy kort ná die veranderinge aangebring is, jou huis skielik moet verkoop.

Hierdie veranderinge mag dalk jou huis meer aanloklik vir voornemende kopers maak, maar beteken nie noodwendig dat hulle meer vir jou huis sal opdok nie. Jou verkoopsprys moet tog nog steeds kompeterend vir jou area wees.

Ten einde die grootste voordeel uit enige opknappings te trek, moet jy redelik seker wees dat dit beteken dat jy en jou gesin gemaklik vir die volgende paar jaar in die huis sal kan aanbly.

Oorweeg dít ook

Die ander belangrike kwessies wat ek glo huiseienaars moet oorweeg as hulle kopkrap tussen opknap en om na ’n ander huis te trek, is as volg:

  • Vind eers vooraf uit of die plaaslike owerhede of huiseienaarsvereniging enige toevoegings of veranderings aan jou eiendom toelaat. Jy moet eers seker hiervan wees voordat jy kan voortgaan. Vind eers uit watter vereistes daar is en wat dit jou gaan kos om die planne goedgekeur te kry.
  • Kan jy die opknappings bekostig? Sulke projekte kos gewoonlik heelwat meer as wat jy verwag en kan dalk ook jou skuldlas verhoog. Kry kwotasies van professionele boukontrakteurs voordat jy net die groen lig vir die projek gee.
  • Kan jy moontlik na ’n groter eiendom in dieselfde buurt verhuis? As jy nou al vir ’n paar jaar aan jou verband afbetaal en jy in ’n buurt woon waar die pryse opgegaan het, het jy heel waarskynlik genoeg ekwiteit in die waarde van jou huis om ’n goeie deposito op ’n nuwe een te betaal. En as jy regtig baie van jou buurt hou, keer niemand jou om net na ’n groter huis hoër op in die straat te trek nie. Gaan gesels met een van jou ervare plaaslike eiendomsagente en ondersoek al jou opsies.

Marktoestande

Dis tans baie makliker om goedkeuring vir ’n huisverband te kry as ’n paar jaar gelede. Ons banke is besig om aktief teen mekaar te kompeteer vir jou besigheid. As jy dus min skuld het, oor ’n goeie kredietrekord beskik en ’n redelike deposito kan betaal, sal jy waarskynlik ook vir ’n rente­koers­toegewing kwalifiseer.

Dit beteken dat jou maandelikse verbandpaaiemente minder gaan wees, en jy geld oor die lange duur van jou leentydperk sal spaar. Raadpleeg ’n betroubare verbandtussenganger, en as jy besluit om eerder te trek as om jou bestaande huis op te knap, maak seker dat jy eers voorafgoedkeuring vir ’n verband kry.

Dit sal jou nie net ’n goeie idee gee van wat jy kan bekostig nie, maar dit ook moontlik maak om met verkopers te onderhandel.

Meer oor:  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.