Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Diemersdal eerste uit die blokke

Slegs ’n maand nadat parstyd in die wynland begin het, het die wynlandgoed Diemersdal by Durbanville reeds die eerste sauvignon blanc van die 2021-oesjaar in die bottel en op die winkelrakke.

Die Diemersdal Sauvignon Blanc 2021 is vanaf verlede Vrydag in winkels beskikbaar. Volgens Thys Louw, die eienaar-wynmaker van Diemersdal, word die vroeë uitreiking deur die mark gedryf.

“Ons is in die bevoorregte posisie dat, ondanks die krisis wat die Covid-19-pandemie en die inperking vir wynverkope veroorsaak het, ons steeds kliënte het wat toustaan vir ons sauvignon blanc uit die nuwe oesjaar,” sê hy.

“Dit, tesame met die gehalte van vanjaar se druiwe wat bevorderlik was vir ’n vinnige gisting en kort afsaktyd in die tenk, het ons in staat gestel om die Kaap se eerste sauvignon blanc van die 2021-oesjaar bekend te stel.”

Volgens Jeandré Bruwer, Louw se regterhand in die kelder, sal die 2021-oesjaar onthou word as een van die koeler en matigste seisoene in die onlangse geskiedenis. “Ons het ’n uitstekende groeiseisoen gehad as gevolg van die koel, matige toestande in die lente en vroegsomer van 2020. Selfs in Januarie het die matige temperature voortgeduur, en daarom het vanjaar se pars eers twee weke later as gewoonlik begin.”

Diemersdal se 2021-oes word mooi egalig ryp. “Ek dink dit het baie daarmee te doen dat ons wingerdstokke droëlandplante sonder besproeiing is wat goed aangepas is by die wisselvallighede van die klimaat en nooit daarin faal om vir ons egalige druiwe en goeie rypwording te gee nie,” sê Bruwer. “Die nat winter van 2020 het boonop gesorg dat hierdie droëlandstokke genoeg voedingstowwe ontvang het en uitstekende reserwes kon opbou.”

Diemersdal se sauvignon blanc-druiwe is aan die einde van Januarie vanjaar gepluk. “As ’n sauvignon blanc-produsent plaas parstyd jou in ’n knyptang waar jy van albei kante gedruk word. Aan die een kant moet die druiwe gepluk, afgemaal en wyn gemaak word. Aan die ander kant is daar groot afwagting van ons kliënte vir die nuwe oesjaar sauvignon blanc, wat Suid-Afrika se gewildste wit druifsoort is,” sê Louw.

Meer oor:  Durbanville  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.