Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Klein-Karoo: Hervestiging van boorde bring hoop

Die ongenaakbare droogte woed steeds voort in die Klein-Karoo en vrugteboere daar tob oor ’n onsekere toekoms. ’n Droogtehulpprojek wat boere met nuwe boordaanplantings help, bring egter nuwe hoop in moeilike tye. Elise-Marie Steenkamp van die sagtevrugtebedryfsliggaam Hortgro vertel meer daaroor. Carmé Naudé het die foto’s geneem. 

Die vrugteboere Jaer Jafta en Niël Joubert van die Klein-Karoo is weer vol hoop nadat hulle gehoor het hulle kwalifiseer vir die droogtehulppakket wat nuwe boordaanplantings op hul plase beteken. Foto’s: CARME NAUDE

Snags, terwyl ander slaap, lê die vrugteboere van die Klein-Karoo wakker.

Hulle tob oor die pad vorentoe. By watter boorde moet hulle die krane toedraai? Watter blokke moet gered word? Watter moet afgekap word?

Indien hulle weer aanplant, watter kultivars gaan dit wees? Die vrae bly maal en klinkklare antwoorde bly ontwyk.

Op plase in die streek hoor jy oral dieselfde storie: “My pa is 82 en boer sy hele lewe hier. Nog nooit het hy so ’n droogte soos wat ons nou het, beleef nie.”

Of: “ . . . die afgelope jare se droogte is ongekend. Ek boer al sedert 1980 en het al ’n paar rowwe situasies hanteer. Maar so iets, nog nooit nie.”

Genadelose droogte

Terwyl groot dele van die land verlede jaar met goeie reën geseën is en die langdurige droogte plek-plek gebreek is, bly die Klein-Karoo tussen Montagu en Oudtshoorn kurkdroog.

Dawie van Deventer, wat met perskes tussen Montagu en Barrydale boer, is voorsitter van die Poortjieskloofdam wat ongeveer 16 produsente met 270 hektaar gewasse van besproeiingswater moet voorsien. In 2018 kon hul slegs 60% water kry vir besproeiing.

Mariette Kotze, Hortgro se operasionele groepsbestuurder, en Dawie van Deventer, wat met perskes tussen Montagu en Barrydale boer.

Die dam het in Mei 2019 laas water gehad en is tans dolleeg. “Nogal vreemd om voorsitter te wees van ’n leë dam,” sê hy oor die ironie.

Van Deventer se plaasgrond lê in twee dele van die droogtegeteisterde gebied. Die een plaas val binne die Breërivierbesproeiingskema en hy kry net-net genoeg water om boorde staande te hou. Die ander grond waarop hy boer lê aan die Poortjieskloof-kant, sonder water.

Van Deventer sê hy het laas in 2016 ’n ordentlike oes gehad. Intussen maak produsente staat op boorgatwater wat ongelukkig redelik brak is. “Brakwater is sleg vir die grond en die boom,” vertel hy tydens ’n besoek aan sy plaas onlangs.

Hulp en hoop

Hy is egter een van die vrugteprodusente in die gebied wat weer hoop het. Die hoop het gekom in die vorm van nuwe boordaanplantings wat moontlik gemaak is deur ’n droogtehulppakket van die sagtevrugtebedryfsliggaam Hortgro en die Wes-Kaapse department van landbou.

Die nuwe vrugtebome vir die heraanplantings in die Klein-Karoo, wat vanaf die Stemmet-kwekery in Montagu verkry is.

Altesaam R1,1 miljoen is bewillig om vrugteboere te help om heraanplantings te doen en as ekonomiese inspuiting vir die droogtegeteisterde Klein-Karoo te dien.

“Ek kan nie in woorde uitdruk wat hierdie heraanplantings vir my beteken nie,” sê hy oor die hulp wat ontvang is.

“Dit gee ’n mens weer moed om aan te gaan. Om te herbesin oor hoe om in die streek te boer en meer gepaste kultivars vir hierdie omstandighede te plant.”

Van Deventer meen die sleutel tot die toekoms van landbou in die streek is water. “Geld kan hierdie storie nie regmaak nie, net water kan. Ons moet eenvoudig oplossings vind om water vir die streek te verseker en verantwoordelik te bestuur.”

Blik op boere

Ook Pieter van der Merwe van Spera, buite Ladismith, sê die finansiële hulp om nuwe aanplantings te maak, maak ’n dramatiese verskil. “Ons het ongeveer 30% van ons boorde weens watergebrek verloor. Ons is maar een plaas in ’n heelwat groter landstreek. Die humanitêre en finansiële impak is dramaties. Vir grondeienaars, werkers, en verwante besighede.”

Niël Joubert van Warmwater, geleë tussen Montagu en Barrydale, sê produsente is ontsettend dankbaar vir elke bietjie droogtehulp wat hulle ontvang. “Of dit nou ’n kospakkie is of iets anders, as mens êrens rande spaar kan jy darem ’n Eskom-rekening betaal of nog ’n sakkie kunsmis koop.”

Joubert sê dit is die sesde seisoen in vyf jaar wat hy nie genoeg water vir sy vrugtebome het nie. Normaalweg kry hulle reënval van ongeveer 400 mm tot 450 mm per jaar. “Verlede jaar het ons minder as 250 mm gehad. Die effek op bome is vanselfsprekend. Om te oorleef moes ons bome afsaag.”

