Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kom ‘proe’ landbou eersdaags op Stellenbosch
Buks Nel, ’n bekende appelkenner van Tru-Cape, gaan vanjaar by ’n proesessie by die Woordfees optree.

Die landboubedryf en die gehalteprodukte wat boere op eie bodem produseer, word binnekort in die kollig geplaas op die US Woordfees wat vanjaar van 6 tot 15 Maart in die Eikestad gehou word.

’n Reeks interessante proe-ervarings waar landbou bevorder en aan ’n wyer gehoor bekend gestel word, word as deel van die vyfde jaarlikse Agri-Expo Landbouproe-reeks op dié fees aangebied.

Besoekers kan uitsien na onder meer proesessies met goeie vonkelwyn, spesialiskase, ’n sessie oor voedsel met integriteit, bobaaslamsvleis van Konsortium-Merino, ’n sagtevrugtefynproe met van die land se voorste vrugtekenners, ’n proe-ervaring met dubbelgoue Veritas-wyne, sowel as sessies waar die Standard Bank Chenin Blanc toptienwyne en ander bekroonde wyne bedien gaan word.

Hiermee meer oor die agt proesessies wat vanjaar deur bekende kos- en wynkenners by die Woordfees aangebied gaan word:

Vrydag 6 Maart, 12:00:Proe die wenners van die Standard Bank Chenin Blanc Toptien-uitdaging

Suid-Afrika het meer chenin blanc-wingerde as enige ander land ter wêreld.

Proe van dié chenin blanc-uitdaging se toptienwenners en vind self uit waarom hierdie veelsydige wynvariëteit se gewildheid oor die wêreld heen toeneem.

Saterdag 7 Maart, 12:00:’n Watertandlekker-proe met Konsortium Merino en Veritas-wyne

Min dinge is so eie aan Suid-Afrika en ons erfenis as ’n lekker skaaptjoppie. Kom proe sappige Konsortium Merino-lamsvleis wat oor die kole gebraai is, voorgesit met dubbelgoue en goue Veritas-bekroonde rooiwyne. Die Kaapse wynmeester Bennie Howard bied die proe aan.

Die Konsortium-span deel in hierdie sessie hul passie vir dié skaap wat met toewyding op die oop vlaktes van die Karoo geteel word.

Sondag 8 Maart, 12:30:Kom klink die glase saam met ’n Suid-Afrikaanse gunsteling, J.C. Le Roux

Die toptienwenners van die jaarlikse chenin blanc-uitdaging is by Agri-Expo se proesessies by die Woordfees te proe.

Agter elke bottel J.C. Le Roux lê ’n verhaal van innovasie en passie – van ’n nederige begin van ’n Franse Hugenoot in die vroeë 1700’s tot die eerste en enigste toegewyde vonkelwynkelder in Suid-Afrika.

Kom geniet dié Stellenbosse kelder se wye verskeidenheidkreatiewe variëteite – van roemryke oesjaarreserwes tot gesellige gunstelinge.

Die vonkelwyne wat voorgesit gaan word, wissel van delikaat droog tot heerlik soet.

Woensdag 11 Maart, 12:00: Fairview-proe saam met Charles Back en sy beroemde kase

Charles Back, derdegenerasie-eienaar van die bekende wyn-en-kaaslandgoed Fairview, is bekend daarvoor dat hy dinge anders doen – soos die “invoer” van Mediterreense wyndruifsoorte na die Kaap en die skep van meer as 50 verskillende koei- en bokmelk-boetiekkase.

Geniet ’n informatiewe proe en ontdek die kuns om waarde tot ’n wynreeks met gehalte-landbouprodukte toe te voeg.

Donderdag 12 Maart, 12:00:Die invloed van terroir op pinotagewyne

’n Plaas se terroir (grond, klimaat, ligging en topografie) het ’n groot invloed op die uiteindelike wyn. Kom luister na wat kundiges oor die sleutelrol van terroir te sê het en proe Cape Vintners Classification (CVC) se geakkrediteerde pinotagewyne van Durbanville, Stellenbosch en Botrivier.

Vrydag 13 Maart, 12:00: ’n Sagtevrugtefynproe met die bedryfsliggaam Hortgro en kenners

Op 17 April 1662 is die eerste appels in die Kompanjiestuin aan die Kaap gepluk. En in 1892 is die eerste Suid-Afrikaanse perskes op Covent Garden-mark in Londen verkoop.

Leer meer oor die geskiedenis van vrugte en die wetenskap van vrugteboerdery by die appelkenners Buks Nel en Henk Griessel van Tru-Cape, en kom proe smake waarvan jy nog nooit gehoor het nie.

Saterdag 14 Maart, 13:15: Voedsel met integriteit

Wat is voedsel met integriteit? ’n Gesonde bord kos word bepaal deur verskeie faktore. Het die verhouding tussen mens en natuur; mens en dier; of mens en mens ’n invloed op die inhoud van hierdie bord kos?

In hierdie proesessie wil die Veldvleisvereniging van Suid-Afrika, in samewerking met Restory en Landbouweekblad, gaste motiveer om te vra en meer hieroor te leer.

Sondag 15 Maart, 12:00:Proe die topwyne van Spier

Die Stellenbosse wynlandgoed Spier is vanjaar bekroon met nege dubbelgoue en sewe goue Ve­ritas-medaljes – die beste prestasie sedert die ontstaan van dié pryse.

Dít wil gedoen wees met ’n paneel van vyf vooraanstaande internasionale en 95 plaaslike spesialiste wat 1 491 medalje-aanspraakmakers beoordeel.

Kom proe ses van Spier se dubbelgoue en gouemedalje-wenwyne saam met die keldermeester Frans Smit.

Meer oor:  Stellenbosch  |  Landbou  |  Landboubedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.