Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Tjorts
Juweel in SA-wynkroon

Daar moes 50 jaar gelede iets in die Stellenbosse wynlande se water gewees het.

Soos onlangs in hierdie blaaie vermeld, is die Stellenbosch-wynroetes in 1971 gevestig.

Maar dan is daar ’n ander belangrike mylpaal in die plaaslike wynbedryf wat ook vanjaar die halfeeu-kerf vier, naamlik die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste bottelgegiste vonkelwyn wat presies vyf dekades gelede deur die wynlandgoed Simonsig, digby Stellenbosch, bekend gestel is.

Dus, nóg ’n rede om vanjaar ’n paar proppe te skiet, redes wat volrond getrek sal word met die werklikheid van ’n korona-inenting of twee.

Toeka tot nou

Toe Frans Malan, avontuurlustige patriarg van Simonsig, in 1969 daaraan begin dink het om ’n wyn te maak op die tradisionele sjampanje-metode, was daar reeds bekende vonkelwyne op die plaaslike mark.

Stellenbosch Boerewynmakery se Grand Mousseux en dié van Monis was onder die bekendstes, en baie gewild onder die Suid-Afrikaanse publiek wat nog altyd ’n vonkelende wynlus getoon het. Maar waar hierdie wyne met koolsuurgas aan die borrel gebring is, het Malan dit ten doel gestel om die metode van die ware Jakob – sjampanje – te volg.

Wyle Frans Malan van Simonsig, die vader van Cap Classique. Foto: VERSKAF

Met ander woorde, maak ’n basiswyn, sorg dat hierdie “eerste” wyn weer aan die gis kom in die bottel om daardie bekoorlike borrels (50 miljoen in een bottel) te skep, en los als net daar op die moer om geur en kompleksiteit te gee wat geen gaspomp op aarde kan bied nie.

Dus het Malan ’n porsie van Simonsig se 1971-oesjaar afgeknyp om hierdie styl vonkelwyn te maak – nogal vanuit chenin blanc-druiwe – en in 1973 is Kaapse Vonkel bekendgestel, die eerste wyn van sy soort in die land.

Dit is die wynsoort wat deesdae as Cap Classique bekend staan en een van die land se uitskiet-wynkategorieë is betreffende gehalte en gewildheid in die mark.

Eerste jare

Malan sr. se seun Johan, tans die wynmaker op Simonsig, onthou daardie eerste jare van Kaapse Vonkel. “Dit was maar die klassieke trial and error,” sê hy. “Daar was geen maatstawwe in Suid-Afrika waarteen die proses van tradisionele vonkelwynmaak vergelyk kon word nie. Om nie eers van die gebrek aan regte masjinerie te praat nie – die spesiale rakke waarin die bottels moes lê aan die einde van die gisproses, die vriesbad wat die gismoer moes vasmaak voordat degorging plaasvind, kurkmasjinerie . . . alles moes van meet af aan geskep wees. Dit was soms meer skrynwerk as wynmaak!”

Dit was egter geen eksperiment hierdie nie. Die eerste Simonsig Kaapse Vonkel het vanuit die staanspoor ’n premieprys gehandhaaf – die 1971-oesjaar is in 1973 op die mark gesit vir die rojale bedrag van R3 per bottel.

Daar was geen maatstawwe in Suid-Afrika waarteen die proses van tradisionele vonkelwynmaak vergelyk kon word nie.

Dat Malan met hierdie vonkelwyn ’n wilde perd opgesaal het, kan onderskryf word daardeur dat geen ander wynkelder aanvanklik kans gesien het vir hierdie komplekse proses nie.

Eers tien jaar ná Simonsig met die Cap Classique-styl begin het, is die volgende van hierdie soort bekend gestel toe die wynlandgoed Boschendal naby Franschhoek die prop van sy eerste Boschendal Brut in 1981 laat skiet het.

Dit het plaasgevind onder die wakende oog van Achim von Arnim, een van Suid-Afrika se lewende wynlegendes, wat meen hy moes op Boschendal Cap Classique-wyn maak, “want tesame met sjampanje is Cap Classique een van die beste maniere om die lewe mee te vier”.

Boschendal moes, wat druifsoorte vir Cap Classique betref, raap en skraap en enigiets gebruik wat hy kon. Die tradisionele sjampanje-kultivars van pinot noir, chardonnay en pinot meunier was nog nie in die Kaap gevestig nie.

Eers in die laat 1980’s, toe veral chardonnay en pinot noir vrylik beskikbaar begin raak het, het Cap Classique begin vlamvat. Villiera naby Stellenbosch en die Krones van Tulbagh het die golf van hierdie wynstyl begin ry, en so ook die destydse Distillers Korporasie met sy handelsmerk J.C. le Roux.

Vordering gemaak

Die vestiging van die Graham Beck-kelder naby Robertson in 1990 was ’n vername mylpaal wat met die fokus op Cap Classique, superwyne en toegewyde handelsmerk-bemarking ’n nuwe era vir hierdie wynstyl ingelei het.

Vandag is daar oor die 150 wynkelders in die land wat Cap Classique produseer, en meer as 3 miljoen bottels word jaarliks in Suid-Afrika alleen verkoop – wat dit een van die sterkste segmente in die land se premie-wynmark maak.

Die kategorie word gereguleer deur die wakende oog van die Cap Classique-vereniging, onder leiding van Graham Beck se vonkel-prins, Pieter Ferreira.

Hier word gesorg dat elke bottel wat met die Cap Classique-etiket pronk, voldoen aan maatstawwe wat daarop gemik is om absolute gehalte te onderskryf.

Druiwe moet heeltros-gepers word om die suiwerheid van die basiswyn te waarborg. Die gistende wyn moet ten minste 12 maande op sy moer lê om die voldoende kompleksiteit aan te skaf, wat die naam Cap Classique waardig is.

Tesame met hierdie kontrole en Cap Classique-wynmakers se verbintenis tot hierdie magiese wynstyl, is die kategorie ’n blink juweel in die Suid-Afrikaanse wynkroon. Die volgende 50 jaar gaan nou werklik iets wees om te ervaar, en ek skiet heeljaar ’n prop op die toekoms en ter verering vir dít wat was.

Meer oor:  Stellenbosch  |  Juweel  |  Rubriek  |  Wynkroon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.