Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kennis van waardeketting in boerdery kan deure oopmaak

Naspeurbaarheid is ’n woord wat deesdae toenemend in landboukringe gehoor word en daar word al hoe meer druk op landbouers geplaas om ’n deursigtige benadering tot hul boerdery te hê.

Hoewel almal nie ewe beïndruk hiermee is nie, glo Diederik Vermeulen, ’n skaapboer van die plaas Vrede by Philipstown in die Noord-Kaap, dat dit boere sal help om die gehalte van hul produkte te verbeter.

Die Noord-Kaapse merinoboer Diederik Vermeulen (regs) het vroeër vanjaar op BKB se eeufeesvieringe in Port Elizabeth vir die eerste keer ’n ontwerperspak wat uit wol van sy eie skape gemaak is, gedra. Hier is Wolf Edmayr, besturende direkteur van BKB en president van die IWTO, Dalena White, sekretaris-generaal van die IWTO, en Vermeulen op die geleentheid.Foto’s: Verskaf

Vermeulen het die afgelope twee jaar aan ’n naspeurbaarheidsprojek saam met die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) deelgeneem en het vroeër vanjaar tydens BKB se eeufeesvieringe in Port Elizabeth vir die eerste keer ’n ontwerperspak wat uit wol van sy eie skape gemaak is, aangehad.

Hierdie projek is ’n eerste vir Suid-Afrika en slegs die tweede in die wêreld onder die wakende oog van Peter Ackroyd, voormalige president van die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO). Die eerste is in samewerking met ’n Australiese boer gedoen.

Die doel van die projek was om die reis van wol aan afgevaardigdes van die IWTO se jaarlikse kongres wat vroeër vanjaar in Venesië, Italië, gehou is te demonstreer.

Ackroyd het op BKB se eeufeesvieringe in Mei in Bloemfontein gesê hy is van mening dat premiumhandelsmerke hul toewyding tot die omgewing wil beklemtoon en daarom is dit van die uiterste belang dat boere so deursigtig moontlik boer.

“Jy kan nie ’n massiewe bedrag vir ’n trui, ’n pak klere of ’n baadjie vra en nie weet wat jy gebruik het om dit te vervaardig nie. Ek glo dít is ’n geleentheid vir wol om sy hele verhaal, van die plaas tot by gewilde mode-items op loopplanke, te vertel.”

Hier ontvang Aldo Agnello, besturende direkteur van House of Monatic, die materiaal van Vermeulen en Peter Ackroyd, voormalige president van die IWTO.

Die reis van wol

Nadat Vermeulen die eerste keer in 2014 ’n IWTO-kongres bygewoon het, het ’n nuwe wêreld vir hom oopgegaan. Hier het hy kennis gemaak met Marzotto, ’n Italiaanse maatskappy en een van die grootste tekstielvervaardigers in Europa.

’n Jaar of wat daarna het die IWTO ’n gesprek by BKB in Port Elizabeth gehou en in daardie stadium was daar van Vermeulen se wol op ’n veiling by BKB. Hier het Marzotto deur middel van die wolkoper Lempriere toe vier bale van Vermeulen se wol aangekoop. Vandaar het hy ’n verhouding met Marzotto opgebou.

Kort daarna is daar op die naspeurbaarheidsprojek besluit met die samewerking van Ackroyd en Peter Carey, handelsbestuurder van Lempriere.

Die gespinde wol soos dit uit Egipte ontvang is.

Die projek sou die hele proses volg van die skaap wat geskeer word, die verwerking van die wol, die vervoer na BKB, die koop en die uitvoer van die wol, die spin en dan uiteindelik die vervaardiging van die materiaal.

Lempriere het vir die projek Vermeulen se hele hooflyn-skeersel vir Marzotto aangekoop. Die spinwerk is in Egipte gedoen en die materiaal is in Venesië vervaardig.

Die materiaal is amptelik vroeër vanjaar op die jaarlikse kongres in Venesië uitgestal. Vermeulen het self ook 4 meter van die 21.5 mikron-materiaal ontvang om vir hom ’n pak te laat maak.

Terug in Suid-Afrika het Wolf Edmayr, direkteur van BKB en deesdae ook voorsitter van die IWTO, gereël dat die Suid-Afrikaanse klerevervaardiger House of Manatic in die Kaap ’n pak vir Vermeulen maak.

House of Monatic het ook pres Cyril Ramaphosa se pak vir sy eerste staatsrede gemaak waarin hy Suid-Afrikaners aangemoedig het om plaaslike vervaardigers te ondersteun.

’n Prag wolvag van die merinoplaas Vrede in die Philipstown-distrik.

Vermeulen se raad aan ander

Vermeulen moedig veral jong boere aan om hul horisonne te verbreed en meer van die waardeketting te leer.

“Op internasionale kongresse soos dié van die IWTO kry jy die geleentheid om eersterangs die rolspelers in jou waardeketting te ontmoet en die geleentheid om uit te vind wat die mark verlang,” sê hy.

Hy voeg by dat verbruikers ál meer omgewingsvriendelik raak en hulle wil weet dat die skaap waarvan die wol kom, nie mishandel is nie.

“My droom is om uiteindelik hierdie storie aan my wol te koppel, net soos wynmakers met hul wyn maak. As jy na ’n wynbottel kyk, sien jy altyd ’n storietjie van die wynplaas op die etiket. Ek wil dit graag met wol doen.” Hy meen sulke tipe betrokkenheid by die waardeketting sal sorg dat jy ook weet wat die markvraag is.

“Ek het byvoorbeeld nou my skeerproses tot tien maande verleng sodat ek ’n langer wol kon aanbied, soos die vraag tans in Europa is.”

Vermeulen sê boere moet seker maak die Verantwoordelike Wolstandaard (“Responsible Wool Standard”, oftewel RWS) is by hul boerderye betrokke sodat hul produkte aan internasionale standaarde voldoen.

“As ek byvoorbeeld nie daaraan voldoen het nie, sou Marzotto nooit my wol aangekoop het nie. Ek dink boere sal binnekort besef dat hulle finansieel geraak word as daar nie ’n mate van deursigtigheid in hul boerdery is nie. Op die ou end is dit geld wat sal maak dat boere dit heroorweeg.”

Hy sê as boere byvoorbeeld nie aan die RWS se standaarde voldoen nie, sal hulle met laer pryse op die mark tevrede moet wees.

In die kraag van die pak is die plaas se naam, die naam van die Italiaanse tekstielvervaardiger en die datum wat die pak aan hom oorhandig is.
Die Marzotto-ettiket binne in Diederik se spogpak.
Meer oor:  Wolbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.