Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesond
Vertroetel jou vel met gesonde behandelings

Jou vel is die liggaam se grootste orgaan. Dis veral jou gesigvel wat mense eerste opmerk en beskryf as óf mooi óf ongesond. Belinda Jackson deel kenners se raad oor velbehandelings wat goed werk.

Sekere velbehandelings vereis dat ’n dokter teenwoordig moet wees of die behandeling moet uitvoer weens die indringende aard daarvan. Foto: iStock

In ons land van sonskyn word Suid-Afrikaners dikwels aan die son blootgestel. ’n Mooi bruingebrande vel word ook dikwels beskou as ’n teken dat jy sportief, aantreklik, begeerlik en gesond is.

Indien jy een van vele sonsoekers is, is dit belangrik om jou vel beter op te pas, sê kenners. Carina Brits van EWC Mediwellness Centre en Stoffeleen Olivier van Charisma-skoonheids- en laserkliniek deel belangrike inligting en wenke oor velprodukte wat werk.

Kry ’n ordentlike velproduk

“Dit is die moeite werd om goeie velprodukte en -behandelings aan te skaf om die beste resultate te verkry. Gee liewer ’n bietjie ekstra geld uit om seker te maak jy gebruik professionele produkte wat streng kliniese toetse ondergaan het vir optimale uitwerking,” sê Carina.

“Goeie estetiese produkte is gewoonlik diepwerkend en bied groter bevrediging as die gewone gesigsbehandeling.”

Stoffeleen stem saam dat goeie velsorgprodukte met ’n hoër graad aktiewe bestanddele deurdring na ’n dieper laag in jou vel wat jou vel só voed en gesond hou. “Hierdie soort produkte kry jy by erkende skoonheidsalonne waar kundige skoonheidsterapeute jou daaroor kan raadgee,” sê Stoffeleen.

Goeie estetiese produkte is gewoonlik diepwerkend en bied groter bevrediging as die gewone gesigsbehandeling.

Die vier top-velbehandelings

Ons kenners beskou die volgende vier behandelings as die topvier wat wondere aan jou vel sal verrig:

* Chemiese afskilfering: Met hierdie proses word “dooie” vel deur ’n chemiese middel verwyder om nuwe, jonger vel bloot te stel. Daar is verskeie soorte chemiese afskilferingbehandelings wat in verskillende sterktes voorkom.

Stoffeleen beveel aan jy spreek eers ’n velspesialis hieroor om te bepaal watter een is geskik vir jou vel, of laat doen eers ’n velontleding met ’n Visia-masjien om te bepaal wat die protokol van behandeling vir jou moet wees, voeg Carina by.

* Mikronaald-penbehandeling: Hierdie prosedure is veral ideaal vir mense wat hul veltekstuur wil verfyn. Met behulp van hierdie naaldtegniek word kollageen en elastien in die vel gestimuleer en kan verskeie voedingstowwe soos vitamien C, retinol of pigmentasie-serums toegedien word vir nuwer vel.

Die proses behels ten minste vier behandelings elke vier tot agt weke.

* CACI- nie-chirurgiese ontrimpeling: Dié velbehandeling behels ’n kombinasie van elektriese golwe om die gesigspiere pynloos fermer te maak en nuwe energie in die vel te blaas.

* Plasma-pen-behandeling: Dié tegniek word gebruik om die vel om die oë, mond en nek te verferm en ouderdomsvlekke te verwyder. Een tot drie behandelings is gewoonlik nodig, meen Carina.

Die prosedure behels ’n matige, beheerde brandmerk op die vel met ’n wisselstroom, wat die vel se elastisiteit herwin en dit fermer laat, voeg Stoffeleen by. Plooie word sodoende versag en vel vertoon jonger.

“Hierdie behandeling bied ’n hoë graad van akkuraatheid en staan ook bekend as gefokusde velverstywing,” verduidelik Stoffeleen.

Mikronaald-penbehandeling stimuleer kollageen en elastien waardeur die vel vernuwe word vir ’n fermer voorkoms.

Wanneer moet jy met velbehandeling begin?

Stoffeleen glo hoe vroeër jy met velbehandeling begin, hoe beter.

“Tieners kan reeds basiese gesigsbehandeling met ’n geskikte velsorgreeks toepas deur hul vel te bevogtig om sodoende verstoppings en swartkoppies te voorkom,” meen sy.

Navorsing het bewys die meeste sonskade word voor die ouderdom van 18 opgedoen en velveroudering begin reeds tussen 25 en 28 jaar.

Dis dus raadsaam, sê die kenners, om reeds in jou twintigs te begin met ’n goeie roetine van gesigsbehandelings, soos ligte afskilfering.

Mikronaaldbehandeling is na hul mening ideaal vir wanneer jy jou dertigs of veertigs bereik om kollageenvorming en elastien te stimuleer.

Vanaf die ouderdom van 40 raak ’n intensiewer pigmentasie- en teenverouderingsbehandeling met onder meer die plasma-pen en retinol-afskilfering ’n groter noodsaaklikheid, reken Carina.

Tieners kan reeds basiese gesigsbehandeling met ’n geskikte velsorgreeks toepas deur hul vel te bevogtig om sodoende verstoppings en swartkoppies te voorkom.

Waarom is assosiasie met ’n dokter belangrik?

Vir Carina beteken so ’n assosiasie meer toegang tot eksklusiewe produkte en behandelings.

“Jy het ook die voordeel dat sterker verdowingsrome voorgeskryf kan word wat jou behandelings baie meer gemaklik vir jou maak,” meen sy.

Velbehandelings wat ’n dokter se teenwoordigheid vereis

Dokters is nodig om behandelings te doen wat die vel dieper penetreer, soos diep chemiese afskilfering, sommige laserbehandelings, Botox en vullers.

Hierdie behandelings mag nie deur ’n skoonheidsterapeut gedoen word nie.

Stoffeleen raai aan jy doen goed navorsing of die behandeling wel ’n dokter se teenwoordigheid vereis, aangesien dit die koste kan opjaag.

Wenke om jou te help kies
  • Vind uit watter velprodukte en -behandelings die kliniek bied.
  • Begin altyd met ’n professionele velontleding voordat jy op produkte en behandelings besluit.
  • Die toestelle vir velbehandelings moet CE-goedkeuring dra.
  • Hou die prys in gedagte. Onthou gespesialiseerde velbehandelings is alles behalwe goedkoop.
  • Bestudeer resensies van die kliniek (op Google en Facebook). Twee of meer negatiewe kommentare is ’n gevaarteken.
  • Maak seker die terapeute het die nodige opleiding en sertifikate om daardie spesifieke behandeling toe te pas.
  • Jy kan meer mediese behandelinge kry by ’n kliniek waar daar ’n dokter is. Onthou net dat die teenwoordigheid van ’n dokter wel die pryse sal beïnvloed.

Meer oor:  Gesondheid  |  Vroue  |  Vel  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.