Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
JIP
‘Word eerder werkgewer as werknemer’
Leon Lategan, ’n entrepreneur, het pas die aanlyn skool vir entrepreneurskap bekend gestel. Foto: FACEBOOK/LEON LATEGAN

Matriekleerlinge moet geleer word om werkgewers te wees eerder as werknemers.

So sê Leon Lategan, entrepreneur en uitvoerende hoof van The Lions Den, ’n onderneming wat betrokke is by die afrigting, opvoeding en oplewering van entrepreneurs.

Lategan het pas ’n aanlyn skool vir entrepreneurskap van stapel gestuur om die plaag van jeugwerkloosheid te beveg.

Volgens Lategan word matriekleerlinge nie behoorlik ingelig oor entrepreneurskap en hoe om entrepreneurs te wees nie en het hy besluit om die kursus te skep

“Leerlinge word geleer hoe om werknemers te word en nie werkgewers nie. Indien ons dit kan verander, sal ons land in ’n baie beter posisie wees in terme van werkskepping. Ons werkloosheidsyfer in die land sal ook baie laer wees,” het Lategan met die bekendstelling van die kursus gesê.

Lategan sê die ergste werkloosheidskrisis in die moderne geskiedenis staar Suid-Afrika se jeug in die gesig, met ongeveer 3,5 miljoen jeugdiges wat nie werk nie en nie opvoeding of opleiding het nie.

Met die program word hulle ook aan ervare entrepreneurs blootgestel en kan hulle sien wat dit verg om ’n entrepreneur te wees.

“Hoe kan ’n mens so ’n groot uitdaging oplos en kinders help om ’n sterk grondslag te hê sodat hulle die beste begin van hul volwasse lewe sal hê wanneer hulle die skool verlaat?

“Slegs 45% van die jong volwassenes met matriek het ’n kans om werk te kry. Om sake te vererger, veroorsaak die stygende studiegeld, die beperkte ruimte aan hoëronderwysinstellings en die swak matriekuitslae dat die meeste aspirant­studente nie die geleentheid kry om hul vaardighede te bevorder nie.”

En volgens Lategan sukkel diegene met ’n sertifikaat, ’n diploma of ’n graad ook om werk te kry.

“Ek moes net iets doen en dit is hoekom ek besluit het om ’n bekostigbare en toeganklike aanlyn entrepreneurskap­program te begin wat spesiaal ontwerp is vir jong mense. Om entrepreneurs op te lei, is my passie en die beste oplossing om hierdie werkloosheidskrisis te verlig wat ons in die gesig staar,” sê hy.

Lategan beoog om binne vyf jaar 10 000 nuwe entrepreneurs te help. Dit sal met behulp van sy span sakekenners, wat werklike entrepreneurs as afrigters insluit, geskied.

Lategan sê die program fokus daarop om jong mense, oftewel skoolverlaters, met die nodige vaardighede op te lei om hul eie onderneming te begin en werk te skep.

“Baie van die vakke soos digitale bemarking, verkope, skakelwerk en so meer word deur spesialiste in die spesifieke veld aangebied. Nie net leer hulle sakevaardighede nie, maar lewensvaardighede.

“Met die program word hulle ook aan ervare entrepreneurs blootgestel en kan hulle sien wat dit verg om ’n entrepreneur te wees. Hulle kan dit sien as ’n gapingsjaar en kan daarna dan gaan studeer. Die vaardighede sal nie verlore gaan nie, want hulle sal steeds hul eie onderneming kan begin,” sê hy.

Lategan sê daar is geen kriteria om die program te doen nie, al wat jy benodig, is ’n selfoon of skootrekenaar en data.

“Die program fokus nie net op Suid-Afrika, maar mense oor die wêreld heen. Alles is aanlyn, so jy kan op enige plek wees en die program doen.”

Die program begin op 1 Februarie, sal oor agt maande aanlyn plaasvind met die laaste twee maande waar studente op hul sakeplan sal fokus.

Lategan meen matriekleerlinge hoef nie noodwendig onmiddellik ná skool universiteit toe te gaan nie, maar kan eers wag en kyk waarin hulle regtig belang stel.

“Ek sê nie dat hulle nie moet gaan studeer nie, maar talle leerlinge skop op omdat hulle nie van die studierigting hou nie. Ek self het opgeskop en ’n entrepreneur geword. Ek het nie ’n graad nie, maar kyk waar is ek vandag.

“Ons kan soveel mense oplei in sekere rigtings, maar is daar werk vir daardie mense? Met die program lei ons nie net nuwe entrepreneurs op nie, maar daar word ook werk geskep,” sê hy. Besoek www.schoolofen trepreneurship.co.zavir meer inligting oor die program en die koste daarvan.

Meer oor:  Werknemer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.