Joubert het 44% van sy boorde verloor. “Jy kan seker vra het ek te veel geboer?” sê hy. “Maar al die ouer mense in die streek sal jou sê dat hulle nog nooit ’n droogte gehad het soos dié een van die afgelope ses jaar nie.”

Joubert het in Desember ’n boord Bulida-appelkose geoes. “Ons het ná die oes nog een keer water gegee en daarna die kraan toegedraai, sodat ek my Ruby Star en September Yummy’s aan die gang kon hou.” Teen einde Desember was die watersituasie só benard dat hy ook vir die September Yummy’s die kraan moes toedraai.

Met die hervestigingsfonds beplan Joubert om appelkose te plant. “Juis omdat appelkose goed vaar in die Klein-Karoo en hulle vroeg in die seisoen geoes word – dit beteken dat jy jou water(verbruik) baie vinniger minder maak.”

Hy ondersoek ook die moontlikheid om vroeë pruime te plant wat in die eerste week in Desember ryp word – om dieselfde redes as appelkose.

“Jy wil na-oes-bemesting gee en sorg dat jy genoeg water bymekaarmaak tot April, sodat die bome die winter in ’n goeie toestand kan ingaan.”

Op hul knieë

Jaer Jafta, van die Yeyethu-bemagtigingsprojek in die Klein-Karoo, sê hulle het 6,7 hektaar se vrugtebome maar sedert 2016 is daar net nie meer water nie.

“Die droogte het ons deur die knieë geskiet. Dit is nie lekker om twee kratte perskes van drie hektaar bome te pluk nie,” verduidelik hy.

Jafta en die ander 16 begunstigdes is ontsettend dankbaar vir die hersvestigingsfonds waarmee hulle beplan om Sandvliet-perskes te plant.

“ ’n Perskeboom is nie sommer iets wat doodgaan nie, hy kan die druk vat. Sandvliet is ook ’n perskekultivar wat vroeg in die seisoen ryp word. Ons sien nou weer uit na die toekoms en verder hoop ons opreën.”

In 2019 het die boerevereniging van die Ladismith-streek bereken dat daar weens die droogte altesaam R30 miljoen se lone in die slag gebly het. Altesaam 1 000 gesinne is deur die arbeidskrisis geraak en 300 hektaar vrugtebome was reeds afgekap.

Geld wat gewoonlik teruggeploeg is in landelike ekonomieë het opgedroog en verskeie ondernemings op die dorp het in die slag gebly.

Bedryfsrolspelers help

Te midde van die landbou- en humanitêre krisis wat in die gebied dreig, het Hortgro ingespring en in Desember 2019 saam met ander vennote meer as 1 000 kospakkies aan landbouwerkers en produsente wat deur die droogte geraak is in die Klein-Karoo uitgedeel.

Dit is met ’n loonhulpskema aan landbouwerkers opgevolg om produsente daar finansieel by te staan om sodoende deur die produksieseisoen te kom. Fondse is ook beskikbaar gestel vir die beheer van gewasbeskerming in die streek.

Jaer Jafta, van die Yeyethu-bemagtigingsprojek in die Klein-Karoo.

Daarbenewens het Hortgro ook ’n werkwinkel vir landbouprodusente en landbouwerkers in Ladismith gehou om hulle geestelik met hanteringstrategieë te bemagtig.

Sedertdien word die situasie voortdurend gemonitor, sê Mariette Kotze, Hortgro se operasionele groepsbestuurder. Veral steenvrugprodusente in die Klein-Karoo vanaf Montagu, Barrydale, Ladismith, Calitzdorp tot by Prins Albert kry baie swaar. Sommige het hul plase verloor en honderde landbouwerkers sit ook sonder inkomste en werk.

“Die hervestiging van boorde is reeds aan die gang, en tot op hede is reeds tien hektaar aangeplant. Ons hoop om gedurende die jaar sowat 32 hektaar vrugteboorde aan te plant.”

Sy meen dit is belangrik om na die werklike waarde van die produk te kyk.

“Daar is ’n rimpeleffek vir elke appelkoos wat gepluk word: Vir elke een persoon wat in die landbou werk word vier ander mense onderhou. Wanneer die werk wegval, het dit ’n yslike sosio-ekonomiese impak op ’n streek.”

Laaste sê

Volgens Kotze dek die staat se ramphulpfonds nie langtermyngewasse nie. “Vir vrugteboere is dit ’n oorlewingstryd. Die boordhervestigingsfonds bied darem ’n mate van hoop en help produsente om hul koppe weer op te lig.”

Volgens Kotze moes produsente aansoek doen en motiveer hoekom hulle vir boordhervestigingshulp kwalifiseer.

“Ons het mooi na langtermynbeplanning gekyk, kultivarseleksie en wat die groter ekonomiese impak sal wees. Die droogte is nog lank nie verby nie en dit gaan nog heelwat insette of baie reën verg voordat hierdie streek sal herstel.”

  • Hierdie artikel het oorspronklik op www.hortgro.co.za verskyn.
Meer oor:  Klein-Karoo  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.