Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Stadige mark: Só oorleef jy, koper én verkoper

Luidens die jongste ekonomiese en eiendomsinligting gaan die huismark op eie bodem vir die res van die jaar teen ’n slakkegang groei.

Foto: ISTOCK

Volgens Ross Levin, Seeff se besturende direkteur (Atlan­tiese kusgebied, Waterfront en Kaapstad se stadskom), word heelparty eiendomstransaksies steeds beklink al word die huismark tans deur stadige markaktiwiteite gekenmerk. Hy meen luidens ’n verklaring hoewel die aantal eiendomme in die mark minder as vorige jare en die huiswaardes aansienlik laer is, is die marktoestande uitdagend maar nie onoorkombaar nie.

Volgens Levin is dit belangrik om te onthou dat die mark nog glad nie tot stilstand gekom het nie, en dat elke belanghebbende – hetsy hulle nou koop of verkoop – hul deel moet bydra.

Hier is van sy wenke vir kopers en verkopers om in die gedempte marktoestande te oorleef.

Kopers, lees hier

Dit gebeur dikwels dat kopers eiendom in ’n woonbuurt bekom wat hulle nie oorspronklik oorweeg het nie.

Gee volledige terugvoering nadat jy ’n huis gaan besigtig het omdat dit baie sal help om die regte eiendom vir jou op te spoor.

Dit is daarom belangrik dat jy vooraf al jou vereistes en behoeftes met jou eiendomsagent deel, sodat jou agent ’n portefeulje kan saamstel met eiendomsopsies waaruit jy kan kies. En daar ís nou heelparty om uit te kies, voeg Levin by.

“Gee volledige terugvoering nadat jy ’n huis gaan besigtig het omdat dit baie sal help om die regte eiendom vir jou op te spoor.

“Daar is geen rede waarom jy nie kan kry waarna jy soek nie, sowel as ’n verkoper wat op hierdie tydstip bereid is om te onderhandel.”

Levin meen onderhandeling is nou moontlik, maar dit is belangrik om dit in oorleg met jou agent te doen.

“Baie min verkopers kry tans hul volle vraprys en die verskil tussen wat uiteindelik verkry word en mense se verwagtinge, kan groot wees.

“Laat jou eiendomsagent toe om jou leiding te gee hiermee. Jou droomeiendom kan nou dalk net binne jou bereik wees,” sê hy.

Daarbenewens moet jy ook probeer om jou aanbod so aanloklik moontlik te maak. Volgens Levin kan ’n ervare eiendomsagent ook hiermee help.

“Maak seker dat alles gereed is deur voorafgoedkeuring by die bank vir ’n huisverband te kry. As jy nog eers jou eie eiendom moet verkoop voordat jy ’n nuwe een kan koop, is dit belangrik om dit te laat waardeer en so gou as moontlik op die mark te kry. Dit sal alles jou aanbod op die nuwe eiendom versterk,” verduidelik hy.

Ross Levin. Foto: Verskaf

En verkopers?

Volgens Levin is die belangrikste ding wat verkopers nou kan doen, om ’n betroubare eiendomsagent te kry en ’n alleenmandaat toe te ken.

Nagenoeg twee derdes van die eiendomstransaksies wat sy tak in die afgelope jaar beklink het, was alleenmandate, sê hy.

Met die huidige marktoestande speel eiendomsagente ’n belangrike rol om die waarde van ’n verkoper se belegging te beskerm.

“As die marktoestande uitdagend is, wil jy graag hê dat jou eiendomsagent ’n gebiedskenner moet wees. Dit moet ’n persoon wees wie se fokus hiper-plaaslik is en die woongebied uiters goed ken en verstaan.

“Met hierdie kennis kan die agent jou lei en jou van inligting oor die marktoestande, verkope in die gebied en kopersprofiele voorsien. Dit is ook heel moontlik dat die agent sommer met die intrapslag al voornemende kopers in gedagte het,” verduidelik hy.

Die verkoopprys van ’n eiendom is een van die moeilikste gespreksonderwerpe, aldus Levin. Dit is egter uiters belangrik en ’n groot faktor wanneer jy jou huis in die mark wil posisioneer – veral in taai marktoestande.

“Jy gaan mooi moet kyk na wat uiteindelik verkoop en nie net na die pryse waarteen die eiendomme van die hand gesit word nie.

“Met die huidige marktoestande bly die voorraadvlakke toeneem en verkopers moet dus gaan kyk na wat hul eiendom van die res onderskei,” sê Levin.

Hy sê nóg ’n belangrike aspek is dat jy dit duidelik stel aan jou eiendomsagent teen watter datum jou huis verkoop moet word.

Dít sal baie aspekte van die bemarkingsplan, prys en strategie vir die verkoop van jou eiendom bepaal.

Meer oor:  Seeff  |  Eiendomme  |  Huisgids
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.