Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Altyd hoop vir Wyn SA’
  Skets: HANLIE MALAN
Skets: Hanlie Malan

Die jaarlikse byeenkoms van die Suid-Afrikaanse wynbedryf op Vinpro se inligtingsdag het, soos die afgelope paar jaar, klem op wynpryse gelê.

Maar waar daar op die vorige twee jaar se inligtingsdae gehamer is op die noodsaaklikheid daarvan dat die pryse wat plaaslike produsente vir hul wyne vra, verhoog moet word, het die kitaar vanjaar ’n ander deuntjie geslaan.

Met 2019 se insinking van wynverkope internasionaal sowel as plaaslik, is daar deur Vinpro se sprekers erken dat die gretigheid om wynpryse op te stoot die hoofrede vir die daling van verkope was.

Die wynverkope-telkaart vir 2019 lyk wel droewig. Wynuitvoere het met 100 miljoen liter gedaal – 23% laer as 2018 se verkope in die buiteland. In dieselfde periode het plaaslike wynverkope met 20,8 miljoen liter tot 319 miljoen gedaal. Soos die vermaarde Springbok-rugbyspeler Boy Louw gesê het as jy enige vrae het of twyfel oor die situasie: “Looks at the scoreboard”.

Só staan sake

Dus het die Vinpro-sprekers op vanjaar se inligtingsdag geen ander keuse gehad nie as om te erken dat die bedryf se besluit om sy wynpryse op te stoot – tot met 35% in een jaar – ietwat ondeurdag was, om dit eufemisties te stel.

Die gevare verbonde aan die lukrake verhoging van pryse is egter in die verlede nie deur die bedryfsliggaam opgehaal nie. Maar liewer laat as nooit.

Dit is uiteraard noodsaaklik om ’n volhoubare ekonomiese omgewing vir wynprodusente te volhou.

Maar die harde werklikheid is dat die mark, of dit nou vir wyn, water, bier of sandale is, net soveel vir die produk sal betaal as wat die mark dink die produk werd is.

Dit is uiteraard noodsaaklik om ’n volhoubare ekonomiese omgewing vir wynprodusente te volhou.

Vinpro se voorsitter, Anton Smuts, het dit raak opgesom: “Ons (die Suid-Afrikaanse wynbedryf) moet aanpas om globaal mededingend en winsgewend te wees en ons moet aanhou leer hoe om in hierdie mededingende landskap in te pas,” het Smuts gesê. “Ons neem steeds te veel oningeligte besluite aangesien ons nie bewus is van positiewe tendense nie.”

Die negatiewe impak van die prysverhogings wat plaaslike produsente ingestel het, is nie net op die buitelandse mark gevoel nie. In 2019 is meer as 25 miljoen liter wyn ingevoer deur Suid-Afrikaanse handelsmerk-eienaars omdat dit vir hulle goedkoper was om Suid-Amerikaanse en Spaanse wyn in te bring as om die verhoogde pryse te betaal wat hul landgenote en medebedryfspelers ingestel het.

Dus het Rico Basson, Vinpro se uitvoerende hoof, op die inligtingsdag die behoefte uitgespreek van ’n Suid-Afrikaanse bedryf wat ’n groter klem op wynuitvoere lê – die einste mark wat verlede jaar so skerp gedaal het.

Volgens Basson kan die plaaslike bedryf ’n uitvoergerigte bedryf word as almal saamwerk.

“Ons moet egter prysverhogings balanseer deur die hele waardeketting wat ons bied,” het hy gesê. “Die prys kan nie net bly styg nie.”

Tog het Basson Vinpro uitgedaag om vanjaar se wynuitvoere met 100 miljoen liter te laat styg, tot op die vlak waar dit in 2018 was.

Harde feite

Ondanks Basson se klem op Wyn Suid-Afrika se groter internasionale ambisies, was Wines of South Africa (Wosa), die wynbedryf se generiese uitvoerliggaam, grootliks afwesig in hierdie gesprek.

’n Paar dae voor die inligtingsdag het Wosa in ’n mediavrystelling die daling in uitvoere toegeskryf aan voorraadvlakke weens die droogte, met geen melding van die effek wat die skielike prysverhogings op die insinking gehad het nie.

Hoewel Wosa praat van die “waarde” van plaaslike uitvoere wat effens gestyg het, is die harde feite koud en kil: Met 2019 se wynuitvoere wat met 100 miljoen gedaal het, beteken dit dat minstens R500 miljoen uit die plaaslike wynekonomie gehaal is. Tog het Wosa se hoof, Sio­bhan Thompson, op die Vinpro-inligtingsdag via ’n video-insetsel slegs gesê dat Wosa vir die volgende jaar “die momentum gaan behou”.

Met Vinpro se oorneem van die inisiatief betreffende die behoefte aan stewiger uitvoere, moet gevra word hoe lank Vinpro en Wosa gaan aanhou om as twee afsonderlike entiteite in die bedryf te funksioneer.

Daar ís hoop

Emile Joubert
Emile Joubert

Een van die inligtingsdag se hoogtepunte was Basson se erkenning dat dit dalk nodig is om na die kultivar-samestelling van Suid-Afrika se totale wingerdlandskap te kyk.

Hy het ’n punt. Met slegs 4% van die wêreld se wynproduksie moet mens wonder of daar werklik ’n rol is vir die duisende hektaar wat geplant is onder variëteite wat maar net vragskipvullers is – in die vorm van naamlose droë wit en rooi wat R5 en minder per liter verhaal.

Moet daar nie meer ruimte afgestaan word aan kultivars soos sauvignon blanc en chardonnay, wat veel hoër pryse in die buiteland realiseer en darem vir die kopers daar bekende variëteite is nie?

Maar vir eers is dit parstyd in die wynlande. Sappige druiwetrosse word van vroeg na die kelder gery. Die reuk van mos hang in die valleie en wynmakers beproef nou al die eerste witwyne van 2020.

En met die wete dat Suid-Afrika tans die beste wyne in sy geskiedenis maak, moet daar altyd hoop wees.

Hoe dan anders?

Tjorts! Emile Joubert

Meer oor:  Emile Joubert  |  Wyn  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.