Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Geld kan dít nie koop nie
Emile Joubert Foto: Facebook

Toe die afslaer sy houthamer kap en bekend maak dat die botteltjie wyn vir R420 000 verkoop is, het pandemonium onder die gehoor losgebars.

Hande is geklap, krete is gegil en tuit-monde het gefluit – so driftig ’n mens sou dink pres. Cyril Ramaphosa het iewers aangekondig hy stel nooit weer ’n verbod op wyn in nie.

Die geleentheid was die Cape Fine and Rare-wynveiling en die duur wyn, wel, dit kon net een wees: Constantia. ’n Skaars, antieke fles-wyn van sowat 375 ml met die naam Grand Constance wat in 1821 op Constantia gemaak is, is ter voorbereiding van die veiling opgespoor.

Vooraf is geskat die wyn sou tussen R70 000 en R90 000 behaal. Maar vyf keer meer? Nooit gesien kom nie.

Die eerste vraag wat ná so ’n prestasie gevra word, is of enige bottel wyn so baie geld werd kan wees – wat nog te sê van ’n half-bottel soos wat hierdie Constantia ene was?

Die bottel Grand Constance 1821 wat onlangs vir ’n rekordbedrag van R420 000 opgeveil is. Foto: VERSKAF

Dis seker maklik om te sê as jy nie die koper is nie, maar die antwoord is seker, ja. Dit is gewoon vraag-en-aanbod-logika, en sulke hemelhoë pryse vir wyn is deesdae nie ongehoord nie.

Pryse oor tyd

Reeds in 2010 is een bottel Château-Lafite 1869 van Bordeaux, Frankryk, vir net oor die R3,2 miljoen verkoop.

Selfs relatief jong Amerikaanse wyne haal stratosferiese pryse: soos die Screaming Eagle Cabernet Sauvignon 1992 van Napa, wat 20 jaar gelede al vir R7 miljoen opgeveil is.

Gits, selfs ’n bottel Romanée-Conti Pinot Noir van Boergondië gemaak in 2018, nou die dag, word tans vir R350 000 per bottel verhandel.

Dus kan die meer as R400 000 wat die 1821 Constantia-wyn behaal het, seker nie as vergesog gesien word nie. Dit is immers gemaak in dieselfde jaar waarin Napoleon op St. Helena dood is, en het die laaste slaap hom nie op 5 Mei oorval nie, is die kanse goed dat hierdie einste wyn op sy tafel sou beland het.

Dié antieke fles-wyn is op die Kaapse wynlandgoed Constantia gemaak.

Grand Constance was immers een van Napoleon se gunsteling-kelkies tydens daardie St. Helena-ballingskap. En baie is al gemaak daarvan dat dié wyn, afkomstig uit die sonnige Kaapse wingerde, in die 1700’s en 1800’s die voorkeur-wynkeuse van die Europese adel was.

Charles Dickens en Jane Austen het na die wyn in hul romans verwys. Toe hul hoofde nog geheg was, had koning Louis die 16de van Frankryk en sy vrou, Marie Antoinette, ’n besondere voorliefde vir Grand Constance, so ook die eerste Amerikaanse president, George Washington.

Wat maak dit gesog?

Wat egter vir my meer interessant is, is die redes agter die wyn se aanvanklike gesogtheid.

En hier het dit met niks anders te maak nie as die gehalte van die inhoud van daardie bottels, gehalte waaroor jaloers gewaak is deur niemand anders nie as die VOC wat van 1659 tot 1795 aan bewind was in die Kaap.

Die historikus en romansier Dan Sleigh, die voorste kenner van die VOC se tyd in Suid-Afrika, verwys in ’n artikel in die Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis (Julie 1985) na die enorme detail en sorg waarmee die VOC die wyne van Constantia benader het.

Vandag is die Nederlanders, wat ’n groot mark vir Suid-Afrikaanse wyn verteenwoordig, berug daarvoor dat hulle meer besorg is oor die winskopies wat hulle by wynkelders kan opraap as oor gehalte. Maar 300 jaar gelede was die Kaap se heersers uiters kieskeurig en waaksaam oor die gehalte van Kaapse wyn, ’n benadering wat ’n vername rol gespeel het om Constantia se reputasie op te bou.

In 1717 het die VOC-meesters in Nederland, aldus Sleigh, besluit om meer wyn uit die Kaap in te voer en sodoende minder afhanklik te wees van wat lande soos Frankryk en Spanje produseer.

Wyn mag sedert 1659 in die VOC se kolonie gemaak gewees het, maar dít wat in Nederland beland het ná afloop van tot vier maande se reis per skip, was nie juis as indrukwekkend beskou nie. Of soos Sleigh skryf, van “wisselende gehalte”.

Kaap se beste

Toe, in 1725 word besluit om Kaapse wyn te keur op ’n manier waarop enige land met ’n fyn en wetenskaplike wynkultuur trots sou wees. Sowat 1 000 leë glasbottels is Kaap toe gestuur om met verskillende wyne van oor die hele nuwe nasie heen se wynproduserende streke gevul te word.

Daar word nie melding gemaak van waar hierdie “monsters” gekom het nie, maar mens kan aanneem dat wynmakers vanuit onder meer Stellenbosch, Durbanville, Franschhoek en die Paarl tougestaan het om voorbeelde van hul voggies aan te bied.

Emile Joubert Foto: Facebook
Emile Joubert Foto: Facebook

Terug in Nederland is die monsters geproe en twee jaar later is goewerneur P.G. Noodt deur die VOC se Here XII laat weet dat ene Jan Colyn, eienaar van Constantia, gevra moet word om soveel wyn te stuur as wat hy kan: want dit was verreweg die beste wat die Kaap het.

Colyn se Constantia-wyn was vanuit die staanspoor so uitsonderlik dat hy en sy wingerde nie genoeg kon produseer vir die aanvraag vanuit Nederland nie.

Nou en dan het die amptenare vir die pret saam met Colyn se besending ’n paar vate wyn gestuur, gemaak uit die wingerde van die Rondebosch-omgewing wat soortgelyke grondtipes en klimaat­sones as Constantia het. Maar geen van hierdie kon naby die gehalte van Constantia kom nie.

Toe die Engelse in 1795 die bewind in die Kaap oorneem, het Constantia deel van die Britse kultuur-aanbieding geword – wat uiteraard gehelp het dat die groter aanvraag na die wyn en bekendheid daarvan die Engelssprekende wêreld bereik het.

Dus is hierdie wynveiling en sy R420 000-bottel Grand Constance van uitsonderlike belang vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Dit beaam die feit dat daar nie net ’n eeue oue bedryf hier in die Kaap is nie, maar dat hier drie eeue gelede gesogte wyn van gehalte gemaak is.

En dat die land ’n ryk wynkultuur en -geskiedenis het, staangemaak op die maak van goeie gehalte wyn afkomstig van wingerde wat staan in ’n eiesoortige deel van die wêreld-geografie.

Alles bevestiging dat Suid-Afrika sy regmatige plek onder die groot wyn-nasies verdien. En dis reputasie soos hierdie wat geen geld kan koop nie.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Wyn  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.