Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
20 oesjare: Veels geluk, liewe Tokara!

Die alombekende Stellenbosse wynlandgoed Tokara het verlede maand sy 20ste oesjaar gevier.

Tokara se wynmaker, Stuart Botha, saam met GT en Anne-Marie Ferreira en die plaas se wingerdboukundige, Aidan Morton. Foto: Verskaf

Die ontstaan van hierdie plaas dateer van 1994 toe GT en Anne-Marie Ferreira die grond teen die hange van die Simonsberg gekoop het om ’n tuiste vir hul jong gesin tussen die pragtige ou eikebome te vestig. Die aantrekkingskrag van die omgewing en die insig van gesiene bure het die droom wat eindelik Tokara sou word, laat wortel skiet.

Nou, 25 jaar later, is Tokara ’n gevestigde toeristebestemming met ’n wynhandelsnaam wat talle bekroonde wyne lewer. Daarbenewens beskik die landgoed ook sedertdien oor twee restaurante, ’n kunsgalery en beeldhoutuin, asook ekstrasuiwer olyfolie wat jaarliks pryse opraap.

“Ná 25 jaar geniet ek steeds die gelukslag om op so ’n mooi eiendom te bly en soveel pret te hê terwyl ons wyn, een van die mees genotvolle produkte ter wêreld, produseer,” sê Ferreira luidens ’n verklaring oor wat Tokara vir hul hele gesin beteken.

Volgens Karl Lambour, Tokara se besturende direkteur, word niks by Tokara egter aan toeval oorgelaat nie.

“Ons mantra was nog altyd een van geen kortpaaie en geen kompromie. Tokara streef van die heel begin af na ’n internasionale styl met ’n kenmerkende Suid-Afrikaanse identiteit. Uit die staanspoor was die doel om iets te skep wat as tydloos erken sal word.”

Daar is vandag nog nege toegewyde personeellede by Tokara wat van die begin af deel van die landgoed se storie is. Een van hulle is Aidan Morton, ’n gesoute wingerdboukundige, wat dieptekennis oor die plaas se unieke terroir en wingerde oor die jare versamel het.

“Vanaf die heel begin is wêreldklas die minimum standaard vir alles wat ons doen en dit sal in die toekoms aanhou om so te wees.”

Deur voort te bou op hierdie standvastige fondament kry nuwe spanlede weer die geleentheid om lewenslus en onbevreesdheid na vore te bring – wat ’n belowende toekoms vir Tokara inhou.

“Die toekoms in die kelder is opwindend. Met ons wingerde wat al hoe beter word, ’n styl wat reeds goed bepaal is en die gebruik – ná baie proeflopies – van die mees innoverende wynmaaktegnieke in die wynwêreld, streef ons na wynperfeksie met elke wyn wat ons maak,” aldus die wynmaker Stuart Botha.

  • Jou kontak: Besoek www.tokara.com. – Landbouredaksie
Meer oor:  Wyn  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.