Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Skoudag: Hou jouself, huis só veilig

Die inperkingsmaatreëls is verslap, die eiendomsbedryf is oopgestel en eiendomsagente sal eersdaags weer skoudae kan hou om huise aan voornemende kopers te bemark – met sosiale afstandhouding as prioriteit, natuurlik!

Kenners meen egter dat hoewel skoudae ’n baie doeltreffende wyse is om eiendom te bemark, die regte maatreëls in plek moet wees om die eiendom en die verkoper se waardevolle besittings, sowel as die agent en almal wat die huis besoek te beskerm.

“Die eiendomsbedryf is weer in volle gang, maar vanweë Covid-19 moes agente ’n paar toegewings maak om hul kliënte en hulself veilig te hou. As gevolg daarvan, het ons agente gevra om een-tot-een-besigtigings met kliënte te reël – slegs op afspraak,” sê Mike Greeff, uitvoerende hoof van Greeff Christie’s International Real Estate.

“Voor die huis besigtig word, word alle besoekers ondervra en gevra om ’n verklaring te onderteken. Binne die eiendom moet streng maatreëls gevolg word, soos om ’n masker te alle tye te dra, sosiale afstand te behou en jou hande gereeld te reinig,” verduidelik hy in ’n verklaring.

Benewens vir die gesondheid van die eiendomsagent en die voornemende kopers wat die huis besoek, is dit ook belangrik om behoorlike veiligheidsmaatreëls in plek te hê, meen Charnel Hattingh, die nasionale bemarkings- en kommunikasiebestuurder vir Fidelity ADT.

Foto: istock

Hiermee ’n paar van haar wenke vir eiendomsagente en verkopers:

  • As iemand namens jou agent instaan op skoudag, dring aan daarop om die persoon vooraf te ontmoet en die reëlings vir jou huis te bespreek.
  • As daar ’n paniekknoppie in jou huis is, maak seker dat die agent toegang daartoe het – sowel as die noodnommer vir jou sekerheidsmaatskappy.
  • Stel jou sekerheidsmaatskappy in kennis dat jou huis geskou word en vra hulle om deur die loop van die middag ’n draai daar te gaan maak.
  • Moenie enige spaarsleutels (vir die agter- of stoepdeure of die motorhuis) laat rondlê nie.
  • Enige waardevolle items wat maklik in ’n handsak of ’n broeksak kan pas, moet liefs veilig weggesluit bly. Onthou net dat laaie en badkamerkassies vinnig oopgemaak en deursoek kan word, só maak seker dat daar geen waardevolle items daarin is nie.
  • Bêre enige groot toestelle, gereedskap of toebehore wat nie op die skoudag nodig is nie, om boewe te ontmoedig om later na jou huis terug te keer wanneer niemand daar is nie.
  • Maak al die gordyne en blindings oop of skakel die ligte in al die vertrekke aan.
  • Dit is belangrik om jouself (agent, verkoper) op die skoudag só te posisioneer dat jy al die besoekers se motors kan sien soos hul arriveer. Maak notas van die registrasienommers, sowel as die motor se model. Moenie die voordeur oop los terwyl jy besoekers deur die huis neem nie. Maak seker dat die huis se interkom, gonser of klokkie werk.
  • Oorweeg om ’n skoudag aan te bied wat slegs op afspraak is. Dit verhoed dat groepe besoekers op dieselfde tyd opdaag – ’n belangrike oorweging gegewe die Covid-19-pandmeie en die gesondheidsrisiko’s vir mense.
  • As daar wel ’n besoeker opdaag terwyl jy nog met iemand besig is, moedig hulle aan om deur die tuin te loop of die besoekersboek in te vul om tyd vir jouself te koop.
  • Vra jou sekerheidsmaatskappy of hulle dalk ’n spesiale paniekknoppiediens aanbied wat met jou selfoon werk. Dit is iets wat jy heeltyd by jou kan hou terwyl jy aan diens is.
Meer oor:  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.