Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Regter, ken jy waarde van ’n uitveër?

Gustaf Pienaar gaan delf in ou hofuitsprake wat tussen 1922 en 1933 in Suid-Afrika gelewer is, en skryf oor losloperskape, tabak, huurmotorskade en bekrompe kontrakvoorwaardes.

Skets: Hanlie Malan
Skets: Hanlie Malan

Jare gelede het ek op die KKNK op Oudtshoorn gaan luister na wat ’n paar woordsmede oor die skryfkuns te sê gehad het.

Jan van Tonder – skrywer van, onder meer, Roepman – het ’n metafoor gebruik wat my bygebly het: “ ’n Skrywer se vernaamste gereedskap”, het hy gesê, “is sy potlood en uitveër.”

Die “uitveër” is veral vir ’n rubriekskrywer onontbeerlik: Jy moet jou storie vertel binne die getal woorde wat normaalweg vir jou rubriek toegelaat word – in my geval so om en by 1 100 woorde. Die proses van inkorting is vir my die vermoeiendste deel van teksversorging.

Met dit gesê, die Suid-Afrikaanse hofverslae verveel my deesdae. Dis asof daar nie – wat temas betref – meer “lekker stories” is om oor te vertel nie.

Daarby is dit asof regters sukkel om by die punt te kom. Miskien sal dit help as die uitgewers van hofuitsprake beperkings begin stel op die getal woorde wat regters in hul uitsprake – wat vir publikasie geoormerk is – mag gebruik: Regters kan gerus hul uitveërs kwistiger aanwend.

Maar nou begeef ek my op gevaarlike terrein – nes keiser Josef II van Oostenryk, wat in Miloš Forman se voortreflike, veelbekroonde rolprent oor die lewe van Mozart, Amadeus (1984), ’n taamlike gek van homself maak.

In die voorafgaande toneel is daar flitse van die première van Die huwelik van Figaro (oorspronklik in Wene op 1 Mei 1786.) Die keiser (gespeel deur Jeffrey Jones) komplimenteer vir Mozart (Tom Hulce) met sy nuwe opera, maar voeg by dat daar soms net te veel note was: “There are in fact only so much notes the ear can hear in the course of an evening,” sê die keiser. Mozart is verstaanbaar omgekrap oor dié geklike opmerking, waarna die keiser hom gerus stel: “My dear young man, don’t take it too hard. Your work is ingenious. It’s quality work. And there are simply too many notes, that’s all. Cut a few and it will be perfect.”

Mozart se antwoord is skreeusnaaks:”Which few did you have in mind, Majesty?”

Moet dus net nie vir my vra wátter woorde uit regters se uitsprake verwyder moet word nie; ek sê maar net wat ek persoonlik waarneem.

Om die verveling te verdryf, het ek vandeesweek weer gaan delf in die twee volumes op my rak van opsommings van Suid-Afrikaanse hofuitsprake tussen 1922 tot 1933.

Soos dikwels trek hofuitsprake wat met diere verband hou, die aandag. ’n Voorbeeld is die saak Kock v. Klein, ’n uitspraak van die Kaapse hooggeregshof van 1933. Klein se skaapwagter het ’n trop skape padlangs laat trek.

’n Gedeelte van die pad het oor Kock se plaas gegaan. Twee van Klein se skape het die trop verlaat en – soos skape maar maak – is ’n groot klomp agterna.

Die wagter het probeer om hulle terug te jaag, maar in die proses het hy vergeet van die skape wat hy op die pad agtergelaat het.

Hulle het op hul beurt in die aanliggende veld loop wei, waar hulle deurmekaar geraak het met Kock se skape.

Die stomme wagter het onsuksesvol probeer om die twee troppe uitmekaar te haal. “He spent the whole day”, lees ons in die hofverslag, “chasing the sheep round attempting to do this.” Ek kan my net die prentjie voorstel.

