Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Graan SA hou virtueel kongres
Foto: PIXABAY

Maartmaand is al vir baie jare kongresmaand op Graan SA se kalender.

Vanjaar was geen uitsondering nie, maar weens die Covid-19-pandemie kon die ware jakob nie aangebied word nie.

Nampo-park by Bothaville was vanjaar nie vol kongresgangers nie – die praatjies langs die teetafels, saans langs die vuur of die bakkies op die 4x4-baan (daar waar die meeste probleme opgelos word) het nie vanjaar plaasgevind nie, en die weersien van bekendes oor al ons graangebiede heen is werklik gemis.

Ten spyte hiervan het die Graan SA-span met innoverende denke, vennote en baie slapelose nagte die kongres virtueel op 3 en 4 Maart aangebied. Die kworum van 188 opbetaalde lede wat moes registreer om besluite tydens die kongres bindend te maak, is maklik bereik.

Groepe van tussen 10 en 20 uit ons 33 streke het op verskeie dorpe bymekaargekom (waar daar goeie internetverbindings was) en die deelname van ons lede aangaande die onderwerpe was, volgens my, een van die hoogtepunte van die kongres.

Blik op sake

Die tema, “Die geloofwaardigheid van die graanmark”, is deeglik onder die vergrootglas geplaas.

Die hoofspreker, dr. Justin Choe van Amerika, het ’n oorsig oor die internasionale mieliemarkte met ons gedeel.

Ons eie prof. Johan Willemse het toe vir ons die geloofwaardigheid van die Suid-Afrikaanse markte, alle positiewe en negatiewe werkings daarvan, mooi uiteengesit. Hy was geensins bang om werklike probleme in ons markte uit te wys nie.

Wat egter werklik verblydend was, was die interaksie tussen die paneel en die lede via die internet. Dit was vir my net ’n bewys dat ons die “nuwe normaal” waarna daar daagliks verwys word, kan hanteer – al is van ons al grys en sukkel maar met al die knoppies op die rekenaar – én al is dit nie soos ons dit graag sal wil doen nie.

Binne die organisasie

Elke maand nadat die SA Graan-tydskrif gepubliseer is en uitgestuur is, is daar ’n paneel wat altyd vir die beste artikel van die maand stem.

Hierdie 12 wen-artikels word dan weer tydens die kongres teen mekaar opgeweeg en daar word ’n prys vir die Beste Artikel van die Jaar toegeken.

Spesiaal vir jou, James Jackson, en baie ander lesers van die tydskrif wat my gebel het nadat hulle November 2020 se brief van ons uitvoerende hoof, Jannie de Villiers, “Dis wie ons is”, gelees het: Ek kan julle meedeel dat dit toe die beste artikel van die jaar was.

Baie geluk, Jannie, hierdie brief het vir seker baie lesers van ons tydskrif se harte aangeraak. Lees dit weer by Sagrainmag.co.za.

Kontinuïteit is ook belangrik in enige organisasie. Daarom was dit verblydend dat die voorsitter en twee visevoorsitters eenparig herkies is vir nog ’n jaar. Die dagbestuur is ook onveranderd gehou. Baie geluk en sterkte aan Derek Matthews en jou leierspan vir die jaar wat voorlê.

Op Graan SA se jaarkongres, wat vanjaar aanlyn aangebied is, is van links Ramodisa Monaisa, visevoorsitter, Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, Derek Matthews, voorsitter van die organisasie, Nico Vermaak, die korporatiewe bestuurder, en Richard Krige, visevoorsitter. Foto: verskaf

Gars in die Kaap

Nader aan ons eie Kaapse werksaamhede, het ons die afgelope tyd omtrent ses vergaderings gehad rakende die garsbedryf in die gebied.

Die Swartland se garsaanplantings (waarvan die mandaat slegs 58% van verlede jaar s’n is) hang aan ’n baie dun draadjie weens die bierreus Anheuser-Busch InBev (AB InBev) en Afgri se verskille rakende opberging en ander risiko’s.

Harde werk word agter die skerms ingesit deur Graan SA om wel te kyk of ons nie tog gars kan laat aanplant in die Swartland nie – dit was tog immers winsgewend in 2020.

Die tyd hiervoor is egter baie min, aangesien ons produsente moet beplan wat hulle wil plant.

In die Suid-Kaap en Overberg het ons weer vyf dorpe besoek en baie ure en tyd ingesit om die nuwe kontraktering-meganisme wat vir die 2020-oesjaar gegeld het, te bespreek.

Almal is egter nie gemaklik met die nuwe manier van kontraktering nie en ja, Leon Groenewald, ek dink jy het op Swellendam die spyker op die kop geslaan met jou stelling: “Niemand anders, maar ons as garsprodusente, sal die oplossings moet kry en saamwerk.”

Leon, wat ook al jare lank die voorsitter van die garsspesialis-werkgroep was, het ’n sterk pleidooi gelewer vir ons lede se deelname aan die onderwerp. Sy versoek aan die lede teenwoordig was: “Maak die garsspesialis-werkgroep se hande sterk om die regte besluit te neem.”

Hierdie werkgroep word deur die verskeie boereverenigings in die hele garsgebied gekies, en as garsboere enigsins twyfel oor wie hulle in hul onderskeie gebiede verteenwoordig, bel my of Ruan Schutte gerus en ons sal jou help met die nodige inligting.

Die voorsitter van ons werkgroep, Jose de Kock, het regtig uit sy pad gegaan om op hierdie vergaderings al die voor- en nadele van die ou en nuwe stelsels vir ons produsente uiteen te sit.

Hy het ’n beroep op die garsprodusente gedoen: Stuur oplossings en gee insette wat vir die garsbedryf tot voordeel kan wees.

Deur hierdie proses van deelname te volg, glo ek sal ons almal daarby baat vind.

Om te boer bly ’n risiko. Om dan met gars te boer, bly ’n groter risiko! Daarom moet alles in die stryd gegooi word om die kontraktering hiervan mooi in plek te kry.

Laaste sê

Ek glo jy het al iewers gehoor van die donkie wat in ’n ou, diep put geval het, en hoe die boer tevergeefs probeer het om hom uit te haal.

Hy kon ook seker nie mooi sien hoe hierdie donkie beseer is nie. Omdat die donkie al aan die ouerige kant was, het hy besluit om dit maar liewer met grond toe te gooi.

En só het hy en sy werkers werk daarvan begin maak . . .

Moeg van die gespit het hy teen skemer gesien wat hy nie kon glo nie: Hy het gesien hoe die donkie die grond van hom begin skud het, en só sy eie vloer van grond onder hom begin vastrap het.

Kort daarna kon hulle die donkie uittrek. En daar staan die donkie en skud die laaste bietjie grond en stof van sy rug af.

So, wat is die les hier? Ek glo nie dit is ’n les nie, maar eerder ’n getuienis: Maak nie saak hoeveel op jou gegooi word nie, skud dit af!

  • Wessels is ’n bestuurslid van die produsente-organisasie vir graanboere, Graan SA.
Meer oor:  Boere  |  Graan Sa  |  Landbou  |  Graan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.