Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Weet dít voordat jy opknap

Om jou huis op te knap hou baie voordele in: Jy verbeter nie net jou huis en lewensgehalte nie, jy verbeter ook die waarde van jou belegging en verseker vir jouself ’n beter huuropbrengs. Daar is egter ’n hele handvol slaggate – veral vir groentjies. Chris Cilliers, uitvoerende hoof en medeprinsipaal van Lew Geffen Sotheby’s Inter­national Realty in die Kaapse Wynland, gee raad.

Foto: iSTOCK

As jy jou eerste huisopknappingsprojek beplan, kan dit baie aanloklik wees om ’n paar stappe oor te slaan om by die opwindende deel te kom – die keuse van verfkleure en die afwerkings en toebehore waarvan jy hou.

Voordat jou entoesiasme egter die oorhand kry, doen eers jou huiswerk deeglik sodat jy ’n duidelike idee het van wat jou einddoel moet wees.

Baie groentjies wat só ’n projek aanpak, besef nie dat hul eerste stappe die res van die projek sal bepaal nie. Dit kan ook mettertyd verreikende gevolge hê.

As jy ’n duidelike idee het van hoe die eindresultaat moet lyk, sal dit jou kontrakteurs in staat stel om jou onmiddellik te kan raad gee oor die haalbaarheid van hierdie eindresultaat. Hulle sal jou ook die regte leiding kan gee as jy alternatiewe moet oorweeg.

Dit sal jou ook help om ’n akkurater begroting en tydlyn op te stel en daarby te hou.

Hiermee ’n paar wenke vir groentjies om die slaggate van huisopknappingsprojekte te vermy:

1. Stel die eiendomswaardes in jou woonbuurt vas:

Ten einde jou opbrengs op belegging te bepaal en te verhoed dat jy te veel geld op die projek bestee, stel vas waarvoor soortgelyke eiendomme in jou woonbuurt onlangs verkoop het. Jy kan dit op aanlyn platforms soos Property24 nagaan.

2. Werk volgens ’n begroting wat jy opgestel het:

Nadat jy jou huiswerk deeglik gedoen het, gaan werk ’n begroting uit – so presies as moontlik. Dit moet ook voorsiening maak vir onvoorsiene koste. En jy kan jou maar voorberei dat jy wel daardie geld gaan nodig hê.

Jou begroting moet ook voorsien vir ander koste soos wanneer jy moet gaan uiteet as jou kombuis nie toeganklik is nie, of as jy vir ’n nag of twee in ander verblyf moet gaan oornag.

3. Beplan vooruit:

Jy moet verskeie faktore versigtig oorweeg as jy ’n opknappingsprojek aanpak, soos jou gesin se ruimtebehoeftes en watter kook- en ablusiegeriewe dalk rondgeskuif moet word.

Dit is uiters belangrik om ’n bondige werkskedule te hê sodat jy daarvolgens kan beplan, veral vir die tye wanneer jy dalk nie water of krag sal hê nie.

4. Skep ’n toevlug:

Om op die perseel te woon en die transformasie van jou huis eerstehands te aanskou is baie opwindend. Maar dit kan ook by tye oorweldigend en ondraaglik word. Om dié rede is dit belangrik om ’n ruimte vir jouself te skep waar jy van die stof en puin van ’n bouperseel kan ontsnap.

Dit sal die wêreld se verskil maak as daar net een kamer is wat jy skoon, netjies en snoesig kan maak.

5. Stoorplek op die perseel:

Jy sal nie net jou eie besittings moet bêre nie, maar ook die gereedskap en boumateriaal vir die projek.

As jy nie ’n gepaste buitegebou op jou erf het nie, rig ’n skuur op of oorweeg om ’n vraghouer te huur.

6. Kies die regte mense:

’n Goeie kontrakteur sal nie ’n probleem daarmee hê om jou van verwysings en afskrifte van sy of haar aanspreeklikheids­versekering te voorsien nie.

Onthou net: Daar is heelwat meer belangrike eienskappe as net kreatiewe talent om te oorweeg. Dit sluit in betroubaarheid, die vermoë om ’n situasie vinnig te beoordeel en die nodige oplossings daarvoor te kry, sowel as om so na as moontlik aan die begroting en die ooreen­gekome spertyd van die projek te bly.

Dit is ook belangrik om uit te vind aan hoeveel ander projekte die maatskappy tans werk.

As daar heelwat ander projekte op dieselfde tyd aan die gang is, kan ek amper met sekerheid sê dat jou projek nie teen die spertyd gaan klaar wees nie.

7. Het jy die regte versekering vir die projek?

Stel jou versekeringsmakelaar in kennis van watter werk jy aan jou huis gaan laat doen en vind uit of jy jou huisversekering moet aanpas, en of jy enige tydelike polisse vir die duur van die projek moet uitneem.