Uiteindelik het Klein se skaapwagter sy lot by Kock – die eienaar van die grond waaroor die pad gegaan het – gaan bekla. Dié moes drie ekstra man huur om die skape kraal toe te jaag, waar die twee troppe oplaas geskei is.

Toe prosedeer Kock teen Klein vir skadevergoeding: Sy skape, het hy aangevoer, het kondisie verloor toe hulle daardie dag so van bakboord na stuurboord gejaag is.

Klein se skape sou glo ook Kock se weiding afgevreet het, en ook daarvoor het hy vergoeding geëis. Hy het voor die plaaslike landdros verloor, maar uiteindelik sukses gehad toe die hooggeregshof sy appèl aangehoor het.

Hoeveel sy vergoeding beloop het, lees ons ongelukkig nie.

Dit lyk my die motorverhuringsbesigheid kom al ’n lang pad. ’n Kaapse uitspraak van 1928 vertel die verhaal van Model Hire Service wat ’n motor aan ene Marks verhuur het.

M was in ’n botsing betrokke wat nie sy skuld was nie. Die motor is liggies beskadig, en nadat M die motor oppervlakkig ondersoek het, was hy tevrede dat daar nie olie- of waterlekkasies was nie.

Hy het sy reis voortgesit maar ná ’n paar kilometer was daar teë­spoed: Die motor, lees ek in die hofverslag, “ . . .stopped and refused to go further” – so asof dit ’n donkiekar was.

Die rede was dat daar wel skade aan die verkoeler was; water het uitgelek en die enjin is beskadig. M is aanspreeklik gehou – die feit dat hy niks van die werking van ’n motorenjin verstaan het nie, was nie ’n verskoning nie, het die hof beslis: Hy was regtens verplig om deskundige advies te bekom alvorens hy ná die ongeluk verder gery het.

Die United Tobacco Company het gedurende ongeveer 1929 koeponne uitgereik aan klante wat hul “C to C Virginia and Turkish Cigarettes” gekoop het. Die veldtog kon te eniger tyd in die diskresie van die tabakmaatskappy beëindig word.

Wanneer ’n klant op dié manier 700 koeponne versamel het, kon hy dit inruil vir ’n Elgin-horlosie ter waarde van £3 3s – toe nog ’n stewige bedrag.

Ene Gerson het op verskillende datums in 1930 sy versameling van 700 koeponne by die tabakmaatskappy aangebied in ruil vir ’n Elgin-horlosie, maar die maatskappy het geweier, want die aansporingskema is reeds op 5 Maart 1930 beëindig, soos wat die maatskappy geregtig was om te doen.

Gustaf Pienaar

Gerson is hof toe, maar het sy eis verloor, want hy kon nie bewys dat hy die koeponne vóór 5 Maart 1930 aangebied het nie.

Straks het hy daarna sy sigarette met sy waardelose 700 koepons aangesteek – as hy nie uit protes die rookgewoonte gestaak het nie!

Flax v. Van der Linde, ’n uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof van 1928, handel oor ’n eienaardige voorwaarde in ’n koopkontrak van grond: Flax (die koper) het hom en sy opvolgers in titel daartoe verbind dat hy die grond slegs aan “suiwer” wit mense – wat daarby ook “ongesensureerde” lidmate van die NG Kerk was – mog verkoop.

Toe Flax lateraan die grond aan ’n nie-Gatjieponder wou verkoop, het hy sy rieme in die hof styfgeloop: Dié voorwaarde was nie contra bonos mores nie, en dus bindend, was die beslissing.

Ek wed jou dat so ’n bekrompe voorwaarde in ’n koopkontrak vandag nie die toets van regsontwikkeling en – veral – die Grondwet sal slaag nie. En daarmee is ek by my limiet: 1 100 woorde, om presies te wees.

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai.
Meer oor:  Kknk  |  Gustaf Pienaar  |  Oudtshoorn  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.