Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Aanlyn handelskou ’n sukses

Wat ’n vreemde jaar was 2020 nie tot dusver gewees nie?

Dit was ’n jaar waarin ons almal te bang was om te nies en die woorde “My fellow South Africans” landsburgers kiertsregop laat sit het.

Dit was deurentyd ook baie moeilik om nie geskok te wees oor alles wat gereguleer en beheer word nie. Die jaar 2020 was ’n jaar wat die manne van die muise geskei het.

Dit het seders laat val en mense wat nie hond haaraf van nuwe tegnologie kan maak nie, kwantumtreë laat gee om by te bly.

Dit was ’n jaar wat veranderings vereis en uitdagings links en regs oor ons almal se paaie gegooi het. Charles Darwin se “Survival of the fittest”-teorie is beslis deur 2020 beklemtoon en die Graan SA-span moes na die virtuele wêreld emigreer.

Eerste vir Nampo: Die jaarlikse landbouhandelskou, Nampo-oesdag, is vanjaar vir die eerste keer aanlyn aangebied. Benewens ’n wye verskeidenheid uitstallers is ’n landboukanaal, AgriXtra, ook begin waarop paneelbesprekings en onderhoude regstreeks uitgesaai is. Foto: Verskaf

Die aanlyn wêreld het van groot vingers vereis om klein knoppies te druk en die spreekwoordelike katte wat min van saffraan geweet het, moes vinnig hul weg tussen Zoom, Skype, Teams, webinaars en ander aanlyn seminare vind.

Nampo gaan aanlyn Die heel eerste Nampo Virtueel is vanaf 9 tot 12 September gehou en het die veerkragtigheid van die landbousektor tentoongestel. Graan SA moes as die organiseerders van Nampo aanpas en die omstandighede wat deur die Covid-19-pandemie meegebring is, moes geakkommodeer word.

Nuwe tegnologieë is ondersoek en vanjaar aangewend.

Meer as 36 872 besoekers het vanjaar Nampo se virtuele platform besoek ten einde die beste en jongste innovasies van die meer as 93 uitstallers te ervaar en te besigtig.

Die nuwigheid het landbouers en ander belangstellende besoekers nie afgeskrik nie, en binne vier dae is 1,021 miljoen bladsye op die webwerf besigtig.

Daarbenewens is ’n landbou­kanaal, AgriXtra, op Nampo se aanlyn platform bekend gestel, waarop ’n reeks Agri in Motion-paneelbesprekings uitgesaai is.

’n Merkwaardige 8 239 kykers het oor die vier dae hierdie uitsendings op hul rekenaarskerms gekyk. AgriXtra was ’n gesamentlike platform deur Graan SA, Landbouweekblad en Brand Republic, en meer as 43 ateljee­onderhoude en paneelbesprekings oor aktuele sake, landbou-aangeleenthede en die jongste tegnologie is uitgesaai.

Die gaste vir hierdie besprekings het uit vooraanstaande kenners op hul onderskeie vakgebiede bestaan en van die onderwerpe het die graannavorsingprogram ingesluit, sowel as winsgewendheid en internasionale markte, die teel- en tegnologieheffing op saad, en bioveiligheid oor die landbouwaardeketting heen.

Daarbenewens is uitstallers se produkte en dienste ook bespreek. Die hoofverhoog was een van die hoogtepunte wat altesaam 12 668 kykers gelok het.

Daar was ook ander vermaak op die kanaal soos onder meer bekendstellings, optredes deur kunstenaars en kookdemonstrasies.

Agter die skerms by Nampo Virtueel vroeër die maand: (foto regs) Van links is Bennie Zaayman, Dirk Strydom, Wim Venter, Toit Wessels en Jannie de Villiers. Foto: Verskaf

Verkeer op die webbladDie Nampo-blad het vir die week as inligtingsentrum en toegangsportaal tot die uitstallings gedien, en meer as 30 000 unieke gebruikers is daarop ontvang. Daarbenewens was daar ook altesaam 514 000 gebeurtenisinteraksies oor die hele webportaal.

Die meerderheid besoekers by vanjaar se virtuele Nampo was Suid-Afrikaners, met ’n internasionale besoekersprofiel van 8%. Hulle was hoofsaaklik uit die VSA afkomstig, sowel as van ander buurlande in Suider-Afrika.

Kommunikasiegeleenthede met die Nampo-besoekers wat die verskeie uitstallers besigtig het, is ook ten volle benut en altesaam 206 geskeduleerde webuitsendings is gedurende die week aangebied. Dít het vereis dat besoekers aan die Nampo-blad hul bywoning versigtig moes beplan om niks mis te loop nie.

Laaste sê Nampo Virtueel was ’n spanpoging deur verskeie landbouvennote en meer as 697 uitstallingspersoneel. Almal was vasbeslote om van die gebeurtenis ’n groot sukses te maak en om dit binne ’n kort tyd te laat werk.

Dit was ’n eerste vir ons by Graan SA en ons het glad nie geweet wat om te verwag nie, aangesien ’n aanlyn handelskou van hierdie omvang nog nêrens anders ter wêreld aangebied is nie.

Die virtuele skou het egter alle verwagtinge oortref. Voortaan sal elemente van Nampo Virtueel ook as deel van die tradisionele oesdag op Bothaville in die Vrystaat aangebied word nie.

Die Nampo-oesdag kan egter nooit vervang word nie, maar die virtuele platform is ’n goeie aanvullende funksie met betrekking tot kommunikasie in die landboubedryf. Dit kan net Nampo-oesdag se bydrae aan die uitstaller en besoeker verder aanvul en verbeter.

Ruan Schutte

Daar het vanjaar ’n positiewe gevoel geheers tydens die eerste aanlyn Nampo – iets wat broodnodig was om gemoedere te lig tydens die andersins somber Covid-19-periode.

Graan SA wil elke besoeker en ondersteuner bedank vir hul bydrae om landbou in Suid-Afrika te ondersteun en te help groei. “Ons was gelukkig dat Graan SA se Nampo-oesdag-vennote en -uitstallers met groot entoesiasme daaraan deelgeneem het en uit hul pad gegaan het om die uitstallings aanloklik te maak,” het Danie Minnaar, die voorsitter van die Nampo-oesdag, na afloop luidens ’n verklaring gesê.

  • Die volgende Nampo-oesdag word vir 11 tot 14 Mei 2021 op Nampopark op Bothaville beplan, en ons sien uit daarna om nóg meer Suid-Afrikaners daar te verwelkom. Schutte is ’n junior ekonoom by Graan SA in die Paarl.
Meer oor:  Nampo  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.