Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Grond lê naby aan my hart’

Die tweede deel van die uittreksel uit die boek For the Love of the Land, wat oor die saaiboer Alfreda Mars van Moorreesburg handel. Kobus Louwrens en Ivor Price het die boek saamgestel en geskryf.

Alfreda Mars boer vrou-alleen op die plaas Middelpos naby Moorreesburg met behulp van ’n kernspan werkers, onder wie Jan Meyer (regs). Foto: Verskaf

Ek het ’n vennoot gehad – of ’n life partner eintlik – ons was nooit getroud gewees nie. Evan was een van my partners by La Gratitude en hy het baie in die landbou belang gestel. En toe op ’n dag sê hy vir my die staat het nuwe projekte – ons moet ons name opsit. Ons het aansoek gedoen vir ’n plaas, maar dit het deur die mat geval.

In 2011 hoor ons hierdie plaas in Moorreesburg is in die mark, en ons sit ons naam op. Ons het gegaan vir vele onderhoude. Jy moet soort van ’n sakeplan indien, en dan moet jy kan bewys waar jy voorheen geboer het. Die staat soek mense met ervaring sover hulle kan, maar ek dink hulle wil meestal maar net getalle op die grond sit.

In 2013 hoor ons toe ons het die plaas, Middelpos hier by Moorreesburg. Die staat se geld het nie dadelik deurgekom nie, maar ons het besluit om nie daarvoor te wag nie. Ek het trekkers gehad en Evan het trekkers gehad. Ons het niks geweet van saaiboerdery nie, want ons is groente- en veemense, maar toe begin ons maar boer.

Die staat se fondse het eers twee jaar later deurgekom. Hulle het aanvanklik vir ons ’n vyfjaar-huurooreenkoms gegee en toe skop ’n verdere 30 jaar in.

Ongelukkig het my partner toe verlede jaar afgesterwe. Nier­versaking. En nou is ek alleen op daai plaas.

Hulle het aanvanklik vir ons ’n vyfjaar-huurooreenkoms gegee en toe skop ’n verdere 30 jaar in.

Die manne groet nie

Vandag kry ek baie ondersteuning van die kommersiële boere hier rondom my. Hulle help baie met implemente en inset-goedjies.

Maar aan die begin het dit regtig gevoel die mense wil ons nie hier hê nie, hier gaan ons nie pale haal nie. Die manne groet nie, hulle ry vir jou dat die stof so staan. Jy kannie eens sien deur jou windscreen so ry hulle vir jou nie. Dit was een van die moeilikste goed om mee vrede te maak.

Hulle was almal bekommerd oor wie kom sit die staat nou daar neer. Middelpos was van die eerste plase in die area wat deur die staat gekoop is. My buurman, Loffie, het sommer reguit gesê die staat is net met gemors besig, en hulle kom sit gemors ook nog neer hierso, en sulke klas van goed. Dit was terrible gewees.

Reg aan die begin toe is ek en Evan eendag op die plaas saam met twee ouens van Grondsake. En daar kom Loffie aan en hy dink ek en Evan werk vir Grondsake en die twee swart ouens is die begunstigdes. Hy het omtrent gal gebraak!

Nou, so twee, drie jaar terug, staan en praat hy daar by ons op die plaas en hy sê: “Weet jy, ek kon mos in die grootste moeilikheid gewees het, julle kan vir my gaan aankla het.” Toe sê ek: “Ja . . .”

Maar kyk watter goeie buurmense is ons nou.

‘Dis wie ek is’

Een ou aan die oorkant van die pad het een oggend daar verby­gekom – toe is ons nou besig om koring te plant daar, die heel eerste jaar. En die ou kyk die besigheid so, en hy stop en hy sê: “Julle kan maar oppak (sorry vir die woord nou), hier sal f*kk*l van daai koring kom nie.”

Ek het net vir Frans so gekyk en ek het hom nie eens ’n antwoord gegee nie. En toe draai hy sy ruit op en hy ry aan.

Vandag is Frans my adviseur en ons braai eintlik saam. Ons braai saam, kuier saam, kyk rugby saam.

Maar hy was reg oor daardie koring! Toe ons oes, daardie eerste oes, toe is dit nou nie wat ’n mens sou verwag nie. Bietjie laat geplant, als was nie in plek nie, die spuitprogram was nie reg nie, so die opbrengs was nie baie goed nie.

Toe, die volgende jaar, toe besluit ek ek gaan ry na Frans toe. Evan wil toe nog van niks weet nie. Hy sê: “Daai boer kan in sy dinges vlieg.” Maar ek sê: “Nee man, vandag ry ek na hom toe.”

Toe gaan ek en toe stel ek my voor. Ek sê: “Frans, dis wie ek is, ek kom uit Saron uit. Jy laai jou werksmense daar op, dis waar ek bly. Kom kyk waar ek bly, vind bietjie uit by daai Saronners waarvan ek aankom. Kan ons nie maar oor die weg kom nie?”

