Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Basta met droogte in die wingerd

As jy as wyndruifprodusent op lang termyn volhoubaar wil bly boer, moet jy by klimaatsverandering in jou eie produksiestreek aanpas, sê Conrad Schutte, die wynbedryfsliggaam Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens-bestuurder. Hy deel tien wenke oor hoe boere in droë toestande kan oorleef.

Foto: iStock

Hierdie wenke sal wyndruifprodusente in staat stel om sterk te staan gedurende die droë en warm toestande wat ons oor die afgelope drie seisoene in die wynbedryf beleef het:

1. Kies jou terrein reg

Een van die belangrikste besluite wat jy in die wingerd kan neem, is om die regte terreinkeuse vir die spesifieke kultivar te maak.

Produsente word aangeraai om eers ’n analise te doen om die geskikste terrein te identifiseer.

Só ’n analise sluit ’n ondersoek van faktore soos hoogte bo seespieël, aspek, helling, kurwe, sonligradiasie, daglengte-ure, oppervlak-hidrologie en die afstand na die naaste waterbronne in.

2. Hoe lyk jou grond?

Moenie wingerd op grond met lae potensiaal plant nie.

Produsente moet gebruik maak van grondkartering wat die ruimtelike geskiktheid, vog en chemiese eienskappe daarvan uiteensit.

3. Besproei strategies

Vermy lekkasies, maak seker dat besproeiingstelsels funksioneer teen die korrekte druk en maak die filters gereeld skoon.

Oor die algemeen is dit beter om groot besproeiings minder gereeld toe te pas teenoor die toepassing van minder water per besproeiing.

Besproeiing gedurende die aand kan ook verseker dat minder water verloor word weens verdamping voor infiltrasie.

Die monitering van grondwater en plantwaterstatus lei tot meer ingeligte besluitneming, veral wanneer waterbronne beperk is. Dis belangrik om gedurende uitbot, blom en deurslaan te besproei – dis wanneer die plant se watervlakke onder druk is.

4. Wortelverspreiding en grondvoorbereiding

Poog om die bufferkapasiteit van die wingerd te vergroot deur korrekte en diep grondvoorbereiding toe te pas. Dít sal tot diep en goed ontwikkelde wortelstelsels aanleiding gee.

5. Begroot, begroot!

Weet jy hoeveel water daar vir besproeiing beskikbaar is – veral gedurende die droë jare? Vind uit en beplan dan daarvolgens.

6. Fokus op deklaag

Deklaagmateriaal beperk die wegloop van water vanaf die oppervlak, sowel as waterverliese vanweë verdamping. Dit alles lei dan tot hoër grondwaterinhoud.

7. Bestuur jou dekgewasse en onkruid

Wyndruifprodusente plant dekgewasse om onkruid te onderdruk, maar julle moet steeds onthou om hierdie gewasse te beheer sodat dit nie later in die groeiseisoen met die wingerd om water en voedingstowwe meeding nie.

8. Wingerd en bemesting

Verhoed oorbemesting in die wingerd en dien slegs die nodige hoeveelheid stikstof, fosfaat en kalium toe. Dit behoort geilgroei in toom te hou.

9. Lowerbestuur

Suier onnodige lote en pas “tip-en-top” toe om groot lower te verhoed.

10. Opbrengsbeheer

Die opbrengs word deur snoei en die verwydering van trosse gedurende deurslaan beheer. Verseker dat die oeslading belyn is met hoeveel water daar beskikbaar is.

  • Jou kontak: Vir meer inligting oor wingerdbestuur en ander praktyke, kontak die Vinpro-konsultasiediens op 021 276 0432 of stuur e-pos na gaynor@vinpro.co.za.
Meer oor:  Droogte  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.