Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Isak Muller, baassnoeier

’n Landbouwerker van Koekenaap is vanjaar as die algehele wenner in Felco en Agrimark se jaarlikse wingerdsnoeikompetisie aangewys, en het tot vir homself ’n besoek aan Switserland los gesnoei om sy vaardighede daar te gaan ten toon stel.

Isak Muller (59), van die plaas Navada by Koekenaap, is vanjaar as die algehele wenner in Felco en Agrimark se wingerdsnoeikompetisie aangewys.Foto’s: SAMANTHA VAN DEN BERG

Isak Muller (59) is van die plaas Navada en lê al vir nagenoeg 25 jaar die snoeiskêr in – waardevolle wingerdervaring wat hom aan die einde van Augustus die wentitel in die snoeikompetisie vir landbouwerkers verseker het.

Anastacia Seqoona (tweede plek), van die plaas Oranjefontein by Darling, en Jacobus Muller (derde plek), van Elsenburg is as die naaswenners aangewys.

Altesaam 60 landbouwerkers- en studente het mekaar vanjaar die stryd in die snoeikompetisie in die wingerd by die Elsenburg-landboukollege by Stellenbosch aangesê.

Daar is vroeër vanjaar altesaam 19 uitdunne in al Agrimark se streke oor die Wes-Kaap heen gehou, waarna die drie beste snoeiers van elke streeksuitdun na die finale ronde deurgedring het.

Ongeveer 450 snoeiers het vanjaar die snoeiskêre in die streeksuitdunne laat klap.

Benewens die landbouwerkers het finalejaarstudente van onderskeidelik die Universiteit Stellenbosch (US), Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) en die Elsenburg-landboukollege aan die intervarsity-kompetisie deelgeneem.

Carel van der Merwe van die Elsenburg-landboukollege het ook sy slag met die snoeiskêr in die wingerd gewys en die eerste plek in die intervarsity-kompetisie opgeraap. Chata Mundell (US) en Hein Smit (KSUT) se snoeivernuf het aan hulle onderskeidelik ’n tweede en derde plek in die kompetisie besorg.

Daarbenewens het leerlinge van die Hoër Landbouskool Boland ook deelgeneem en Schalk van Schalkwyk (16) was in daardie afdeling die wenner. Joshua Hanekom (15) was die naaswenner.

Muller sal as die algehele wenner van vanjaar se kompetisie in Maart volgende jaar na Switserland reis om aan ’n internasionale snoeikompetisie daar deel te neem.

Felco borg al die koste van sy oorsese besoek. Dié kompetisie vier Felco se 75ste bestaansjaar.

Muller het sy snoeivaardig­hede by sy pa, Attie, geleer en in 2008 permanent op die plaas Navada begin werk.

Volgens hom het hy sy skoling oor korrekte snoeipraktyk merendeels by Gideon Engelbrecht, wingerboukundige van Lutzville Vineyards, ontvang.

Muller is tans verantwoordelik vir al die snoeiers op die plaas asook die opleiding van nuwelinge wat die eerste keer op Navada kom snoei. Hy is verder ook verantwoordelik om toesig te hou oor die korrekte oplei van die jong stokkies.

Siena September, een van die finaliste wat die plaas Groenhof naby Stellenbosch in die finale ronde van die kompetisie verteenwoordig het, het vertel dat sy as jong meisie geleer wingerd snoei het. “Dit is hoofsaaklik ons vroue op die plaas wat die snoeiwerk in die wingerd doen. Ons is mos sterk!” het sy daaroor geskerts.

Jaco Engelbrecht, ’n onafhanklike wingerdboukundige van Visual Viticulture, was weer die beoordelaar van die kompetisie en het ná afloop van die beoordeling gesê die snoeistandaarde was vanjaar baie hoog.

Die Felco-wingerdsnoeikom­petisie is nou in sy sesde jaar.

Die deelnemers is merendeels op korrekte snoeitegniek beoordeel, en nie op hoe vinnig hulle gesnoei het nie. Hulle het 45 minute gekry om hul snoeiwerk te doen.

Van die aspekte waarna daar met die beoordeling gekyk is, sluit onder meer in: die spasiëring van draers, die getal oë per draer, hoogte van die snit bokant die ogie, die onderskeid tussen dik en dun lote, toelating vir vernuwing en die toemaak van gapings.

Volgens kenners vorm snoei die basis van suksesvolle wingerdbou op ’n plaas. Felco hou dus hierdie kompetisie elke jaar om die belangrike vaardighede wat snoeiwerk vereis, ten toon te stel.

Deelnemers is op die volgende punte geëvalueer:

  • Korrekte draerspasiëring.
  • Tweeoog-draers moes gesnoei word.
  • Loot mag nooit te na aan die oog afgeknip word om terugsterwing toe te laat nie.
  • Wanneer ou hout (twee jaar en ouer) weggeknip word, moet die deelnemer seker maak dat daar ’n stukkie vir terugsterwing oorbly.
  • Deurlopende vernuwing moet verseker word waar nodig deur ­van eenoog-tappies gebruik te maak.
  • Dun lote (dunner as potlooddikte) moet altyd tot een oog teruggeknip word.
  • Groot wonde moet vermy word.
  • Die toestand van snoeiskêre en lemme moet goed wees.

Het jy geweet?

’n Wingerdsnoeier doen gemiddeld tussen 8 000 en 15 000 knippe per dag.

Meer oor:  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.