Weet jy, ek het nie eens in die laaste verkiesing gaan stem nie, en dit klink vir my daar is baie van onse boere wat nie gestem het nie.

Elke mens het ’n storie

Best buddies aan die einde van die dag.

En toe kom dit uit dat Frans sy plaas verloor het in Riversdal. En dis waar daai haat en daai nyd en daai alles vandaan kom, want hy het alles verloor daai kant en toe moet hy hierdie kant toe kom – en nou sukkel hy om als op te bou. So, elke mens het ’n storie.

Almal praat nou van die sukses van Middelpos, want die vorige eienaar het nie geboer nie. Hy was ’n gifsmous en sy vrou was ’n verpleegster. Hulle is vreeslik opgemaak met hoe Middelpos gegroei het. Maar dit het tyd gevat om tot daar te kom, dit het tyd gevat om daai verhoudings op te bou.

Vandag het ek nie meer tyd vir die politiek nie. Ek is verkies tot Graan SA se bestuur en hulle wou my ondervoorsitter maak, maar ek het nie tyd nie. Ek help nog graag waar ek hoor van nuwe boere wat in die moeilikheid is – ons het so ’n WhatsApp-groep. By ons is daar mos altyd ’n bietjie politiek betrokke by hierdie goed.

As jy wil positief op die grond wees en daar wil bly, dan sal jy ook maar rêrig verby die politiek moet kyk. Jy gaan nêrens kom as jy in die grond vaskyk nie, dit het ek ook nou al mettertyd geleer. Ek het geleer dis beter om ’n besigheidsmens op die grond te wees as om te fokus op hierdie dinge.

Weet jy, ek het nie eens in die laaste verkiesing gaan stem nie, en dit klink vir my daar is baie van onse boere wat nie gestem het nie.

Ek dink dís waar dit begin het met my: In ’n stadium toe was die grondonteiening sommer op al die plase van toepassing. In 2017 is ons ingeroep deur Grondsake, en toe sê hulle: “Julle moet net onthou, die plase gaan terug­geneem word, daar’s nie ’n ander manier nie, ons moet swart mense op die plase sit.”

Hulle sê toe daar is te veel bruin mense in die Wes-Kaap. Ons het baklei, ons het dokumente ingestuur vir hulle sodat hulle kan sien die demografie van die Wes-Kaap is bruin, so hoe anders moet dit dan nou gedoen word?

En dan bou die ding maar op. Waar pas jy nou rêrig in? Ons het so baie moeite met die plase gedoen – wat word aan die einde van die dag dan van jou?

Ek meen, jy boer nie oordat dit lekker is op die grond daar nie. Jy boer want dis ’n besigheid wat jy bestuur. Dis nie net om grond te hê nie, want almal kan grond hê, ons kan vir almal grond gee. Dit gaan oor hoe jy dit bestuur.

Die saaiboer Alfreda Mars is nie bang om moue op te rol en self in te spring op haar sowat 160 ha koringlande nie.

‘Ek kan nie wag vir staat nie’

Dit is hoe ek voel oor die politiek. Daar is nie ’n plekkie vir ons onder die son nie. Niemand gaan dit vir ons gee nie.

Ek het opgehou wag en staatmaak op die staat vir insette. Omdat ons aan die begin ons eie geld en goed gebruik het, het ek ’n voorsprong. Ek kon verlede jaar my eie koring plant en hierdie jaar kon ek my eie koring plant. Ek het net daai besluit geneem.

Ek sou dit nie kon gedoen het sonder my wit buurmense nie! Hulle het vir my gesê moenie wag nie.

As ons saans nuus kyk, dan sien ons. Daai geld droog op, ons moenie wag daarop nie. “Praat liewer met ons hier in die rondte, dat ons vir jou help op jou voete bly,” het my buurmense gesê.

En dis wat ek gedoen het. Dis nou my tweede jaar. Ek kan nie wag vir die staat nie. Ek het myself gespeen, as ek nou so mag sê.

Ek is in die proses om ’n plaas te koop omdat ek nie meer vir die staat wil wag nie. Ek is so grondhonger dat ek grond van my eie móét besit.

Ek kan nie groei met Middelpos nie. En die staat wil net meer mense op die grond sit, hulle wil nie besighede uitbrei nie. Dis ’n huurplaas daai, so ek voel ek wil my eie grond hê.

Die grond lê baie naby aan my hart, want ek behoort aan die Khoisan-beweging ook. Ons ba­klei die hel uit vir grond. Ons is daarmee gebore en ons het grootgeword daarmee.

Ek ken niks anders as my voete op die grond nie. Dit lê binne-in my hart in. Daar is niks wat die kamers skei daar nie. Ek voel as ek aftree moet ek my eie grond hê, dan’s die hongerte verby.

  • For the Love of the Land, saamgestel en geskryf deur Kobus Louw­rens en Ivor Price­, het pas by Tafelberg verskyn.
Meer oor:  Kobus Louwrens  |  Ivor Price  |  Landbou  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.