Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
SA het nou eie ‘Zoom-dorpe’

Suid-Afrika beskik oor van die beste kusdorpies vir diegene wat van die huis werk en die sogenaamde digitale nomade, meen eiendomskenners.
zoomdorpie
Die ontwikkeling Mykonos in Langebaan is goed geleë en kopers kan nog woonstelle vir R900 000 daar bekom.

Die gewilde aanlyn gemeenskapsbeweging Wifi Tribe meen Kaapstad is onder die beste plekke ter wêreld en die beste op die vasteland om van die huis af te werk.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê die neiging om na dorpies te verhuis of in ’n tweede huis te belê om veral van daar van die huis af te werk – veral langs die kus – was ’n belangrike dryfveer vir markaktiwiteit die afgelope jaar.

Hierdie dorpies het bekend geword­ as sogenaamde Zoom-dorpe – ’n verskynsel wat vir die eerste keer in Amerika voorgekom het, maar nou ook meer algemeen op eie bodem voorkom vanweë die Covid-19-pandemie en mense se strewe om ’n beter leefstyl te volg.

Volgens Seeff is dit veral die klein kusdorpe wat binne die bereik van ’n stad en lughawe vir pendeldoeleindes is, wat baat vind by hierdie tendens.

“Waar ons sou verwag dat verkope in die klein kusdorpe basies tot stilstand sou kom as gevolg van die ekonomiese agteruitgang, sien ons die teenoorgestelde. Onlangse prysgroei-neigings dui ook op ’n effens hoër prysgroei aan die kus in vergelyking met binnelandse gebiede, wat nogal nie kenmerkend is nie.”

Volgens Seeff was dit tradisioneel ouer kopers wat om redes soos aftrede of ’n behoefte om af te skaal na kleiner kusdorpe sou verhuis. Deesdae vat ’n toenemende aantal jonger mense die pad kus toe.

In Hermanus is byna ’n kwart van die heeltydse inwoners nou jonger as 35 jaar oud. In Langebaan is dit ongeveer ’n derde, terwyl meer as 40% van die mense in die Bloubergstrand-omgewing onder 35 jaar is.

Gebiede soos Seepunt en Groenpunt, asook ’n kusdorp soos Mosselbaai ervaar ook ’n toename in jonger kopers.

Hoe langer die Covid­-19-pandemie talm, hoe meer kopers is daar wat wil ontsnap na minder digbevolkte gebiede waar hulle ’n gehalteleefstyl kan geniet terwyl hulle aan die gesondheidsmaatreëls voldoen, sê Seeff.

Afgesien van watersport, bied die kusdorpe ’n wonderlike buitelewe-leefstyl, dikwels saam met gholf en ander geriewe, fietsry of net lekker roetes om te gaan stap met jou hond.

Kaapse kusdorpe lok só

Die Suid-Kaap- en Weskus-dorpe, soos Hermanus, Langebaan en Struisbaai/Agulhas, se huismarkte vaar goed – strydig met wat verwag word.

Volgens Paul Kruger, lisensiehouer van Seeff Hermanus, neem Hermanus se gewildheid toe en is meer as 70% van alle verkope aan mense buite die dorp.

Die dorp is veral gewild vir eiendomsbeleggers­ wat in ’n tweede huis wil belê en is nou ’n uitstekende plek vir diegene wat van die huis af werk en semigrerende gesinne wat ’n kosmopolitiese kusstyl kan geniet.

’n Luukse woning daar kan jou miljoene uit die saak jaag, maar volgens Kruger is daar steeds woonstelle van ongeveer R1 miljoen en huise van ongeveer R1,8 miljoen te koop.

Langebaan is weer slegs ’n uur se ry van Kaapstad en ’n gewilde naweek-wegbreekplek en tweede woonbestemming vir Kapenaars, sê Jaco Coetzee, senior agent van Seeff Weskus. Dit is ’n uitstekende basis in ag genome hoe naby dit aan Kaapstad, Saldanha en Vredenburg is en volgens hom floreer die huisverkope daar.

Die Struisbaai/Agulhas-gebied is meer afgesonder, maar baie aanloklik weens sy wit vissershuis-argitektuur en ligging op die suidelikste punt van Afrika.

Richard Pratt, Seeff se bestuurder vir dié gebiede, sê die mark daar vaar goed.

Gewilde woongebiede sluit die klein Robertson-area in Struisbaai in vanweë die nabyheid van die hawe en swemstrand, Ocean View-rylaan in Oceanview Heights vanweë die pragtige uitsig en Marinerylaan vanweë die ligging by die strand.

Hoewel die pryse in Agulhas tot R5,1 miljoen en in Struisbaai R8,5 miljoen kan bereik, is daar nog woonstelle van R1,2 miljoen en huise van ongeveer R2 miljoen – dikwels met ’n see-uitsig of naby die strand.

Digitale nomade

Wifi Tribe lig gebiede soos Seepunt en Groenpunt uit as ’n uitstekende plek vir digitale nomade vanweë onder meer die kafee­kultuur daar.

Ross Levin, besturende direkteur van Seeff in die Atlantiese- kus-gebied en in die stadskom, sê dié buurte bied steeds toeganklike pryse en die meer bekostigbare woonstelle vlieg van die spreekwoordelike rak af.

Meer oor:  Hermanus  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.