Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
JIP
Upingtonner stel 2 jeugboeke in inperking bekend

Keenan Kulsen, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Upington, wou nog altyd stories skryf, maar nooit het hy gedink dat hy sommer twee jeugboeke in een jaar sal uitreik nie.

Keenan Kulsen (15), van Upington, het saam met sy ma, Anzil, Die Been in die Bos en Die Grafsangers geskryf. Foto: VERSKAF

Dié 15-jarige skrywer van Upington het saam met sy ma, Anzil – ook ’n skrywer – twee jeugboeke geskryf wat deel uitmaak van die Bitterbosbende-reeks.

Albei die boeke, Die Grafsangers en Die Been in die Bos, is gedurende die grendeltyd bekend gestel.

Die Bitterbosbende-reeks handel oor ’n groep laerskoolleerlinge wat kattekwaad aanvang en opwinding soek.

Keenan vertel hy wou nog altyd sy eie stories skryf, of dit nou strokiesprente of ’n drama by die skool is. Hy en sy ma het gesels oor wat hy kan doen en kort daarna besluit om iets saam te skryf. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

Keenan sê hoewel die skryfproses lank was, was dit ook baie opvoedkundig.

“Ek het met die skryfproses besef dat ’n skrywer nie net voor ’n rekenaar sit en hul gedagtes tik nie. Daar moet baie navorsing gedoen word om jou leser se aandag te hou,” het Keenan gesê.

Volgens hom moes hy gedurende die dag wanneer hy by die skool is aan idees dink wat hy aan sy ma moes voorlê.

“Ná my sportoefeninge het ek huis toe gegaan en dan het ek alle moontlike idees en scenario’s wat ek geskep het, aan my ma gegee sodat sy daarop kon uitbrei.

“Ons het ook lang gesprekke gehad oor die scenario’s en hoe ons die storie kan skryf,” sê hy.

Hy voeg by dat dit sowat drie maande geneem het om een boek te voltooi. Dit sluit redigering en herskrywing in.

“Die beste deel van die hele skryfproses was toe ek die laaste woorde geskryf het en ek weet dat dit binnekort by die uitgewer gaan wees.

Om op my ouderdom my naam op die voorkant van ’n gepubliseerde boek te sien, is fantasties.

“Daar is egter ook ’n paar dinge wat nie lekker was nie. Omdat dit so ’n lang proses is, word jy as skrywer ongeduldig. Dit gebeur veral wanneer jy ’n briljante idee het en wanneer jy dit op papier wil sit, ontsnap dit uit jou brein.”

Hy was in ekstase toe hy die eerste keer die gedrukte kopie van sy boeke sien, sê Keenan.

“Om op my ouderdom my naam op die voorkant van ’n gepubliseerde boek te sien, is fantasties. Ek het onmiddellik ’n plek in my kamer gekry waar my boeke kan staan en geen persoon wat daar instap, sal dit kan miskyk nie,” sê hy.

Keenan sê hy sal beslis in die toekoms oorweeg om boeke en stories in sy vrye tyd te skryf. Hy wil egter graag ’n meganiese ingenieur word.

“Ek wil graag meganiese ingenieurswese studeer – dit is ’n groot droom van my. Ek is mal oor enige ding met ’n enjin en ratkas.”

Wanneer Keenan nie skryf nie, kuier hy graag by sy vriende en geniet ’n lekker visvangsessie.

“Ek hou nie van stilsit nie, so ek is altyd besig om iets te doen. Ek is ook mal oor sport, soos sokker en hokkie, en ek doen ook skyfskiet.”

Meer oor:  Jeugboeke  |  Skryf  |  Jip  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.