Werke deur Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan sy aan sy pronk met werke van Afrika se voorste kunstenaars op Sotheby’s se komende verkoping van moderne en kontemporêre kuns in Londen.

J.H. Pierneef se monumentale Somerreën in die Bosveld, wat na verwagting vir tussen £100 000 en £150 000 in Londen gaan verkoop. Foto: Sotheby’s
Netwerk24Foto: Sotheby’s
Dié veiling word op 15 Oktober gehou. Een van die hoogtepunte op die veiling is Gerard Sekoto se Cyclists in Sophiatown, wat na verwagting vir tussen £250 000 en £350 000 gaan verkoop.
Sekoto staan wyd bekend as die pionier van swart Suid-Afrikaanse kuns en sy uitbeeldings van die lewe in townships, weerspieël die ekonomiese swaarkry, maatskaplike spanning en rasse-onbillikheid tydens die apartheidsera.
Sy kinderjare, waartydens die gesin van stad na stad getrek het, het hom van ’n unieke perspektief voorsien en hy het die grootste inspirasie vir sy kunswerke uit die arm swart bevolking geput. Sekoto het in 1939 in Sophiatown in Johannesburg gebly, waartydens hy Cyclists in Sophiatown geskilder het.
J.H. Pierneef se monumentale werk Somerreën in die Bosveld gaan ook onder die hamer kom. Dié werk is in die vroeër jare van sy loopbaan geskilder en is in kontras met die hoogs gestileerde werke wat hy ’n dekade later geskilder het. Die werk het ’n voorveilingsberaming van tussen £100 000 en £150 000.

Gerard Sekoto se Cyclists in Sophiatown het ’n voorveilingsberaming van tussen £250 000 en £350 000.Foto: Sotheby’s
Die ster van Sotheby’s se verkoping gaan egter ’n herontdekte portret deur die Nigeriese meesterskilder Ben Enwonwu wees. Dié portret van die skilder se goeie vriendin Christine Elizabeth Davis gaan vir die eerste keer op ’n veiling te siene wees, nadat dit sedert hy dit in 1971 geskilder het, weggesteek in haar familiehuis gehang het. Christine het ’n voorveilingsberaming van tussen £100 000 en £150 000.
Sekoto en Enwonwu het in 1946 ’n ateljee in Parys in Frankryk gedeel en die twee kunstenaars was verantwoordelik vir die vestiging van Afrika-modernisme.
Hannah O’Leary, Sotheby’s se hoof van moderne en kontemporêre Afrika-kuns, sê die verkoping is spesiaal, veral danksy die wonderlike stories en historiese belang van die kunswerke.