Wyndruifboere in die Klein Karoo het ’n nuwe stem in die vorm van Jandré Human op die direksie van die wynbedryfsliggaam Vinpro gekry.
Human is die bestuurder en wynmaker by Suid-Kaap Wingerde en is op Vinpro se virtuele algemene jaarvergadering vroeër die maand tot die direksie verkies.
Luidens ’n verklaring volg hy vir Niël Joubert van die plaas Warmwater op. Joubert was ná sewe jaar op die Vinpro-direksie op rotasiebasis herverkiesbaar, maar het homself nie weer herkiesbaar gestel as direkteur vir die streek nie.

Jandré Human Foto: Verskaf
Human is al sedert 2013 aan die stuur van sake by Suid-Kaap Wingerde, en was voor dit onder meer by die kelders Overhex, Brandvlei en Windmeul betrokke. Gedurende sy tyd by Overhex het hy as die Worcesterstreek se verteenwoordiger op Sawis, die inligtingsdiens van die wynbedryf, se tegniese komitee gedien.
“Jandré is ’n aanwins vir die Vinpro-direksie, met goeie perspektief oor die operasionele kant van wyndruifverbouing, produksie en die bemarking van die markklaarproduk. Ons sien daarna uit om saam met hom te werk om die Suid-Afrikaanse wynbedryf te help herbou,” sê die Vinpro-voorsitter Anton Smuts in die verklaring.
- Het jy geweet? Vinpro verteenwoordig nagenoeg 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante ondernemings. Die organisasie voorsien strategiese leiding, bied gespesialiseerde dienste en beywer hom vir die ontwikkeling van mense.