Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Tutu waardige houer van Nobelprys

Gustaf Pienaar vertel oor ’n spesiale ontmoeting met emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu (88) in 2011 en die high five wat sy kleinseun Altus op daardie dag in die St. George-katedraal by hom gekry het. 

  Skets:    hanlie malan
Skets: Hanlie Malan

As iemand gedurende die stormagtige 1980’s vir my sou vra of ek ooit iewers in die toekoms ’n vleiende artikel oor aartsbiskop (nou emeritus) Desmond Tutu sou skryf, sou ek waarskynlik net minagtend gesnork het en die onderwerp verander het. 

Ek sou nie alleen gewees het nie: Selfs bekende Engelssprekende liberaliste soos die gevierde skrywer Alan Paton sou destyds tot ’n mate my sentimente gedeel het.

En hier skryf ek nou wel oor Tutu, wat vroeër vandeesweek sy 88ste verjaarsdag gevier het.

Ek gaan nie probeer verduidelik hoe dit gekom het dat ek hom nou bewonder nie – klaarblyklik het ék verander, maar hy het óók. Met Tutu se 80ste verjaarsdag op 7 Oktober 2011 is ’n prag-biografie van hom, in koffietafelboekformaat, vrygestel. 

Ek het besef dat dit waardevol sou wees om die biskop se handtekening in dié boek te verkry en het met sy kantoor in verbinding getree om ’n afspraak te probeer reël. 

Sy assistent het my vertel dat hy op 4 November van daardie jaar die oggendmis in die St. George-katedraal sou lei. Ek sou hom dáár kon ontmoet. 

Ons het by ons Paarl-kinders tuisgegaan. Ek het versigtig verneem of ek nie maar ons oudste kleinseun, Altus – wat toe in gr. 1 was – die volgende oggend kon saamneem Kaap toe nie. Uiteindelik het hy en ons skoonseun, Frans, my vergesel op wat ’n onvergeetlike sending sou word. 

Die mis is vroegoggend deur Tutu in ’n sy-kapel van die St. George-katedraal gelei. Dit is bygewoon deur talle buitelanders – onder meer uit Kalifornië, Duitsland en Skotland. 

Nou moet ek myself hier onderbreek. Die uitgesproke Tutu het eenmaal vir Nelson Mandela gekritiseer oor sy voorliefde vir kleurryke hemde. 

Hy het gemeen ’n pak klere is meer “presidensieel.” Mandela het op sy tipies humoristiese wyse teruggekap: “Dis ironies dat dié kritiek kom van ’n man wat rokke dra . . .” 

’n Opgeruimde Tutu – toe wel op daardie November-oggend geklee in ’n wit jurk – het moeite gedoen om die uiteenlopende gehoor tuis te laat voel. 

Hy het by geleentheid die liturgie onderbreek en vir die aanwesiges gevra waar hulle vandaan kom. Toe hy by ons kom, het ek op Afrikaans vertel dat ekself van Vleesbaai is, maar dat Frans en Altus Paarliete is.

Sover ek kon vasstel was ons die enigste Afrikaanssprekendes in die gehoor.

Kort daarna het Tutu die geloofsbelydenis in foutlose Afrikaans – woord vir woord, soos ons dit Sondae in Afrikaanse kerke beleef – voorgedra. Dit was ’n gebaar wat ons diep ontroer het, want straks sou min van die ander aanwesiges dit kon volg.

Die Nagmaal is daarna bedien. Ons het ons hosties (die Afrikaans vir wafer) van Tutu self ontvang. Toe dit my beurt was het hy op Afrikaans gesê: “Die liggaam van Christus.” 

Ná die diens het Tutu die kerkgangers by die uitgang van die kapel gegroet. Hy het met sy oorrompelende sjarme en geduld maklik 20 minute lank vir foto’s geposeer. 

En toe ons ’n kans by hom kry, het hy weer Afrikaans gepraat en vir Altus genooi om hom te high five. Die kennismaking tussen die energieke sewejarige se regterhandjie en die oumenshand van die Nobel-vredespryswenner het so deur die katedraal weergalm. Tutu het sy bekende skaterlaggie gegee.

