Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Diemersdal streek se 1ste bewaringskampioen

Die Kaapse wynlandgoed Diemersdal spog met die titel as die eerste plaas in die Durbanville-wynstreek wat as ’n Wêreldnatuurfonds (WWF)-bewaringskampioen aangewys is.

Altesaam 45 Kaapse wynplase het tans bewaringskampioen­status. Die program word deur die WWF bestuur en is uniek tot die Kaapse Wynland. Dit is daargestel om die plaaslike wynbedryf se verbintenis tot natuurbewaring te beklemtoon – sowel as die rol wat wynboere speel om die wynland se eiesoortige ekostelsels te beskerm.

Die bewaarde Renosterveldgebied op die wynlandgoed Diemersdal. Foto: VERSKAF

Volgens Thys Louw, Diemersdal se eienaar en wynmaker, staan die etos van bewaring diep gesetel in die ses generasies van die Louw-familie wat sedert 1885 op Diemersdal boer.

“Ek onthou as kind het my pa my geneem na die gebied wat nou amptelike bewaringstatus het. Daar is ek die plante en blomme gewys en geleer dat hierdie natuurskoon bewaar moet bly vir toekomstige geslagte. So ver terug as wat ek kan onthou, het ons nog altyd wingerde aangelê met sorg om die ekologiese balans te handhaaf.

“En aangesien ons nog nooit enige van ons wingerde besproei het nie, verseker ons verder dat wynboerdery en bewaring hand aan hand loop deur die plaas se algehele omgewing so onaangeroer te hou as moontlik,” sê hy luidens ’n verklaring.

Die 45 plaaslike bewaringskampioene besit sowat 45 000 ha grond in die Kaapse Wynland, waarvan 22 000 ha bewaar word as deel van die wêreldberoemde Kaapse Blommeryk. Dit bestaan uit fynbos en Karoo-vetplante.

Die lede werk nou saam met die WWF en word jaarliks geoudit. Volgens Louw is hierdie inisiatief van besondere belang in die huidige aard van die wynbedryf waar volhoubare produksie omtrent net so belangrik is soos die gehalte van jou wyn.

“Veral in die uitvoermarkte vir Suid-Afrikaanse wyn word sterk vrae gestel oor jou bewaringswerk in die omgewing waar jou wyn gemaak is, en oor hoe volhoubaar jou produksieketting is. In geen ander wynland in die wêreld word hierdie soort WWF-erkenning gegee vir sy boere se bewaringsrol nie, en hierdie ingesteldheid van Kaapse wynboere en die bewese maniere waarop ons die omgewing bewaar, kan ’n reuserol speel om Suid-Afrikaanse wyn meer aanloklik in die moderne wêreld te maak.”

Een van die faktore wat tot Diemersdal se aanwysing as WWF-bewaringskampioen gelei het, is die ongerepte gebied van 16,8 ha op die wynplaas wat talle uiters skaars plante huisves wat deel is van die unieke renosterveld-ekostelsel.

Meer oor:  Wyn  |  Wynbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.