Net omdat jou kontrakteur aanspreeklikheidsversekering het, beteken nie dat jy ten volle gedek is nie.

O, die slaggate!

Dit is onvermydelik dat ’n opknappingsprojek ’n wipwaentjierit van opwinding, optimisme, spanning en angs gaan wees.

Daar is egter ’n hele aantal foute wat groentjies maak wat hierdie angs en stres net ver­erger. Maar die meeste van hierdie slaggate kan vermy word as jy net voorbereid daarop en daarvan bewus is.

Die algemeenste foute wat huisopknappers maak, sluit in:

1. Jy onderskat die koste:

Dit is regverdig om te sê dat die meeste projekte uiteindelik meer sal kos en langer sal neem as wat jy verwag het.

Dit is dus slim om minstens 20% by jou totale projekkoste te voeg as jy dit kan bekostig. As jy moontlik onder begroting inkom, kan jy daardie ekstra geld gebruik om al die goedjies te koop wat jy aanvanklik nie kon bekostig nie.

2. Jy verwag alles gaan volgens plan verloop:

Dit is veral waar vir mense wat op ouer geboue werk, waar ’n hele lot onvoorsiene probleme en uitdagings kan opduik.

Dan is daar boonop ook altyd faktore soos die weer, menslike foute en ’n hele aantal ander kwessies wat met sulke projekte in ag geneem moet word.

Die belangrikste is om altyd die onverwagte te verwag en goed voorbereid te wees ingeval probleme opduik.

3. Jy maak te veel veranderinge terwyl jul aangaan:

Selfs die kleinste veranderinge kos geld. Probeer dus om nie onnodige veranderinge aan die oorspronklike plan te maak wanneer die projek reeds begin het nie.

Raadpleeg ook eers jou kontrakteur of ontwerper oor die moontlike implikasies en koste van hierdie veranderinge voordat jy die besluit maak.

4. Te veel vertrekke:

Om net lukraak in verskillende vertrekke weg te spring sal jou rusteloos laat voel.

Dit is ook maklik om ontmoedig te word as niks klaarkom nie en dit voel asof die projek vir ewig aanhou.

5. Jy het nie ’n tydlyn waarvolgens jy werk nie:

Werk ’n realistiese tydlyn saam met jou kontrakteur uit en maak ’n ooreenstemmende lys van materiale wat aangekoop moet word – betyds vir elke vlak van die projek.

Jy kan nie rondhardloop op soek na materiaal en die projek vertraag nie – dit is duur en frustrerend.

Daarbenewens is dit slim om ook nie die spertyd vir jou projek na aan groot vakansies soos Paasfees, Kersfees of dalk ’n 50ste verjaardag te maak nie. Jy gaan beslis teleurgesteld wees.

6. Jy ken nie die plaaslike bouregulasies nie:

Die meeste opknappingswerk het goedkeuring van jou stadsraad nodig. En die owerhede het oor die jare baie strenger geword.

As jy slegs kosmetiese ver­anderinge soos kombuiskaste, nuwe vloere of aanpassings aan jou badkamer beplan, is goedkeuring glad nie nodig nie.

Strukturele veranderinge –soos om ’n muur af te breek om ’n oopplan-vloei te bewerkstellig – kan slegs met goedkeuring vanaf die plaaslike owerhede gedoen word.

Moet ook nie vergeet dat huise ouer as 60 jaar onderhewig aan spesiale beperkings is nie.

7. Jy ken nie die presiese afmetings nie:

Maak ’n lysie met afmetings wat jy byderhand kan hou sodat jy nie die verkeerde groottes en lengtes koop wanneer jy die materiaal gaan aankoop nie.

Dit is ook belangrik in die geval van nuwe meubels omdat jy met ’n sitkamerbank kan opeindig wat heeltemal te groot vir die vertrek is.

Laaste sê

Wees maar versigtig vir doen-dit-self-projekte. Dit lyk dalk maklik en soos soveel pret op die televisie, maar die eindresultaat van só ’n projek wat skeefgeloop het, is allesbehalwe indrukwekkend.

Maak seker jy verstaan hoeveel werk gedoen moet word en hoeveel tyd jy daaraan gaan moet bestee.

As jy ’n bietjie vooruitdink en die nodige beplanning en navorsing gaan doen, is dit moontlik om aansienlike waarde tot jou eiendom te voeg.

Dit kan aan die einde van die dag ondanks die ongerief, ’n baie lonende ervaring wees. Van die voordele sluit moontlik in: Jy spaar geld, jy kan die projek oorsien en jy kan nuwe vaardighede aanleer.

Meer oor:  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.