Tutu het geesdriftig ingestem om my eksemplaar van sy biografie asook my handtekeningboekie te teken. Frans het foto’s geneem. 

Ek het gemerk dat hy linkshandig is en dat hy sy pinkie, ringvinger en middelvinger “saambondel” en op ’n ietwat komieklike wyse in die lug hou.

Ons dogter, Franike – wat self linkshandig is – het dadelik die rede daarvoor ingesien: As ’n linkshandige nie sy vingers “uit die pad” hou nie, sal hy sy skryfwerk besmeer as die ink nog nat is. Klaarblyklik had Tutu jare se ondervinding in die uitdeel van handtekeninge. 

Die Arch het my beïndruk as ’n warm, liefdevolle, meelewende mens – nie verniet ’n Nobel-vredespryswenner nie. 

Dit is jammer dat sulke mense moet oud word . . .

Ons wildtuinvakansie – ’n laaste storie

Dit was ons “Mozart-vakansie”: Ons het ’n wye verskeidenheid Mozart-CD’s waarna ons tuis gans te min luister. 

Daardie CD’s het dus saamgegaan – onder meer die voortreflike versameling van Mozart se 27 klavierkonserte. Die solis is Vladimir Ashkenazy wat self die Filharmonia-orkes van die klavier af dirigeer. 

Op ’n loom Sondagagtermiddag het ons op die oewer van ’n droë rivier in die omgewing van die Mopani-ruskamp onder welige bome geparkeer en ’n skemerkelkie geniet. In die motor se CD-speler was die opname van Mozart se tweede klavierkonsert in B-mol-majeur aan’t speel. 

Doer onder in die droë rivierbedding was drie olifante besig om uit ’n klein waterpoeletjie ’n lafenis te soek. Ons het die motor se syruite laat sak, meer ter wille van ’n koeligheid as enigiets anders. 

’n Fris koedoebul het skielik uit die ruigtes in ons rigting aangestap gekom. Daar was geen ander besoekers in ons omgewing nie, en ek het, as ’n soort “eksperiment”, die volume ietwat aangedraai: Ek wou uitvind wat die uitwerking van sulke musiek op die koedoe sou wees.

Dié het nuuskierig in ons rigting aangestap gekom, ’n rukkie roerloos bly staan en luister en toe so 20 treë regs van die motor rustig aan die blare van ’n jong boompie begin kou.

Toe vestig vroulief, Corlina, my aandag op ’n merkwaardige verskynsel links van ons. 

’n Kameelperdkoei het op ’n vlak laer as die motor, maar nie meer as drie meter van ons af nie, stip in ons rigting gekyk en oënskynlik na die Mozart-konsert geluister. Al wat jy tussen die boomtakke deur kon sien, was haar kop met die slank snoet, die twee horinkies aan die bokant en die groot ore. 

Ek het vir ’n lang ruk letterlik met haar oogkontak gehad; sy had die allerfraaiste donkerbruin oë. 

Tydens die lewendige eerste beweging van die klavierkonsert – met die tempo-aanduiding Allegro spirito – het sy absoluut bewegingloos bly staan. Net die ore het af en toe geroer.

Tydens die stadiger tweede beweging, Andante, het sy rustig omgedraai en buite ons sig verdwyn. Kort daarna het ek haar egter regs agter die motor waargeneem. 

Sy het bitter naby ons begin peusel aan die welige blare van ’n boom, en daarmee volgehou tot aan die einde van die konsert. Ek het die motor versigtig omgedraai en, met die volgende Mozart-konsert aan’t speel, langs haar stilgehou – niks meer as twee meter van haar af nie. Steeds het sy ongestoord aangehou vreet; iets wat, volgens ons ervaring, werklik sonderling is vir die wildtuin se kameelperde. 

Moet asseblief nie my pret bederf deur een of ander “wetenskaplike” verklaring vir die kameelperd of koedoe te probeer aanbied nie. Dáárvoor is die herinneringe aan daardie paar magiese minute in die bos vir ons veels te kosbaar. 

  • Bronne: Allister Sparks en Mpho Tutu: Tutu – the Authorised Portrait (Macmillan, 2011); Wikipedia.  
  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai.
Meer oor:  Nobelprys  |  Gustaf Pienaar  |  Desmond Tutu  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.